Die Mongoolse inval van Europa

Artikel

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 02 October 2019
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Italiaanse, Griekse

Die Mongoolse invalle van Rusland en Oostelike Europa het in 1223 eers met ’n vlugtige krygstog plaasgevind, en is toe later weer van 1237 tot 1242 met ’n baie groter veldtog hervat. Die Mongole, wat uit die niet blyk te verskyn het en aanstons ’n reputasie as die “ruiters van die duiwel” verwerf het, het oorwinning ná oorwinning ingepalm, en uiteindelik so ver wes as die stad Breslau in Pole gevorder. Groot stede soos Tbilisi, Kiëf en Vladimir het tot ’n val gekom en toe die Mongole die Donau-rivier bereik het, het hulle die Hongaarse stede Buda, Pest en Gran (Esztergom) verower. Nóg die Russe nóg die groter Europese magte kon hulself doeltreffend organiseer om die vyfledige aanval wat die Mongole geloods het, die hoof te bied, of om met hulle blitsvinnige kavallerie, brandbom-slingerende katapulte en terreurtaktieke af te reken. Die res van Oostelike en Sentrale Europa is slegs deur die dood van Ogedei Khan (r. 1229-1241) gered wat veroorsaak het dat die Mongole terugtrek. Ongeag die enorme lewensverlies en vernietiging was daar weens die inval wel blywende kulturele voordele soos wat die twee wêrelde van die weste en die ooste uiteindelik ontmoet het. Westelike reisigers het begin reis na Oos-Asië, ’n land wat tot dusver as ’n legendariese land van monsters beskou is – ’n siening wat die Chinese ook jeens Europa gekoester het. Met die Mongoolse inval van Europa het die wêreld aansienlik gewelddadiger geraak, en ook effens kleiner.

The Mongols Sack Suzdal
Die Mongole plunder Suzdal
Unknown Artist (Public Domain)

Ogedei Khan

Ogedei Khan het in 1229 heerser oor die Mongoolse Ryk geraak toe hy van sy vader Djenghis Khan (r. 1206-1227) ’n indrukwekkende stuk aarde in Asië geërf het. Maar reeds van die aanvang van sy bewind het twee groot probleme die nuwe khan in die gesig gestaar: Eerstens was die keiserlike skatkamer leeg en rykdom was broodnodig om die Mongoolse leër getrou te hou; en tweedens het die Mongole nou wel talle leërs verslaan en net sowel heersers onttroon maar hulle het nie veel van ’n staatsmasjien, burokrasie of regering gehad wat hulle in staat sou stel om doeltreffend oor hierdie verowerde gebiede te heers nie. Ogedei het besef dat deur die tweede probleem op te los, dit hom in staat sou stel om belastings van verowerde volke te hef wat ook van die eerste probleem korte mette sou maak. Dit is dan ook wat gebeur het en ministers en beamptes is gestuur om verskeie streke te bestuur, en toesig oor plaaslike belastinggaarders te hou. ’n Nuwe hoofstad is in 1235 by Karakorum gestig en met ’n meer bestendige staatsmasjien daargestel en die waarborg van ’n gereelde inkomste, kon die khan nou daarop fokus om sy ryk selfs verder uit te brei.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE MONGOLE HET GEHOU VAN DIE HARDE VLAKTES EN BEVRORE RIVIERE WAT DIE RUSSIESE WINTERLANDSKAP HULLE GEBIED HET AANGESIEN DIT SOORTGELYK WAS AAN DIE ONGENAAKBARE STEPPES WAARAAN HULLE GEWOOND WAS.

Die Mongole het nog altyd vir China as die rykste en invloedrykste territoriale prys beskou. In 1230 was China in twee groot state verdeel: die Jurchen Jin-staat in die noorde en die Song Dinastie (960-1279) in die suide. Ná veldtogte van 1230 tot 1234 het die Jin-staat in duie gestort maar die Song is vir ’n latere stadium gelos. Nou het Ogedei hom eerder na die weste gekeer.

