Kublai Khan

Vertaling Fondsinsameling

Ons visie: Gratis geskiedenisonderwys vir almal in die wêreld, in elke taal. Dit is inderdaad 'n verhewe doel, maar dit sal ons nie keer om daaraan te werk nie. Om daar te kom, moet ons vertaal... baie! Skenk asseblief vandag en help ons om 'n werklike globale impak te maak. Baie dankie!
$2052 / $3000

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 07 October 2019

Oorspronklike teks in Engels: Kublai Khan

Kublai Khan Statue (by A. Omer Karamollaoglu, CC BY)
Standbeeld van Kublai Khan
A. Omer Karamollaoglu (CC BY)

Kublai Khan (Qubilai-Qan) het van 1260 tot 1294 oor die Mongoolse Ryk geheers. Onder Kublai Khan se prestasies is die oorneem van China en die vestiging van Mongoolse heerskappy daar onder die naam Yuan Dinastie (1271-1368), sodat hy dus die eerste nie-Chinees geword het wat oor die hele China geheers het. Hy het die nuwe hoofstad Xanadu (Shangdu) geskep, Daidu (Beijing) as die opvolger daarvan tot stand gebring, en die ryk uitgebrei sodat dit groter as ooit vantevore was en van die Kaspiese See tot by die Koreaanse skiereiland gestrek het. Hy het terugslae teëgekom, onder meer ’n reeks veldtogte met gemengde resultate in Suidoos-Asië en twee mislukte invalle van Japan in 1274 en 1281. Kublai, laaste van die vername Mongoolse heersers, het weens siekte gesterf wat deur sy oormatige inname van kos en alkohol vererger is; sy graftombe is nooit gevind nie.

Vroeë jare

Kublai is in 1215 gebore, die tweede seun van Tolui (ca. 1190-1232) en dus die kleinseun van Djenghis Khan (r. 1206-1227), stigter van die Mongoolse Ryk (1206-1368). Alhoewel Kublai se ouer broer Mongke (r. 1251-1259) heerser van die Mongoolse Ryk was, is Kublai die posisie van onderkoning (ilkhan) van Mongool-beheerde noordelike China gegee. Kublai het sy tyd afgewag en die geleentheid benut om ’n ondersteuningsnetwerk en ’n span talentvolle raadgewers, veral Liu Bingzhong (1216-1274), op die been te bring. Vanaf 1253 het Kublai ook persoonlik saam met Mongke aan veldtogte deelgeneem terwyl hy aanvalle op suidelike China geloods het wat steeds onder beheer van die Song Dinastie (960-1279) was. Mongoolse magte het deur Tibet tot binne Yunnan beweeg en in 1257 die Dali-koninkryk oormeester. Van hier af kon die Mongole op die kwesbaarste punt van Song China toeslaan en derhalwe is ’n viersprongaanval beplan om ’n inval vanuit die suide en weste te loods. Die veldtog is egter skaars van stapel gestuur voordat Mongke se onverwagte dood weens siekte op 11 Augustus 1259 dit tot stilstand genoop het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Burgeroorlog en opvolging

KUBLAI KHAN HET DIE SONG DINASTIE VEROWER EN CHINA VIR DIE EERSTE MAAL IN VIER EEUE VERENIG.

Toe Mongke in 1259 oorlede is, is die veldtogte teen die Song laat staan aangesien daar ’n stormloop onder die Mongoolse bevelvoerders ontstaan het oor wie hom gaan opvolg. Op die ou einde het ’n burgeroorlog uitgebreek tussen die twee hoofkandidate, Kublai en sy jonger broer Ariq Boke (1219-1266), wat albei homself as die nuwe khan verklaar het. Die situasie van twee khans sou eers in 1264 besleg word, al is Kublai in 1260 tydens ’n samekoms van die Mongoolse stamhoofde – ’n kurultai – as Groot Khan (“universele heerser”) van die Mongoolse Ryk verklaar.

