Die Skithiërs

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$950 / $3000

Definisie

Patrick Scott Smith, M. A.
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 18 March 2021

Oorspronklike teks in Engels: Scythians

Scythian Funeral Procession (by The Creative Assembly, Copyright)
Skithiese begrafnisstoet
The Creative Assembly (Copyright)

Die Skithiërs was ’n nomadiese volk wie se kultuur tussen die 7de en 3de eeu VHJ gefloreer het in ’n gebied wat van Thracië in die weste, regoor die steppe van Sentraal-Asië tot by die Altai-berge van Mongolië in die ooste gestrek het. Dit dek ’n area wat ongeveer 4 000 km ver is. Die geografie van die steppe met die oop vlaktes, die woestynsteppe en die grensloosheid van die woudsteppe het ’n herderlike bestaan bevorder, eerder as ’n gevestigde tipe lewe wat landboukundige produksie behels het. Gevolglik het hulle nie baie stedelike sentra gehad nie maar eerder ’n nomadiese lewenstyl van perdry, die omsien na kuddes en ’n lewe in bedekte waens gehandhaaf.

Oorsprong

DIE SKITHIËRS HET ’n GEMENE KULTURELE IDENTITEIT GEHAD WAARAAN HULLE IN HUL BESTAAN AS KRYGERSWERWERS, HULLE REGERINGSVORM EN HULLE UNIEKE KUNS EN KLEREDRAG UITING GEGEE HET.

Alhoewel daar baie oor die oorsprong van die Skithiërs gedebatteer word, “voer Herodotus aan, en die meeste moderne vakkundiges stem saam, dat hulle deur middel van die groot steppekorridor (weswaarts) vanuit Asië in Europa in beweeg het” (A Yu Alexeyev, Scythians, 23). Herodotus skryf in die 5de eeu VHJ dat die Sarmate van die Swartsee-Skithiërs weggebreek en ooswaarts getrek het. Tog meld die Griekse geskiedkundige Diodorus Sikulus in die 1ste eeu VHJ dat die Skithiërs eers noord vanaf die Araksrivier van Armenië getrek het. En aangesien Chinese kroniekskrywers uit die 1ste eeu HJ na hulle rooi hare en blou oë, hulle Kaukasiese gelaatstrekke en Indo-Europese taal verwys, word ’n oorsprong in die weste tydens die Bronstydperk – waarskynlik van die Kelte – gesteun. Maar onlangse argeologiese opgrawings by Tuva in die Altai-berge, wat Skithiese nedersettings na ongeveer die laat 9de eeu VHJ terugvoer, doen ’n vroeë oorsprong in die ooste aan die hand, terwyl nog ’n moderne siening is dat hulle suid “vanaf die Volga-Ural-steppe na die noorde van die Swartsee getrek het” (AI Melyukova, Scythians and Sarmatians, 99).

Verwyder Advertensies

Advertisement

In ag genome die vloeibaarheid van beweging wat die Sentraal-Asiatiese steppe moontlik maak, is dit nie ’n verrassing dat soveel aangetekende migrasies vanuit verskillende oorde dit moeilik maak om ’n oorsprong presies vas te stel nie. Uiteindelik is dit heel moontlik dat daar, ná ’n verreikende uitbreiding vanuit die weste, daaropvolgende migrasies vanaf verskeie punte van herkoms was. Alhoewel daar oor die oorsprong van die Skithiërs gedebatteer word, identifiseer ’n algemene konsensus hoofsaaklik vier hoofgroepe waaruit hulle kulture bestaan het:

  • Pontiese Skithiërs, in die geweste van die Swartsee;
  • Sarmate vanaf die noordelike Kaspiese See en die geweste van die Don- en Volgarivier in hedendaagse Rusland;
  • Massagetae in die woestynsteppe van Sentraal-Asië; en
  • Sakā in oostelike Sentraal-Asië.