Verowering van die Weste

Die Russiese vorstedomme

Die leërs van Djenghis Khan het oor westelike Asië gestroom, ’n draai om die Kaspiese See gegooi en in 1223 selfs ’n Russiese leër by Kalka, Oekraïne verslaan maar nou was baie van die verowerde state in die geweste nie juis gretig om aan die khan die tribuut te betaal wat van hulle verwag is nie. Gevolglik het Ogedei ’n leër gestuur om hulle te oortuig, en regdeur die 1230’s het die Khwarazm Ryk die ergste onder Ogedei se toorn gebuk gegaan. In 1235 is noordelike Irak binnegeval. Die een oorwinning ná die ander het gevolg en die Mongoolse leërs het in 1238 Azerbeidjan, Georgië en Armenië binnegedring en die gefortifiseerde dorpe van die streek algaande uitgeput en stede soos Tiflis (Tbilisi) verower en tribuut van plaaslike prinse afgedwing.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Genghis Khan's Empire
Djenghis Khan se ryk
Arienne King (CC BY-NC-SA)

In ’n veelledige en interkontinentale aanval op Eurasië en Oostelike Europa vanaf 1236 het nog ’n leër deur Kazakstan/Oezbekistan opgeruk en die Basjkirs en Bulgare onderweg verslaan, om daarna die Russiese vorstedomme oorkant die Volga-rivier in die winter van 1237-8 aan te val. Die Mongole het gehou van die harde vlaktes en bevrore riviere wat die Russiese winterlandskap hulle gebied het aangesien dit soortgelyk was aan die ongenaakbare steppes waaraan hulle en hulle kragtige perde gewoond was. In 1237 is die stad Riazan van 16 tot 21 Desember beleër; die verskriklike lot van die inwoners word soos volg in die Voskresensk Kroniek beskryf:

Die Tartare het die burg Riazan ingeneem en dit alles afgebrand en die prins Yuri en sy prinsesse doodgemaak en sy manne, vroue en kinders, die monnike, nonne en priesters aangekeer; sommige het hulle met die swaard neergevel terwyl hulle ander met pyle deurboor en in die vlamme geslinger het; ánder het hulle gegryp en vasgebind, hulle liggame oopgekloof en ontwy.

(aangehaal in Turnbull, 45)

Die verskrikking van Riazan is weer en weer herhaal soos die Mongole geen genade getoon het nie en die Russiese prinse, geteister deur voortslepende vyandelikhede, nie eers in hierdie groot nood kon saamstaan nie. Volgende was dit Moskou – destyds nie die groot stad wat dit later sou word nie – se beurt om in ligte laaie gelaat te word, en daarna Suzdal in 1238, en uiteindelik is Vladimir, die gefortifiseerde hoofstad, beleër. Groothertog Yuri II het uit die stad gevlug en sy vrou en seuns agtergelaat om die aanval die hoof te bied. Nadat hy sy leër bymekaar gemaak het, het groothertog Yuri teruggekeer en die stad probeer ontset maar dit het reeds op 7 Februarie voor die aanslag van die Mongoolse stormramme en katapulte geval, die katedraal aan die brand gesteek. By die Slag van Sit-rivier is die hertog se leër verslaan, en het hy self omgekom. Ramp het op ramp gevolg. Torshok was nog ’n stad wat, hierdie keer ná ’n uitgerekte weerstand, op 23 Maart 1238 tot ’n val gebring is. In teenstelling daarmee het Novgorod met die aankoms van lente ’n aanval vrygespring, en die Mongoolse leër het uiteindelik omgedraai en teruggetrek na noord van die Swartsee.