Ariq Boke was gewild weens sy konserwatisme – terwyl Kublai as ’n bietjie Chinees-denkend beskou is – en hy het die voordeel gehad dat hy die sentrale deel van die ryk en die hoofstad, Karakorum, beheer het. Maar Kublai het op die ou einde gewen omdat hy die ondersteuning van prinse in Sentraal-Asië geniet het, omdat hy beheer oor die ryksgarde uitgeoefen het en as onderkoning van China geweldig meer hulpbronne tot sy beskikking gehad het. As Groot Khan het hy ’n invloedryke titel gehad maar die ryk het in werklikheid reeds in verskeie khanate opgebreek met ’n afstammeling van Djenghis Khan wat oor elkeen geheers het. Kublai het miskien oor die grootste en rykste gedeelte geheers van wat vroeër die Mongoolse Ryk was, maar waarna hy regtig gehunker het, was ’n baie ouer en selfs meer invloedryke posisie: die Chinese Keiser, vir eeue lank die ambisie van vele steppeswerwers.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Portrait of Kublai Khan
Portret van Kublai Khan
British Museum (Copyright)

Song Dinastie, China

In 1268 HJ het Kublai ernstig na die wêreld suid van die Yangtze Rivier, sowel as die groot prys wat Song China ingehou het, begin kyk. Die veldtog sou lank en uitmergelend wees, met die Song wat ’n leër van meer as 1 000 000 man kon ontplooi en met albei kante wat met die nuutste buskruitwapens, katapulte en belegtuie toegerus was. Daar sou ook seeslae wees wat die grootste skepe behels het wat nog ooit in die geskiedenis van oorlogvoering te sien was. Die sukses van Mongoolse oorlogvoering oor die lengte en breedte van Asië was gesetel in vinnige kavallerie maar die Song se verweer hierteen was om ’n strategie in te span wat meer statiese oorlogvoering behels het, en om groot fortifikasies by sleutelstede en rivierkruisings te bou. As gevolg hiervan sou dit Kublai elf lange jare neem om sy teikens een ná die ander te oorrompel en die Song uiteindelik tot onderdanigheid te hamer.

Die aanval op die strategies belangrike gefortifiseerde stad Xiangyang was tipies van die veldtog. Nadat die stad vyf jaar lank beleër is, is dit – te danke aan volharding en meerderwaardige katapulte (gebou volgens ontwerpe wat in Afganistan opgespoor is) – uiteindelik in 1273 verower. In 1275 het die Khan nog ’n kurultai belê, hierdie keer om te besluit hoe daar met die laaste fase van sy veldtog teen die Song te werk gegaan moes word. Die Mongole het die Yangtze in Maart 1275 oorgesteek en was blykbaar onstuitbaar en het ’n massiewe land-en-seeslag gewen. Met baie Song-generaals wat oorgeloop of saam met hulle leërs oorgegee het, ’n hof geteister deur interne struwelinge tussen die kinderkeiser se raadgewers, sowel as die meedoënlose afmaai van die hele stad Changzhou, was die einde van die Song Dinastie naby. Die keiserin-weduwee en haar jong seun keiser Gonzong (r. 1274-5) het op 28 Maart 1276 tesame met hulle hoofstad Lin'an oorgegee. Die Song-koninklikes is as gevangenes na Beijing weggevoer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Groepe lojaliste het vir ’n verdere drie jaar aangehou veg en in die proses nog twee jong keisers (Duanzong en Dibing) ingehuldig maar die Mongole het alles voor hulle platgevee. Die Song was ryk genoeg gewees maar het ’n duur prys betaal vir hulle gebrek aan politieke eenheid, hulle versuim om in hul militêre magte te belê wat in die verlede ’n kenmerk van Chinese oorlogvoering was, sowel as die afwesigheid van mobiele kavallerie, en oor die algemeen swak wapeninnovasie. Laastens is op 19 Maart 1279 ’n groot seeslag by Yaishan naby die hedendaagse Macao gewen; die Mongoolse verowering van China was voltooi. Dit was die eerste keer sedert die 9de eeu wat die land verenig was.

