Die Slag van Marathon

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 19 May 2013
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Griekse, Frans, Portugees
Battle of Marathon, 490 BCE (by Dept. of History, US Military Academy, CC BY-SA)
Die Slag van Marathon, 490 VHJ
Dept. of History, US Military Academy (CC BY-SA)

Die veldslag op die vlakte van Marathon in September 490 VHJ tussen die Grieke en die invalsmagte van die Persiese koning Darius I (r. 522-486 VHJ) was ’n oorwinning wat in volksoorlewering sal voortleef as die tydstip in die geskiedenis toe die Griekse stadstate vir die wêreld hulle moed en voortreflikheid ten toon gestel, en hulle vryheid gewen het. Alhoewel die veldslag in werklikheid die Persiese imperialistiese ambisies slegs vertraag het en veel groter veldslae later sou volg, is dit by Marathon die eerste maal bewys dat die magtige Persiese Achameniese Ryk oorwin kon word, en die slag sou later in Griekse kuns – literatuur, beeldhouwerk, argitektuur en pottebakkerskuns – uitgebeeld word as ’n kritieke en deurslaggewende oomblik in die Griekse geskiedenis.

Die Persiese Ryk

Onder die bewind van Darius I was Persië besig om na kontinentale Europa uit te brei en teen die aanvang van die vyfde eeu VHJ het hulle reeds vir Ionië, Thracië en Macedonië tot onderhorigheid gedwing. Volgende in koning Darius se visier was Athene en die res van Griekeland. Presies waarom Persië soveel vir Griekeland begeer het, is onduidelik. Rykdom en hulpbronne blyk onwaarskynlike motiewe te wees; ander, oortuigender voorstelle sluit die behoefte in om die aansien van die koning tuis te verhoog, of om eens en vir altyd ’n hoop potensieel lastige rebellestate op die westelike grens van die ryk te oorrompel. Verder moes die Ioniese rebellie, die simboliese offerande van aarde en water in onderdanigheid aan die Persiese satraap in 508 VHJ en die aanval deur Athene en Eretrië op die stad Sardis in 499 VHJ ook nog vars in die geheue gewees het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE INVALLERS HET HULLE MOSES IN 490 VHJ TEËGEKOM TOE DIE GRIEKSE MAGTE ONDER LEIDING VAN ATHENE OP DIE VLAKTE VAN MARATHON BYEENTREK.

Wat ook al die presiese motiewe was, in 491 VHJ het Darius weereens afgesante gestuur om ’n beroep op die Grieke se onderwerping aan Persiese heerskappy te doen. Maar deur die afgesante tereg te stel, het die Grieke hulle antwoord klinkklaar gegee, en Athene en Sparta het belowe om ’n bondgenootskap vir die verdediging van Griekeland aan te gaan. Darius se antwoord op hierdie growwe diplomatieke belediging was om ’n seemag van 600 skepe en 25 000 man te loods om Siklade en Euboia aan te val, wat die Persiërs binne ’n hanetreetjie van die res van Griekeland gebring het. Maar die invallers sou hulle moses in 490 VHJ teëkom toe die Griekse magte onder leiding van Athene op die vlakte van Marathon saamtrek om hulle land teen buitelandse onderwerping te verdedig.

Die Persiese leër

Aangesien Darius die inval nie persoonlik aangevoer het nie, was algehele bevel van die Persiese leër aan Datis oorgelaat, met Darius se nefie Artafernes onderbevelvoerder wat moontlik die Persiese kavallerie aangevoer het. Die algehele grootte van die Persiese leër is onduidelik maar te oordeel aan die aantal skepe kon dit soveel soos 90 000 man beloop het, met die werklike aantal vegtende manskappe waarskynlik twee baivarabam-eenhede, of 20 000-25 000 man. Hiervan was die meeste boogskutters, met moontlik nog 2 000 kavalleriste. Die Persiese leër het eintlik uit soldate van verskillende state van regoor die Persiese Ryk bestaan maar die Persiërs en die Sakaï het erkenning as die beste vegeenhede geniet.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Persian Archers
Persiese boogskutters
mshamma (CC BY)

Die Griekse leër

Die Grieke is aangevoer deur óf die Athener Polemarch Kallimachos (ook Callimachus gespel) óf Miltiades, wat tydens Darius se veldtog in Skithië onder die Persiese koning geveg het, en dus oor waardevolle militêre intelligensie rakende Persiese oorlogvoering beskik het. Die 1 000 Plataiers is deur Arimnestos aangevoer, en die Atheners het ongeveer 9 000 hopliete in die veld gestoot. Die totale mag word op 10 000-20 000 beraam maar die laer getal is waarskynlik die akkuraatste.