Verwyder Advertensies

Advertisement

In 1239 is Oekraïne deur ’n derde golf Mongole binnegeval, die Polovtsiërs is verslaan en Kiëf is op 6 Desember 1240 ná ’n kortstondige beleg verower. Net soos wat elders die geval was, is die inwoners van Kiëf met die swaard gedood. Giovanni de Piano Carpini, afgesant van die Pous, het ses jaar later deur die gebied gereis en die volgende sprekende opmerking gemaak:

Terwyl ons deur daardie land gereis het, het ons tallose skedels en beendere van dooie mense aangetref wat oor die grond versprei gelê het. Kiëf was ’n baie groot en digbevolkte stad gewees maar nou was dit tot byna niks ten onder gebring.

(aangehaal in Turnbull, 49)

Van Kiëf het die Mongoolse leër deur Galicië en Podolië opgeruk en voort na Oos-Europa, met een flank wat noordwes beweeg en ’n aanval teen Pole geloods het, deur Bohemië en Morawië gemarsjeer en toe Hongarye aangeval het, terwyl ’n ander flank suidwaarts koers gekry en Transilvanië, Moldawië en Walachye aangeval het. Hongarye is as primêre teiken gekies weens die grasvlaktes wat die Mongole as perfekte basis vir hulle perde beskou het, van waar hulle dan Wes-Europa kon aanval.

NÁ DIE SLAG VAN LIEGNITZ HET DIE MONGOOLSE KRYGERS NA BEWERING NEGE SAKKE VOLGEMAAK MET HULLE GUNSTELINGTROFEE – DIE ORE VAN HUL SLAGOFFERS.

Pole

Verwyder Advertensies

Advertisement

Poolse dorpe is aan die brand gesteek en die vername stad Krakow is maklik verower (1241) nadat die prins van die stad, Boleslaw die Kuise (1226-1279) dit prysgegee het, met die reeds bekende roetine van massaslagting en plundery wat kort daarna gevolg het. ’n Trompetblaser wat eerste alarm gemaak het oor die invallers se aankoms is met ’n Mongoolse pyl in die keel geskiet en tot vandag toe word hierdie gebeurtenis (sonder die pyl) op die stadsmure gedramatiseer. Breslau was volgende maar die inwoners was so vreesbevange van wat sou gebeur dat hulle die stad self aan die brand gesteek en in die kasteel se katedraal skuiling gaan soek het. Die stad is begenadig toe die Mongoolse bevelvoerders in 1241 tyding ontvang het van ’n groot Poolse leër wat onder aanvoering van Henry die Vrome, hertog van Silesië (r. 1238-1241) besig was om te versamel. By Wahlstatt naby Liegnitz (Legnica) het hierdie leër Pole, Duitsers en Teutoonse ridders onder die swaar kavallerie ingesluit. Die Mongoolse leër het gehaas om hulle op 9 April die stryd aan te sê, hulle beproefde taktiek van ’n geveinsde terugval ingespan, en toe aangeval onder dekking van rook verskaf deur riete wat in die omgewing aan die brand gesteek is. Weereens het die Mongole die opposisie vermorsel. Henry is gedood en sy kop op ’n spiespunt geparadeer, en die Slag van Liegnitz het ’n hoogtepunt van die Mongoolse invalsveldtog geraak; dit was ook die mees westelike punt wat hulle bereik het. Ná die veldslag het die Mongoolse krygers na bewering nege sakke met hulle gunstelingtrofee volgemaak – die ore van hulle slagoffers.

Hongarye

Dieselfde tyd wat Pole onder die aanslag gebuk gegaan het, het Hongarye hulle ook in die visier van die Mongole bevind. ’n Veelledige aanval is in 1241 geloods, met ’n leër wat deur Morawië in die noorde beweeg het en nog drie wat hulle weg deur en om die Karpate in die weste gebaan het. Die mees westelike Mongoolse leër het Moldawië en Walachye diep binnegedring, en toe geswaai om Hongarye vanuit die suide binne te val. ’n Hongaarse leër onder leiding van hulle koning Bela IV (r. 1235-1270) het gemobiliseer om die invallers in oop terrein die stryd aan te sê.