Al vier het ’n gemene kulturele identiteit gehad waaraan hulle in hul bestaan as krygerswerwers, hulle regeringsvorm en hulle unieke kuns en kleredrag uiting gegee het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Skithiese oorlogvoering

Skithiese militêre toerusting het ’n wye reeks wapens ingesluit. Benewens berede boogskutters het hulle ook strydbyle, knotse, lanse, swaarde, skilde en – vir persoonlike beskerming – geskubde harnasse en helms gebruik. Weens hul gemeenskaplike vermoë om aan die gang te bly, en met hulle ratse kavallerie het Herodotus (Histories, 4.46) die Skithiërs as “onoorwinbaar en onmoontlik om te nader” beskryf. Met sodanige wapens en taktiese vermoëns is dit geen verrassing nie dat verskillende nasies dikwels die gebruik van Skithiese militêre dienste versoek het.

In 490 VHJ het berede Sakā-boogskutters die Perse teen die Grieke by die Slag van Marathon gehelp, en weereens in 479 VHJ by die Slag van Plataea. Insgelyks was Skithiese krygers onder diegene wat in 331 VHJ by Darius III (r. 336-330 VHJ) se leër teen Alexander die Grote (356-323 VHJ) by die Slag van Gaugamela aangemeld het. Appianus (Mithridatic Wars, 17.119), die Romeinse geskiedkundige, wys dat “Skithiese prinse” vanaf die Swartsee in 63 VHJ instrumenteel was in Pompejus (106-48 VHJ) se oorwinning oor Mithridates VI (r. 120-63 VHJ). Daarbenewens het die Skithiërs – verwant aan en bure van die Parthiërs – laasgenoemde tot hulp gesnel toe die Parthiese koning Sinatruse I (r. ca. 75-69 VHJ) ná dinastiese probleme met Skithiese hulp op die troon geplaas is. Volgens Cassius Dio (57.26) het die Skithiërs ook ’n sleutelrol gespeel om Artabanus II (r. 12-38/41 HJ), wat self half-Skithies was, te help om Armenië vir Parthië in te palm. Tacitus steun hierdie aanspraak deur te wys dat Artabanus “hulptroepe in Skithië gemonster het” voordat hy tot die stryd toegetree het (Annals, 6.44.1).

Verwyder Advertensies

Advertisement

Scythian Warriors
Skithiese krygers
1900 edition of Encyclopedie Larousse Illustree (Public Domain)

Die Skithiërs was egter nie net koningmakers of magtige bondgenote nie. Skithië se skitterendste oorwinning was waarskynlik teen die Persiese Achaemenid Ryk. Met ’n uitputtingstrategie – deur die vyand al dieper in ’n vriendelike gebied in te lok, hul voorraadlyne yl te strek en met toeslaan-en-terugtrek- en nederlaagtaktieke toe te slaan, waarna pyle vanaf perderug korte mette van die opponent gemaak het – het die Skithiërs Darius die Grote (r. 522-486 VHJ) se inval in Skithiese gebied gefnuik. Dit het aan hulle die reputasie besorg dat hulle onoorwinbaar is. Ateas (429-339 VHJ), koning van die Pontiese Skithiërs, het daardie sukses aangevul deur Skithiese belange na Thracië uit te brei en Skithië se mees westelike reikwydte van die Don na die Donau aan te skuif.

Ná Ateas se nederlaag en dood deur die toedoen van Phillip II van Macedonië (r. 359-336 VHJ) in 339 VHJ, en nadat hulle by die Jaxartesrivier deur Alexander die Grote in ’n lokval gelei is, kon die Skithiërs se reputasie as onoorwinlik nooit heeltemal herstel nie. Nog terugslae het gevolg toe die Skithiërs die Griekse monopolie op die Swartsee-handel probeer oorneem het deur hulle kolonies aan te val. Mithridates VI het aan die einde van die 2de eeu VHJ tot die Grieke se redding gekom en die Skithiërs ’n verpletterende nederlaag toegedien, net soos wat die Romeine in 63 HJ gedoen het toe die Skithiërs die Chersonese weereens aangeval het. Tydens die 4de eeu HJ het die Skithiërs ten einde laas geheel en al uit die geskiedkundige rekord verdwyn toe hulle deur die Hunne vermorsel en deur die Gote opgeneem is.