Hopliete versus boogskutters

DIE GETALLEOORWIG HET AAN DIE PERSIËRS BEHOORT, EN HULLE REPUTASIE WAS FORMIDABEL.

Die twee teenoormekaarstaande magte het basies die twee benaderings tot klassieke oorlogvoering verteenwoordig: Die Persiërs het voorkeur gegee aan langafstandaanvalle by wyse van boogskutters wat dan met ’n kavallerie-stormloop opgevolg is, terwyl Griekse oorlogvoering ten gunste was van swaargepantserde hopliete gerangskik in ’n digsaamgepakte formasie genaamd ’n falanks, met elke man wat ’n swaar ronde skild dra en met ’n spies en swaard met die vyand handgemeen geraak het. Die Persiese infanterie het ’n ligte – dikwels reghoekige – vlegwerkskild (spara) gedra en was met ’n lang dolk of kromswaard (kopis), ’n kort spies en saamgestelde boog bewapen. Diegene met ’n skild (sparabarai) het gewoonlik ’n defensiewe skans gevorm van waaragter die boogskutters hulle pyle geskiet het. Die Persiese magte het ook ’n paar eenhede hazarbam – 1 000 man sterk met elite-spiesdraers (aristabara) – ingesluit. Hulle was met ligter pantser as die hopliete uitgerus en het gewoonlik ’n tuniek (dalk met bronsskubbe daaraan geheg, of ’n leerkuras vir sommiges) gedra, met broeke, stewels en ’n sagte kappie met kleurvolle patrone.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Greek Hoplite
Griekse hopliet
Johnny Shumate (Public Domain)

Die Persiese kavallerie was net soos die voetsoldate bewapen, met ’n boog en twee bykomende werpspiese om te gooi of mee te steek. Die kavallerie, wat gewoonlik op die flanke van die hoofgeveg bedrywig was, is gebruik om vyandelike infanterie op te ruim nadat hulle deur herhaalde salvo's pyle deur die boogskutters in wanorde gedompel is. Alhoewel die Persiese taktiek om die vyand teen ’n hoë tempo met enorme hoeveelhede pyle te bestook ’n indrukwekkende sig moes gewees het om te aanskou, het die ligte gewig van die pyle beteken dat hulle merendeels ondoeltreffend teen die bronsgepantserde hopliete was. Binne handgemeenafstand het die langer spiese, swaarder swaarde, beter pantser en rigiede dissipline van die falanksformasie beteken dat die Griekse hopliete al die voordele sou geniet; maar die getalleoorwig het aan die Persiërs behoort, en hulle reputasie was formidabel.

Aanvangsposisies

Die Persiese mag het eers by Karystos en toe by Eritrië in noordelike Euboia geland en albei stede geplunder voordat hulle op 1-2 September die seestraat na die oostelike punt van die baai van Marathon oorgesteek het. Die Persiërs het Marathon as geskikte landingsplek gekies aangesien dit die ideale terrein vir hulle berede eenhede verskaf het; trouens, die naam Marathon is moontlik afgelei van die wildevinkel (marathos) wat steeds op hierdie buitengewoon vrugbare vlakte groei. Daarbenewens was daar ook ’n nabygeleë meer wat oorgenoeg water aan sowel mens as dier gebied het. Die voordele van die ligging is waarskynlik dieselfde rede waarom Pisistratus dit ca. 546 VHJ gekies het toe hy op pad was om homself as tiran van Athene op te rig. Derhalwe het die Persiërs hier, onder beskutting van die Kynosoura-skiereiland, kamp opgeslaan.

Toe die Grieke die invalspunt ontdek het, het die Atheense strategoi oftewel generaals onder mekaar bespreek of hulle moet bly waar hulle is en of hulle die invallers tegemoet moet gaan. Daar is op laasgenoemde opsie besluit en met hulle aankoms te Marathon op 3 of 4 September het hulle naby die heiligdom van Hercules aan die westelike punt van die baai kamp opgeslaan, en kort daarna het die Plataiers by hulle aangesluit. Die Spartane, beroemd as die beste krygers in Griekeland, se mobilisering is ongelukkig vertraag omdat hulle by die sakrale Karneia-fees betrokke was, en ’n plaaslike opstand deur die Messeniërs kon hulle moontlik ook besig gehou het. Trouens, die Spartane sou die veldslag met een dag misloop.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Greek Phalanx
Griekse falanks
CA (Copyright)