The Mongols Pursue King Bela IV
Die Mongole op die hakke van Bela IV
Unknown Artist (Public Domain)

Koning Bela was miskien in bevel van een van die beste leërs in Europa maar buiten die Mongole het hy ander probleme gehad aangesien baie van sy misnoegde baronne se lojaliteit teenoor die kroon in twyfel getrek kon word. Nóg ’n probleem was Polovtsiërs wat voor die Mongoolse aanslag verder oos gevlug het en nou amok gemaak het terwyl hulle die Hongaarse geweste na willekeur geplunder het. Hoe dit ook sy, Bela se leër is op 10-11 April by die Slag van Mohi (hedendaagse Muhi) aan die Sajo-rivier totaal verslaan nadat die Mongoolse bevelhebber Subutai (1175-1248) sy manne die rivier met ’n pontonbrug laat oorsteek het en hulle deur ’n moeras beweeg het om die Hongare te omvleuel. Op dieselfde tyd het Mongoolse katapulte die vyand van die oorkantste oewer van die rivier bestook. Bela IV het na die veiligheid van Pressburg (Bratislawië) en toe Kroasië gevlug. Intussen het die Mongoolse leërs onverpoos opgeruk en in die eerste week van April het almal by die Bonau-rivier bymekaargekom. In 1241 is sowel Buda as Pest vermeester en geplunder – laasgenoemde nogal op Kersdag – maar die groter prys was Gran (Esztergom) wat destyds die grootste en rykste stad in die geweste was. In die daaropvolgende beleg wat ook op Kersdag 1241 begin het, het die Mongole 30 katapulte ingespan, en kort daarna het die stad tot ’n val gekom. Die invallers het toe die Donau weswaarts gevolg maar by Wiener Neustadt het ’n leër onder aanvoering van hertog Frederick II van Oostenryk (r. 1230-1246 ) die Mongole minstens laat besin om verder te gaan.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Terugval

Intussen het nóg ’n Mongoolse leër vir Bela tot in Kroasië agternagesit, Zagreb onderweg geplunder en toe aanbeweeg na Bosnië en Albanië, en uiteindelik koers gekry na die Kaspiese See en Sarai, wat toe die hoofstad geword het van wat later as die “Goue Horde” bekend sou staan. Die noordelike Mongoolse magte het ook ’n skielike ommekeer gedoen maar hierdie verligting was waarskynlik nie weens enige vyandelike beweging of bedreiging nie maar as gevolg van die gewigtige tyding wat ten einde laas vanuit Mongolië oor Asië deurgesyfer het. Ogedei Khan het op 11 Desember 1241 gesterf en nou moes ’n troonopvolger gekies word. Die senior bevelvoerders is benodig om in ’n tradisionele ontmoeting van al die Mongoolse stamme die verkiesing van ’n nuwe khan te bespreek en vir die volgende een te stem.

Daar was moontlik ook ander redes vir die beëindiging van die veldtog in 1241 – moontlik die nou oorspanne kommunikasie vanaf die Mongoolse hoofstad te Karakorum, of dalk omdat die grasvlaktes van Hongarye nie heeltemal voldoende blyk te gewees het om ’n massiewe Mongoolse leër te onderhou nie. Verder was daar ook vyandelikhede onder die Mongoolse leiers en nou, met Ogedei dood, kon geen enkele bevelvoerder staatmaak op die ondersteuning van sy medestryders in ’n stryd so ver van die huis af nie. Hoe dit ook sy, die prys waarna die Mongole die meeste gehunker het, het eerder in die ooste, nie die weste nie, gelê: die Song Dinastie China (960-1279) wat tydens die bewind van die volgende groot Mongoolse heerser, Kublai Khan (r. 1260-1294), aangeval en verower is.

Waarom was die Mongole so suksesvol?