Skithiese regering

Terwyl Herodotus na Skithiese “konings” – sommige by name – verwys, was die Skithiese regering, soos die meeste stamgebonde volke, meer ’n konfederasie stamme en opperhoofde. Skithië se konfederale stamstruktuur word in Herodotus se beskrywing van Persië se inval van Skithië saamgevat toe Darius die Skithiese opperkoning, Idanthyrsus, gekoggel het om te staan en te veg, “of ’n verstandhouding met jou meester te bereik”. Idanthyrsus het geantwoord dat dit nie Skithië se manier is om ’n oorlog te veg nie; hulle sal op hul eie voorwaardes veg. Maar toe ander “Skithiese konings” van Darius se dreigement hoor, was hulle buite hulself van woede gewees. Hierdie konings het onmiddellik toeslaan-en-terugtrekaanvalle begin loods, en ’n beroep gedoen dat die brug wat die Perse as ontsnappingsroete moet gebruik, vernietig word. Alhoewel die Skithiërs nie daarin kon slaag om die brug te vernietig nie, het die konings se beroep daartoe gelei dat Darius onttrek het (Histories, 4.126-142). Herodotus se beskrywing openbaar uiteindelik dat alhoewel ’n opperkoning of opperhoof die Skithiese nasie tydens die oordrag van boodskappe tussen hooggeplaastes verteenwoordig het, ander onderhoofde ook hulle stem laat hoor en ’n beduidende rol gespeel het wanneer daar tot optrede oorgegaan is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Kul-Oba Beaker
Kul-Oba-beker
Joanbanjo (CC BY-SA)

Net so belangrik soos hulle stamstruktuur was die gemeenskaplike organisasie van die Skithiese militêre mag ook ’n onbesonge deel van hulle sukses. ’n Goue beker uit die Kul’-Oba-kurgan (grafheuwel) uit die Krim wat in die 4de eeu VHJ vervaardig is, beeld gebivakkeerde soldate uit. Terwyl twee soldate met spies en boog gereed staan en oor hulle lot in ’n komende militêre aksie blyk te peins, demonstreer ’n ander hoe om ’n boog te besnaar; ’n ander trek sy makker se tand terwyl nog een ’n kêrel se beseerde been verbind. Nog ’n verhewe goue artefak van dieselfde kurgan demonstreer ’n algemene ritueel waar twee krygers saam uit ’n horing drink. Sodanige uitbeeldings vertoon ’n lewenswyse wat bedoel is om ’n gedeelde doelwit en kameraadskap onder soldate in te boesem waar individue wat vir hul vriende teen ’n vyand veg ’n verenigde, meer geharde front skep. Maar alhoewel Skithiese getrouheid onder soldate inderdaad gedug was, was die getrouheid van die groep teenoor hul stam en opperhoof.

Nomadiese lewenswyse en Skithiese argitektuur

Alhoewel die Skithiërs nie vir hulle infrastruktuur bekend staan nie, beteken dit nie hulle het aan argitektoniese tipes ontbreek om aan hulle behoeftes te voldoen nie. Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat hulle geheel en al nomadies was, meld Herodotus twee ander tipes Skithiërs: die “koninklike” en die “landboukundige” soort. Trouens, meer as om bloot bestaansverbouers te wees, het sommige boere hulle produkte verkoop of uitgevoer. Hierdie Skithiërs sou nie net permanente tuistes gebou het nie maar – aangesien hulle pogings waarskynlik medewerkend was – ook nedersettings ontwikkel het. Herodotus (Histories, 4.17-20) verwys na boere wat noord van die Swartsee, in die geweste van vandag se Dnjeprrivier, ’n land bewoon wat “drie dae se reis” wyd en “elf dae se reis lank” was. Die grootte van hierdie distrik dui op ’n beduidende aanvraag na graanprodukte, en argitektonies sou sulke ondernemings ook ’n stelsel pakhuise vir berging en paaie na verspreidingspunte geverg het.

SKITHIESE HUISWAENS IS DEUR ’n SPAN OSSE GETREK EN KON UIT TWEE OF DRIE VERTREKKE BESTAAN.