Soos wat die geval met die meeste veldslae is wat in die vroeë vyfde eeu VHJ plaasgevind het, is antieke bronne se besonderhede daaroor vaag en teenstrydig. Maar op 11 September blyk die Grieke hulle slagorde in die middel van die baai op te gestel het terwyl die Persiërs slegs die helfte van hulle infanterie aan land gesit het. Deur hulle front agt man diep op te rig en die middelste groep tot vier man te verminder, het die Grieke hulle geledere uitgestrek om met dié van die Persiërs ooreen te stem. Die Plataiers het op die regterkantste flank stelling ingeneem, terwyl die Atheners op die linkerkant en in die middel was. Die beste Persiese en Sakaï-troepe, tot soveel as tien man diep, het die middel oorheers. Dit was ’n algemene Persiese taktiek sodat die uitdunning van die Griekse hopliete in die middel moontlik ’n doelbewuste taktiek deur Miltiades of Kallimachos kon gewees het om die flanke in staat te stel om die Persiërs te omsingel soos wat laasgenoemde vordering in die middel maak. Aan die ander kant kon die Grieke nie ’n dunner front as die Persiërs bekostig nie aangesien dit die vyand in staat sou stel om agter die Grieke se vleuellinies te kom sodat die falanksformasie hopeloos te veel aan ’n aanval blootgestel sou wees. Die twee linies soldate – sowel invallers as verdedigers – het een en ’n half kilometer ver gestrek, en nou het hulle ook net 1 500 m uitmekaar opgerig gestaan.

Die veldslag

Die afwesigheid van die Persiese kavallerie op die toneel van die veldslag is raaiselagtig en weereens is daar geen konsensus onder antieke bronne en moderne geskiedkundiges nie. Moontlik kon Datis hulle weens die bome wat sporadies oor die vlakte versprei was nie doeltreffend aanwend nie of dalk wou hy hulle eerder (of het hy sodanig beplan) om hulle saam met ander troepe na Athene te stuur – óf in ’n poging om die stad oor te neem terwyl die Griekse leër by Marathon was, óf dalk was hulle afwesigheid ’n poging om die Grieke uit te lok om die geveg op te neem voordat die Spartane hulle opwagting maak.

VOLGENS OORLEWERING HET 6 400 PERSIËRS GESTERF, EN NET 192 GRIEKE.

Maar uiteindelik het die infanterie aan albei kante mekaar die stryd aangesê. Die twee magte het nader aan mekaar beweeg. Die Grieke het moontlik die laaste 400 m gestormja terwyl die Persiese boogskutters hulle ongetwyfeld bestook het, en toe het die twee leërs handgemeen geraak. ’n Lang en bloedige stryd het gevolg met die Persiërs se middelpunt wat, dalk voorspelbaar, die verswakte Griekse senter teruggestoot het. Maar sowel die Griekse linker- as regterflank het die oorhand oor die Persiërs gekry, en hulle teruggedryf. Gevolglik het die Persiese linies verbrokkel wat op ’n wanordelike krygsgewoel uitgeloop het. Die Persiërs is nou aan die linker- én regterflank wild op die vlug gejaag en het die wyk na hulle skepe geneem maar om dié te bereik, moes hulle ’n wye, drassige gebied oorsteek. In die verwarde aftog het die Griekse vleuels op die vyandelike senter toegesak en die Persiese middelpunt aangeval én die vlugtende flanke agternagesit, en die vyand swaar verliese toegedien. Rondom die Persiese skepe het die stryd voortgewoed en dit was tydens hierdie aksie wat Kallimachos gesneuwel het. Die Grieke het sewe skepe van die vyand gebuit maar die res van die vloot het ontsnap met enige Persiërs wat daarin kon slaag om aan boord te klouter.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Grieke het ’n groot oorwinning behaal. Volgens oorlewering het 6 400 Persiërs omgekom, en net 192 Grieke, en alhoewel die eerste getal redelik akkuraat is, is die tweede een waarskynlik vir propagandadoeleindes onderskat. Die Persiërs was egter nog nie klaar nie en Datis het na Kaap Sounion gevaar in ’n poging om Athene aan te val terwyl die Griekse leër weg was. Die Grieke is moontlik teen hierdie verwikkeling op hulle hoede gestel deur die sein van ’n verraaierskild vanaf die berg Pentelikos wat dalk onregverdig aan die Alkemeonidai-familiestam toegeskryf word. Die Grieke was ongetwyfeld uitgeput maar was nietemin verplig om met die looppas hulle terug na Athene te haas om die stad te gaan verdedig. Hulle aankoms later die nag van dieselfde dag blyk genoeg te gewees het om die Persiërs te ontmoedig wat naby Faleron voor anker gelê het, en die vloot het na Asië teruggetrek. Op hierdie tydstip het 2 000 Spartane ten einde laas hulle opwagting gemaak maar dit was onnodig want die oorwinning was volkome.