Die Mongoolse leër het verskeie voordele in hulle veldtog teen die Russe en Europeërs geniet. Eerstens was hulle onbekend. Ten spyte van die Slag van Kalka in 1223 het die Westerlinge steeds geen idee gehad waarmee hulle te doen het nie; soos wat die Novgorodiese kroniekskrywer dit so kennelik gestel het: “By die Dnieper-rivier het hulle teruggedraai, en ons het nie geweet waarvandaan hulle gekom het, of waarheen hulle gegaan het nie.” Een en ’n halwe dekade later was daar steeds geen verdere inligting ingewin gewees nie.

Mongol Warrior Reconstruction
Herkonstruksie van ’n Mongoolse kryger
William Cho (CC BY-SA)

Hulle was ekspertboogskutters wat met hulle saamgestelde boë ver kon skiet, en uiters geharde soldate wat dae lank met die minimumkos en -water kon aanhou ry. Hulle bonkige maar vlugvoetige perde was ’n wapen op hul eie en in staat om strawwe temperature te oorleef. Die Mongole het sowel ligte as swaar kavallerie gehad, en elke ruiter het tot 16 spaarperde gehad wat hulle ruim bestek vir maneuvreerruimte gelaat het. Gevolglik kon die Mongoolse leër baie vinnig oor enorme gebiede beweeg. Daarbenewens het hulle streng skedules ingestel waarvolgens verskillende divisies van ’n leër sou verdeel, op verskillende plekke met die vyand slaags raak en weer by ’n gespesifiseerde ligging bymekaarkom. Dit is weens hierdie rede wat moderne veldtogkaarte van die Mongoolse inval dikwels soos ’n bord spaghetti lyk, soos wat talle leërs in alle rigtings ontplooi het.

Boonop het die Mongole nooit die geleentheid laat verbygaan om self van vyandelike taktieke en tegnologie gebruik te maak nie. Nie slegs het hulle oorlogvoering met ’n verwoede mobiliteit benader nie maar te danke aan hulle plooibaarheid het hulle ook vinnig by ander soorte oorlog aangepas, byvoorbeeld belegoorlogvoering en die gebruik van buskruitmissiele en katapulte – alles baie ver verwyder van die tradisionele nomadiese oorlogstyl. Die Mongole het teen Europese ridders te staan gekom maar hierdie elite-krygers blyk van die maklikste vyande te gewees het waarmee die Mongole moes afreken. Die ratser Mongoolse kavallerie het eenvoudig nie lank genoeg standgehou vir ’n groep ridders om hulle met hul eie swaar perde te stormja nie.

Nóg ’n voordeel was dat die Mongole geweet het hoe om interne verdeeldheid onder die vyand uit te buit en ou vyandelikhede aan te wakker wat bondgenootskappe kon ondermyn – inligting wat dikwels deur spioene en handelaars bekom is. Laastens was daar die motivering want Mongoolse oorlogvoering was bedink met net een doel voor oë: om buit te plunder.

Nog ’n suksesvolle wapen was sielkundig van aard: terreur. Djenghis Khan het die taktiek uiters doeltreffend gebruik en mans, vroue en kinders van verowerde stede afgemaai en so ander stede kragdadig oortuig om oor te gee uit vrees dat dieselfde lot hulle sou tref. Die doelbewuste vrylaat van ’n paar gevangenes wat van die massaslagting van onskuldiges getuie was, het wondere verrig onder aanliggende nedersettings. Die Mongole het onder aanvoering van Ogedei dieselfde taktieke ingespan. Nog ’n geheel en al gewetenlose taktiek was om gevangenes as menslike skilde te gebruik wanneer Mongoolse troepe teen ’n gefortifiseerde stad opgeruk het wat onwys genoeg was om weerstand te bied; en selfs om gevangenes soos Mongoolse krygers aan te trek en hulle in die voorste geledere te plaas sodat die verdedigers hulle kosbare pyle op die uitdelging van hulle eie volksgenote verkwis het.