Wat die “koninklike” Skithiërs betref, het ons die argitektuur van hulle grafheuwels genaamd kurgans wat uit noukeurig opgevulde aardwerk en katakombes bestaan, maar dit wil ook voorkom of hulle met ’n mate van permanensie in gefortifiseerde nedersettings gewoon het. Die grootte van die aardwerk van die Bel’sk-fortifikasie in die Dnjeprriviervallei in Oekraïne weerspieël nie slegs die steltgewelf van ’n aansienlike bobou (33 km in omtrek) nie maar daar is aanduidings dat dit ’n sentrum vir ambagskuns, welvarendheid en wydverspreide handel was. Nietemin, soos wat antieke bronne daarvan getuig, was die Skithiërs hoofsaaklik nomadies van aard. Meer as een bron maak melding van hul huise op wiele. Hierdie bedekte huiswaens is deur ’n span osse getrek en kon uit twee of drie vertrekke bestaan. Na gelang van die inwoner kon die vloer en mure weelderig versier gewees het. Boonop kon die huiswaens, wanneer hulle saamgetrek was, die voorkoms van ’n stad hê.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Skithiese kultuur: kuns, musiek en kleredrag

Baie van wat ons vandag oor die Skithiese kultuur weet, kom van onlangse vondse uit kurgans noord van die Swartsee. Alhoewel antieke geskrewe bronne op die Skithiërs se karakter as swerwerkrygers fokus, voeg hulle grafware nog ’n vlak by ons begrip van hulle merkwaardige kulturele gesofistikeerdheid en sosiale ywer. Buiten die behendige vakmanskap in glinsterende goud, vertel baie stukke ’n lewensverhaal; derhalwe is ’n kam nie net ’n kam nie maar wys dit krygers wat in ’n verwoede stryd gewikkel is. ’n Borsplaat of halskraag van die Tolstaya Mogila-kurgan wys in die boonste strook – in uitsonderlike gesegmenteerde detail – tonele uit die daaglikse lewe: ’n ooi wat gemelk word, twee mans wat naaldwerk aan ’n hemp doen, en ’n kalf en vulletjies wat gesoog word. In kontras daarmee wys die onderste strook dramatiese tonele van prooi en roofdier, met katte wat ’n hert neertrek, en griffioene wat perde met hul kloue toetakel en byt. Dan in gekose plekke nader aan die nek is daar miniatuurbokke, -hase, -honde, -sprinkane en -voëls.

Scythian Golden Pectoral from Tovsta Mohyla
Skithiese goue borsplaat
Terminator (Public Domain)

Die Swartsee-artefakte bied dus unieke, soms dramatiese, kiekies van Skithiese modes, belangstellings, oortuigings, gewoontes en visuele insae in hulle daaglikse lewe soos wat min grafware doen. Baie items, soos die halskraag, het ’n prooi/roofdier-tema terwyl katte in ’n rustende houding of herte wat agteroor lê ook algemeen is. Die Skithiese neiging was om ’n onderwerp in die middel van ’n handeling uiters realisties vas te vang, en dit af te wissel met die abstrakte weergawe van die werklikheid. Derhalwe kon ’n hert of kat akkuraat uitgebeeld of uniek gestileer word.

Gelykstaande aan hulle verbeeldingryke smaak in goud, “verskaf die bevrore tombes van die Altai ’n onvergelykbare visie van die loutere lewenslustigheid van die swerwersdrag: die voorliefde vir helder, kontrasterende kleure en ingewikkelde versierings wat deur stikwerk, borduurkuns en die aanhegsel van leeruitknipwerk gevorm is” (Cunliffe, 207). Kleredragitems sluit skoene, beenbekledings en moue in wat op ingewikkelde wyse versier is, sowel as ’n damesmantel met ’n pelssoom. Insgelyks is die gesofistikeerdheid van hulle kleding geëwenaar deur hulle aangetrokkenheid tot tatoeëring – tatoeëerkenners van vandag sal nogal baie waardering hê vir die skouer-tot-hand-kunstigheid wat op die arms van een individu by Pazryk vertoon word: Onuitwisbaar daarop getatoeëer is die uitbeelding van opgekrulde katte, herte, ramme, wildsbokke en bokke.