Mongol Empire Under Kublai Khan
Mongoolse Ryk onder Kublai Khan
Arienne King (CC BY-NC-SA)

Xanadu en Daidu

Die Mongoolse hoofstad is in 1263 van Karakorum in Mongolië na die meer voordelig geleë Xanadu (Shangdu) in noord-oos-China verskuif. Vir Kublai het Karakorum ’n onaangename konnotasie gehad omdat Ariq Boke dit as sy basis gebruik het voordat Kublai dit in 1262 verower het. Xanadu, deur Liu Bingzhong ontwerp, is met grondringmure en torings toegerus waarmee die klassieke Chinese vierkantplan vir die hele stad geskep is. Binne-in was ’n manjifieke paleiskompleks, volledig met jagtuine. Die hele stad het 25 000 hektaar beslaan en op die hoogtepunt daarvan het dit met ’n bevolking van 200 000 mense gespog.

In 1273 is Xanadu afgegradeer om net die somerhoofstad van die Mongoolse Ryk te wees, en Daidu (ook bekend as Khanbaliq en nou Beijing) is as die nuwe hoofstad gekies. Daidu, waarvan die konstruksie reeds in 1266-7 begin het, het ’n magtige simbool van die Mongoolse oorname van China geraak. Kublai het sy tyd tussen die twee stede verdeel en aangehou om tradisionele Mongoolse tydverdrywe soos jag en die drink van gefermenteerde perdemilk te geniet.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Yuan Dinastie, China

Kublai het homself keiser van China verklaar en vir hom die heersersnaam Shizu gegee en in 1271 het hy sy nuwe dinastie “Yuan” gedoop wat óf “oorsprong” óf “middelpunt, hoofspil” beteken. Anders as sy Mongoolse voorgangers, het die khan – nou keiser – die Chinese kultuur omarm en homself byvoorbeeld in die tradisionele gewaad van ’n keiser geklee en eerder in ’n draagstoel as op ’n perd gery. Dit was alles deel van sy veldtog om vir die Chinese soos hulle regmatige heerser voor te kom. Die keiser het homself met Chinese ministers en Confuciaanse raadgewers omring al is al die sleutelposisies van die staat agter die skerm vir nie-Chinese gegee, veral vir lede van die Mongoolse ryksgarde en – in die geval van finansies – vir Moslems wat as deskundiges op die gebied beskou is.

Sleutel- administratiewe posisies in die 12 nuutgeskepte semi-outonome provinsies waarin China en noordelike Korea (in 1270 geannekseer) nou verdeel was, is ook aan Mongole toegeken. Die tradisionele ses Chinese ministeries wat sedert die Tang Dinastie (618-907) bestaan het, het soos voorheen aangehou funksioneer maar Kublai het die staatsdienseksamens afgeskaf wat Chinese beamptes met hulle Confuciaanse onderrig sou bevoordeel het. Laastens was daar geen Chinese rykshofprotokol by die Mongoolse hoofstad Karakorum nie. Duidelik was die roetine om soos ’n Chinese keiser voor te kom, net ten behoewe van die Chinese.