Die nadraai

By Marathon is die dooies verbrand en begrawe – ’n ongewone stap, met die grafhoop wat vandag nog sigbaar is – en ’n gedenksuiltrofee is opgerig, waarvan fragmente vandag in die Marathon Argeologiese Museum bewaar word. Dankoffers is aan die gode gebring, vernaamlik 500 bokke aan Artemis Agrotera, en elke jaar daarna is ’n offerande op die terrein gebring – ’n ritueel wat vir nog 400 jaar voortgeduur het. Ter ere van Kallimachos en sy rol in die oorwinning het die Atheners ’n suil en standbeeld van Iris (of Nike) op hulle akropolis opgerig, en by die groot heiligdom van Delphi is oorlogsbuit en standbeelde ter ere opgedra. In Griekse beeldhoukuns is die oorwinning ook deur die beroemde beeldhouer Phidias gedenk: ’n bronsgroep by Delphi wat Apollo, Artemis en Miltiades ingesluit het, sowel as ’n kolossale bronsbeeld van Athene op die Atheense akropolis. In Athene is ’n tempel vir Artemis Eukleia gebou, en die veldslag was ook die onderwerp van die beeldhouwerk aan die suidekant van die tempel van Athene Nike in Athene, ca. 425-400 VHJ.

Treasury of The Athenians, Delphi
Skatkamer van die Atheners, Delphi
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Die oorwinning was ’n groot hupstoot vir Griekse moreel en allerlei legendes het uit die gebeure in September 490 VHJ ontspruit. Visioene tydens die veldslag van die mitiese Atheense held Theseus en die ingryping van Pan was net van die stories wat gehelp verduidelik het hoe die Grieke daarin kon slaag om die magtige Persiese leër te verslaan. Verder het veterane van die veldslag daarna ’n wapenspreuk op hulle skild gedra wat die bul van Marathon (uit die Hercules-mite) uitbeeld om trots te vertoon dat hulle aan die grootse oorwinning deelgeneem het.

Maar ongeag die Griekse euforie was die Persiese ambisie nie deur die nederlaag by Marathon geblus nie want binne ’n dekade daarna het koning Xerxes sy voorganger Darius se visie voortgesit en in 480 VHJ het hy ’n enorme invalsmag gemonster om Griekeland aan te val, hierdie keer deur middel van die pas by Thermopylae. In Augustus van dieselfde jaar het ’n klein groepie Grieke onder leiding van die Spartaanse koning Leonidas die pas drie dae lank verdedig en terselfdertyd kon die Griekse vloot daarin slaag om die Persiërs by die seeslag Artemision af te weer. Saam het hierdie slae vir Griekeland genoeg tyd gegun en die oorwinnings moontlik gemaak wat daarop sou volg: eers by Salamis in September 480 VHJ waar die Griekse vloot die Persiërs in vlak water in gemaneuvreer het, en toe by Plataia in Augustus 479 VHJ waar die Grieke die grootste hoplietleër óóit te velde laat trek en die veldslag gewen het wat ten einde laas die Persiese Oorloë in Griekeland gestaak het.

Die marathonwedloop

Een laaste legende van Marathon en een wat tot op hede steeds die naam daarvan dra, is Herodotus se verhaal van ’n langafstandboodskapper (hēmerodromos) genaamd Phidippides. Voor die veldslag is hy gestuur om die hulp van die Spartane te verkry en hy het na Sparta gehardloop maar onderweg daarheen eers by Athene aangedoen, ’n tog wat ’n totale afstand van 240 km behels – ’n kordaatstuk wat in 1983 HJ deur ’n atleet herhaal is. Latere bronne, waarvan Plutargus in die 1ste eeu HJ die eerste was, verwar hierdie storie met ’n ander boodskapper wat die veldslag van Marathon af gestuur is om tyding van die oorwinning te bring en te waarsku dat die Persiese vloot enige tyd hulle opwagting in Athene sou maak. Wat ook al die geval was, dit is uit hierdie tweede legende waarin ’n wedloop – wat dieselfde afstand behels as die 42 km tussen Marathon en Athene – sy oorsprong gehad het in die eerste herlewing van die Olimpiese Spele in 1896 HJ waarmee die antieke Griekse sportideale en die oorspronklike spele te Olympia gedenk is. Heel gepas is die eerste marathonwedloop deur ’n Griek, Spiridon Louis, gewen.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2013, May 19). Die Slag van Marathon [Battle of Marathon]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-333/die-slag-van-marathon/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Marathon." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 19, 2013. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-333/die-slag-van-marathon/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Marathon." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 19 May 2013. Web. 05 Jul 2022.