Mummy of the Ukok Princess
Mummie van die Ukok-prinses
Kobsev (Public Domain)

Terwyl die Swartsee-ontdekkings ook die praktiese keuse van langbroeke en tunieke vir ’n perdgebonde volk in ’n koue klimaat uitwys, wys dit boonop ook die Skithiërs se voorliefde vir musiek en dans. Sommige items wys erotiese dansers – weereens vaardig in die middel van die daad vasgevang – wat op die maat van musiek wieg. By die Sachnovka-kurgan is ’n goue kopband gevind wat ’n man uitbeeld wat ’n lier bespeel. Panfluite uit voëlgebeente gemaak, is by kurgan 5 te Skatovka gevind. In verskeie tombes by Pazryk is oshoringtromme opgegrawe, en by kurgan 2 is die ongelooflike vonds van ’n harpagtige instrument met minstens 4 snare gevind. Barry Cunliffe (226-7) beskryf dit as “gemaak uit ’n enkele uitgeholde houtresonator, met die middelste hoofdeel met ’n houtklankbord bedek, terwyl klankmembrane oor die oop gedeelte van die hoofdeel gestrek is”. Die klanke wat deur ’n bekwame musikant op hierdie instrument voortgebring is, moes nogal merkwaardig gewees het.

Godsdienstige herkoms

Een van die dinge wat die vondse by die Skithiese kurgans aan die lig gebring het, is die geloof in ’n hiernamaals. Benewens kunsvoorwerpe, sluit items wat vir die oorlede elite binne die grafheuwels geplaas is ook wapens, wapenrusting, dele van waens, tapyte, allerlei soorte materiaal, huishoudelike items, sowel as wyn geseël in amfore in. Sodanige sorg en voorsiening wat vir die dooies gemaak is, weerspieël volgens Renate Rolle ’n “verwagting van die hiernamaals” (The Scythians, 118).

AANBIDDING EN SIMBOLIEK VAN DIE ELEMENTE SOU ’n INTEGRALE DEEL VAN DIE SKITHIESE GELOOFSTELSEL GEVORM HET.

Soos met alle antieke kulture, sou aanbidding en simboliek van die elemente ’n integrale deel van die Skithiese geloofstelsel gevorm het. Met die plat uitgestrektheid van die steppe wat hulle bewandel het, sou die lug waar dit die aarde by die horison ontmoet het ’n prominente kenmerk van hulle daaglikse bestaan gewees het, met die son nog ’n opvallende kenmerk van die steppe waarvan daar nouliks ontvlugting was. En dan was daar vuur. Met die sekuriteit wat dit snags teen wilde diere gebied het, en die alledaagse bruikbaarheid daarvan in metaalbewerking en die voorbereiding van kos was vuur in antieke tye onontbeerlik en het dit nogal baie simboliese mag gehad. Dit is dus geen verrassing nie dat die aarde, lug, son en vuur besondere teologiese waarde vir die Skithiërs gehad het. Dit is ook nie verrassend nie dat Idanthyrsus in sy repliek tot Darius daarop aanspraak gemaak het dat Hestia (godin van vuur) en Zeus (god van die lug) die enigste gode was voor wie hy die knie sou buig (Herodotus, Histories, 4.127.4.).

Herodotus vermeld agt godhede wat die Skithiërs aanbid het. Buiten Hestia en Zeus – onder die Skithiërs bekend as Tabitha en Papaeus – was daar Api (Moeder Aarde), Goetosyrus (Apollo) en Argimpasa (Aphrodite). Alhoewel Herodotus nie hulle Skithiese name meld nie, noem hy ook Hercules, Ares en Poseidon. Hierdie gode het elemente verteenwoordig waarmee die Skithiërs vertroud was: Ares is met oorlog geassosieer, Apollo met die son. Die visuele waarneming van die lug wat met die aarde kontak maak, is uitgebeeld in die oortuiging dat alle ander gode tydens die eenwording van die luggod Papaeus en Moeder Aarde gebore is. Alhoewel nie veel oor haar bekend is nie, word dit aanvaar dat Argimpasa, verwant aan Arti, die Irannese godin van stoflike oorvloed, die Skithiese ekwivalent van Aphrodite was. Laastens, met verwysing na ’n noodsaaklike element van hulle militêre sukses, maak Herodotus melding van Thagimasadas as die ekwivalent van Poseidon maar nie as god van die see nie, maar beskermheer van die perd.

Alhoewel Herodotus die Skithiërs se geloofsoortuiginge vanuit sy perspektief van die Griekse panteon begryp het, sê hy die Skithiërs het geen uitbeeldings, altare of tempels gehad nie. En die kurgan-vondse onthul inderdaad min gode en dié wat daar is, is slegs van Argimpasa, hulle moedergodin. Soos wat Cunliffe (276) noem, wil dit voorkom of die “gode van die hoër ordes van die panteon nog nie vermenslik is nie, of daar is ten minste geen bepaalde uitbeelding van hulle bekend nie.”