Kublai het seker gemaak dat Mongole altyd ’n voordeel in China geniet deur hulle amptelik as verhewe in stand bo Chinese te klassifiseer. Daar was ook ander mates van segregasie, soos om Chinese te verbied om Mongoolse name aan te neem, Mongoolse klere te dra of die Mongoolse taal te leer. Ondertrouery is afgekeur en na gelang van die ras van die skuldige is verskillende strawwe vir dieselfde oortreding opgelê. Maar eerder as wat dit alleenlik ’n rasgemotiveerde beleid was, was Kublai die meeste daaroor besorg om sy onderdane te beheer, en dit dus makliker te maak om te identifiseer wie wié was en om seker te maak daar was geen rebellies nie; Chinese is byvoorbeeld verbied om wapens te dra en openbare samekomste te hou.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die keiser het ’n paar ernstige pogings aangewend om die baie volke in sy ryk bymekaar te bring: Hy het die gebruik van verskillende tale in sy administrasie aangemoedig, verskillende gelowe verdra en selfs seker gemaak dat verskillende geregte aan die rykshof bedien is. Kublai self het tot Tibetaanse Boeddhisme bekeer – ’n skuif wat waarskynlik deur sy belangrikste vrou en raadgewer, Chabi (ook bekend as Cabui-qatun, 1281 gesterf) en die Tibetaanse monnik Phags-pa Lama (1235-1280) beïnvloed is. Laasgenoemde is gelas om ’n nuwe amptelike taal (gebaseer op Tibetaans en Sanskrit) te skep; Kublai het gehoop dit sal ’n verdere band tussen die talle nasionaliteite onder sy bewind skep, maar die idee het nooit buite die hof posgevat nie.

Nog ’n besliste beleid was die bevordering van internasionale handel. Vakmanne was een groep wat by die Mongoolse oorname gebaat het aangesien ’n lae sosiale status voorheen aan hulle toegeken is. Die Mongole – moontlik omdat hulle swerwers was – was buitengewoon beïndruk met fyn porselein en kunswerke en daarom het Kublai belastingvrystellings aan vakmanne toegestaan. Aangesien handelaars nie vervaardigers nie maar “uitruilers” was, is daar voorheen op soortgelyke wyse teen hulle gediskrimineer en hulle het óók nou voordeel uit gunstiger belastingmaatreëls sowel as die beëindiging van weelderegulasies getrek. Handelaars is aangemoedig om papiergeld te gebruik, wisselkoerse is beter gereguleer en meer paaie en kanale het die vervoer van goedere vergemaklik. Die uitwerking van hierdie beleide het ’n opbloei in handel, veral in fyn porselein, tot gevolg gehad. Kublai het dieselfde gedoen vir ander beroepe waarvan die praktiese bydrae tot die samelewing hom beïndruk het, byvoorbeeld dokters en sterrekundiges.

Marco Polo Statue
Marco Polo-standbeeld
Krzysztof Golik (CC BY-SA)

Marco Polo

Die Venesiese reisiger Marco Polo (1254-1324) het in 1271 vertrek en sy bekende reis deur Asië afgelê om China tydens die bewind van Kublai Khan te bereik. Tussen ca. 1275 en 1292 het Marco selfs in diens van die khan gestaan, blykbaar in die hoedanigheid van swerwende ambassadeur van of beriggewer oor die meer afgeleë dele van die Mongoolse Ryk. Met sy terugkeer na Europa het Marco sy wedervaringe in sy boek Die reise van Marco Polo neergepen wat die eerste keer in 1298 HJ in sirkulasie gekom het. Sy beskrywinge is van die beste bronne wat ons van die Yuan Dinastie en veral die keiser het. Oor Kublai se fisiese voorkoms het hy die volgende te sê gehad (112):

Kublai, betitel “groot khan”, of heer, is van ’n middelmatige portuur, met ander woorde nóg lank nóg kort; sy ledemate is welgeskape en sy hele figuur is billik geproporsioneerd. Hy het ’n ligte kompleksie wat soms met ’n blos bedeel is, soos die helder tint van ’n roos wat baie swier aan sy gelaat verleen. Sy oë is swart en aantreklik, sy neus goed gevorm en prominent.