Mongol with Horse & Camel
Mongool met perd en kameel
Metropolitan Museum of Art (Copyright)

Laastens het die Mongole een van die beste militêre bevelvoerders van alle tye gehad, naamlik Subutai Ba’adur (1176-1248). Met die ruim ervaring wat hy reeds tydens sy veldtogte onder Djenghis Khan teen die Xia- en Jin-state in Oos-Asië opgedoen het, was die generaal die opperveldbevelvoerder van die magte wat westelike Asië en oostelike Europa binnegeval het, al was Batu – ook bekend as Bat-Qan (ca. 1205-1255), nefie van Ogedei Khan – die kopstuk van die veldtog. Na bewering was Subutai te vet om op ’n enkele ponie te ry, sodat hy in ’n rytuig gereis het, maar vanuit dié het die bevelvoerder met selfvertroue die bevel oor sy manskappe gevoer, met sy ingryping by die Slag van Mohi besonders deurslaggewend.

Nalatenskap: ontmoeting tussen Wes en Oos

Die Mongoolse leërs het dalk in 1242 eensklaps omgeswaai maar die impak van hulle inval het hulle relatief kort militêre teenwoordigheid lank oorleef. Heel eerste word die doodslag, vernietiging en gedwonge verplasing van mense baie hoog in enige lys onmiddellike gevolge gereken. Terwyl Europa soos voorheen voortgegaan het in terme van magstrukture en heersers, het die invalle in Rusland en enorme dele van westelike Asië die status quo omvergewerp en hierdie plekke het vir langer as ’n eeu onder die “Tartaarse juk” gebuk gegaan. Maar die verguising van die Mongole deur Russiese kroniekskrywers en selfs latere geskiedkundiges stem nie noodwendig ooreen met die werklikheid van ’n invalsmag wat sommige stede verower het maar ander heeltemal geïgnoreer het, en wat nooit ’n nuwe politieke struktuur van hul eie tot stand gebring het nie. Gevolglik kon baie Russiese prinse ná die inval met ’n groot mate van outonomie heers. Alexander Nevsky, prins van Vladimir (1221-1263), is maar net een voorbeeld, en sy suksesvolle veldtogte teen die Sweedse en Duitse ridders in 1240 illustreer dat Rusland ver van uitwissing deur die Mongoolse inval was.

Daar was ’n tweede golf gevolge – langsamer van aard en subtieler – maar nogtans nie onbenullig nie. Europa het baat gevind by die verspreiding van idees wat die inval van die Mongole vergesel het en wat die noodsaaklike fisiese skakel tussen die Ooste en die Weste verskaf het. Buskruit, papier, drukwerk en die kompas het alles in Europa bekend geraak. Westerlinge het by wyse van ambassadeurs, pouslike afgesante, sendelinge en reisigers soos Marco Polo (1254-1324) almal self die wêreld van Oos-Asië gadegeslaan en net soveel nuttige idees as verdigsels met hulle teruggebring. Die wêreld het as’t ware ’n bietjie kleiner geraak maar daar was ook negatiewe gevolge tot hierdie toename in kontak, vernaamlik die verspreiding van die Swart Dood (1347-1352) wat van ’n uithoek in China na die Swartsee versprei het, en van daar na Venesië en die res van Europa. Die vernietigende plaag sou regdeur die 14de eeu in opeenvolgende vlae weer en weer toeslaan, en die ongevalle wat die Mongoolse hordes ’n eeu vantevore veroorsaak het, oorskadu.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2019, October 02). Die Mongoolse inval van Europa [The Mongol Invasion of Europe]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1453/die-mongoolse-inval-van-europa/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Mongoolse inval van Europa." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig October 02, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1453/die-mongoolse-inval-van-europa/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Mongoolse inval van Europa." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 02 Oct 2019. Web. 14 Aug 2022.