Skithië se krygervroue: die Amasone-skakel

Laastens is ’n aangrypende aspek van die bestudering van Skithië die gesiene rol wat vroue in die militêre en politieke lewe van hulle mense gespeel het. Ongehoord tot en met die moderne tyd, wil dit voorkom of sommige vroue – as groep – ’n sosiale status gelykstaande aan dié van mans verwerf het. Alhoewel die impak van die Amasones in die moderne wêreld inslag gevind het (bv. Wonder Woman), word daar lank reeds oor die werklikheid van hulle geskiedenis gedebatteer. Herodotus se relaas vertel die storie van ’n vreemde ras krygervroue wat op die kus van Skithië aan land gekom het. As ’n groep het hulle hul onafhanklikheid behou maar uiteindelik vermeng met ’n groep jong Skithiese mans wat deur die Skithiese oudstes na hulle gestuur is. Alhoewel hulle verskillende tale gepraat het, het die twee groepe ooswaarts gereis om hulle eie stam te vorm. Herodotus maak daarop aanspraak dat die Sarmate die gevolg van hierdie eenwording was en ’n hibriede Skithiese taal gepraat het. Verder het hierdie krygervroue hulle onafhanklikheid gehandhaaf deur hulle eie antieke weë te volg, en dikwels op hul eie gejag en sy aan sy met hul mans oorlog gemaak. Hulle het ook hulle dogters verbied om te trou voordat hulle eers ’n man in ’n geveg gedood het (Histories, 4.110-117).

Amazonomachy Detail
Gedetailleerde uitbeelding van ’n Amasonestryd
Daderot (Public Domain)

Appianus staaf die soewereine of krygerstatus van Skithiese vroue. Wanneer hy Pompejus se segetog beskryf nadat dié Mithridates VI verslaan het, sluit Appianus by die prosessie gevange konings en generaals ook “vroueheersers van Skithië” in (Mithridatic Wars, 17.116-17). Die feit dat Appianus – kontemporêr en in die meervoud – van vroueheersers melding maak, dui op ’n ruim, gedeelde, gemene en medewerkende heerskappystatus. Daarbenewens doen Herodotus se verwysing na die Skithiese krygerkoningin Tomyris se sege in ’n geveg oor Cirus die Grote (ca. 600-530 VHJ) eeue vantevore ’n tradisie van vrouesoewereiniteit aan die hand (Histories, 1.205-14).

Die argeologiese rekord dui ook op ’n ruim kryger-, indien nie soewereine, status van Skithiese vroue. In 1993, in die mees oostelike uithoeke van die Skithiese konfederasie by Ak-Alakha op die Ukok-plato in die Altai-gebergte, is die graf van ’n ryk Skithiese vrou opgegrawe. Dat sy die sentrale figuur op die terrein was en – omring deur ses opgesaalde perde – saam met statusvoorwerpe begrawe is, maak dit waarskynlik dat sy minstens een van die belangrikste elite van haar mense was. Laastens, volgens Cunliffe (219), is een vyfde van die opgegrawe krygergrafte in die Sarmatiese geweste wat na die vyfde tot die vierde eeu terug dateer, vroulik, terwyl ons weet van die grafte van meer as veertig vrouekrygers in die Skithiese grondgebied”.

Bibliografie

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Patrick Scott Smith, M. A.
Patrick Smith, MA het al navorsing vir die Amerikaanse Skole vir Oosterse Navorsing (American Schools of Oriental Research) en die Missouri Akademie vir Wetenskap (Missouri Academy of Science) gelewer. As skrywer vir die Vereniging vir die Wetenskaplike Bestudering van Godsdiens (Association for the Scientific Study of Religion), het hy in 2015 die Frank Forwood-toekenning vir Voortreflikheid in Navorsing gewen.

Siteer hierdie werk

APA-styl

A., P. S. S. M. (2021, March 18). Die Skithiërs [Scythians]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-645/die-skithiers/

Chicago-styl

A., Patrick Scott Smith, M.. "Die Skithiërs." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 18, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-645/die-skithiers/.

MLA-styl

A., Patrick Scott Smith, M.. "Die Skithiërs." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 18 Mar 2021. Web. 29 Nov 2021.