Die invalle van Japan

Presies waarom Kublai in 1268 vir Japan by sy ryk wou voeg terwyl hy steeds in ’n oorlog met die Song gewikkel was, is onduidelik. Dalk het hy in die hulpbronne (veral goud) belanggestel, moontlik was aansien ’n faktor aangesien verowering ’n tradisionele metode vir Mongoolse leiers was om hulle magsposisie te verstewig, of dalk wou hy die handel tussen Japan en Song China tot ’n einde bring en sodoende sy belangrikste teenstander ondermyn. Die verowering van Japan sou vir hom toegang tot ’n leër gegee het wat goed opgeleide samurai ingesluit het; dalk was die inval uit een of ander weerwraak vir die chaos wat die wako ( Japannese seerowers) aan die Oos-Asiatiese kuslyn en handelskepe besorg het.

Wat ook al Kublai se motivering was, die benadering was duidelik: diplomasie eerste, oorlog tweede. Vanaf 1268 het Kublai ambassadeurs gestuur maar hulle eise vir tribuut is heeltemal geïgnoreer buiten dat Japannese troepe op ’n gereedheidsgrondslag geplaas is waar ’n inval as moontlik beskou is. Dit was ook maar goed aangesien Kublai se geduld opgeraak het en hy ’n vloot van ongeveer 800-900 skepe gemonster en dit in November 1274 vanaf Korea laat vaar het. Die skepe het ’n leër van ongeveer 16 600-40 000 Mongole, Chinese en Koreane bevat. Op die buitegeleë eilande het die Mongole gedugte teenstand teëgekom maar die invalsvloot het tot by Hakata Baai gevorder waar dit op 19 November aan land gegaan het.

The Mongol Scroll, 1293 CE
Die Mongoolse boekrol, 1293 HJ
Mōko Shūrai Ekotoba (Public Domain)

Alhoewel hulle miskien voorbereid was, was die totale Japannese weermag steeds net ’n skamele 4 000-6 000 man. Te danke aan hulle getalleoorwig, meerderwaardige wapens en massakoördinering van troepbewegings – waaraan die Japannese nie gewoond was nie aangesien hulle verkies het om individuele krygers toe te laat om hulle eie enkele teiken in hulle weergawe van middeleeuse oorlogvoering te kies – het die Mongole die eerste skermutselings gewen. Eienaardig genoeg het die invallers Japan nie dieper binnegeval nie. Moontlik was dit weens bevoorradingsprobleme of die dood van die Mongoolse generaal, Liu Fuxiang. Dalk is dit ook moontlik dat die hele “inval” bloot ’n verkenningstog was. Wat ook al die motivering, die invallers het die nag by hulle skepe deurgebring en op 20 November na die veiligheid van die baai teruggetrek. Dit was ’n noodlottige besluit want volgens sommige weergawes het ’n verskriklike storm uitgebreek wat tot ’n derde van die Mongoolse leër gedood en die vloot ernstig beskadig het. Die aanvallers was dus toe verplig om na Korea terug te val.

Kublai Khan het hom weereens op diplomasie beroep en in 1275 nog twee afvaardigings na Japan gestuur en geëis dat tribuut betaal word. Hierdie keer was die Japannese nog meer minagtend en het hulle die ambassadeurs onthoof. Die Japannese het hierdie tussenpose benut om nog fortifikasies te bou en hulle vir die onvermydelike tweede inval voorberei.

Kublai Khan se invalsvloot van Junie 1281 was aansienlik groter as die eerste een. Te danke aan sy onlangse oorwinning oor die Song en die verkryging van hulle vloot was daar hierdie slag 4 400 skepe en ongeveer 100 000 man, weereens ’n mengsel van Mongoolse, Chinese en Koreaanse krygers. Hakata het weereens die ergste van die aanval verduur maar die nuwe fortifikasies daar het die toets deurstaan. Ná swaar verliese het die Mongole na Iki Eiland teruggeval maar die Japannese het klein bootjies gebruik om hulle met konstante aanvalle te teister. Kublai was egter in staat om versterkings – moontlik nog 40 000 man – vanaf China te stuur. Die gesamentlike vlote het toe ooswaarts beweeg en Takashima aangeval waar ’n veldslag op 12 Augustus plaasgevind het.

Mongol Invasion of Japan, 1281 CE
Mongoolse inval van Japan, 1281 HJ
Unknown Artist (Public Domain)

Verwoede gevegte het weke lank geduur en die invallers se voorraad het waarskynlik min begin raak. Toe het die weer weereens ingemeng en chaos veroorsaak. Op 14 Augustus het ’n tifoon die grootste deel van die Mongoolse vloot vernietig deur skepe wat as beskerming teen Japannese aanvalle aan mekaar geketting was, te verwoes en die onbeheerbare – en nie juis baie goed geboude nie – vaartuie teen die kuslyn te vermorsel. Van die helfte tot twee derdes van die Mongoolse mag het omgekom en nog duisende het aan land gespoel of het sonder heenkome op die strand beland, waar die meeste van hulle tereggestel is. Die skepe wat oorleef het, het na China teruggekeer. Die stormwinde wat die Mongoolse skepe óf veilig van die Japannese kus weggewaai óf gesink het, is die nuwe naam kamikaze of “hemelse wind” gegee aangesien dit beskou is as ’n antwoord op die Japannese vertoë tot Hachiman, die Shinto-god van oorlog, om hulp te stuur om die land teen ’n vyand met ’n geweldige getalleoorwig te beskerm.

Dood en nalatenskap

Soos Japan is Suidoos-Asië in verskeie land- en seeveldtogte aangeval maar hulle blyk ook ’n ontwykende prys te gewees het, met die inval van Viëtnam (1257, 1281 en 1286), Burma (1277 en 1287) en Java (1292) wat slegs beperkte sukses behaal het en die Mongoolse leërs wat onbekende ervarings soos bedompige woude, parasitiese siektes en oorlogsolifante teëgekom het. Kublai het nooit die handdoek met Japan ingegooi nie en aangehou om onsuksesvolle diplomatieke sendings te stuur om die land te oortuig om by die Chinese tribuutstelsel aan te sluit.

Kublai se latere bewind was egter ’n bietjie teleurstellend maar hy kon wel daarin slaag om ’n relatiewe vreedsame situasie deur Asië te bevorder – die sogenaamde “Pax Mongolica”. Daar was af en toe ontevrede rommelings gewees, veral wanneer belastings gehef is om Kublai se uiters duur buitelandse ondernemings te finansier. In die vroeë 1290's HJ was daar ’n groot rebellie in Tibet en die ander afstammelinge van Djenghis Khan, veral die Ogedeide het aan China se westelike grense aangehou knibbel. Die keiser se gesondheid het ook agteruitgegaan en Kublai, erg oorgewig, het aan chroniese jig en rumatiek gely.

Kublai is in 1294 op die ouderdom van 79 of 80 aan natuurlike oorsake oorlede – ’n uiters gevorderde ouderdom vir Mongoolse leiers wat dikwels ’n harde lewe gelei het. Soos wat die tradisie was, is die liggaam na ’n geheime ligging, waarskynlik in Mongolië, geneem en begrawe; moontlik in ’n weelderige tombe, maar dié is nooit gevind nie. Kublai is deur sy kleinseun Temur as khan en keiser van China (r. 1295-1308) opgevolg nadat sy eerste keuse – sy seun Zhenjin (1243-1285) – voortydig gesterf het. Die Yuan Dinastie wat Kublai gestig het, het ongeveer 30 jaar se stabiliteit geniet maar is daarna deur dinastiese twiste geteister en het nooit weer die hoogtes van Kublai se bewind bereik nie. Die Yuan Dinastie het tot met die opwagting van die Ming Dinastie in 1368 oor China geheers.

Te danke aan Marco Polo en ander het die mag en rykdom van Kublai se hof ’n blywende indruk op die wêreld se verbeelding gemaak, en het die naam van sy somerhoofstad Xanadu spreekwoordelik vir weelde en ’n aangename leefstyl geword. Djenghis Khan geniet miskien die aansien onder die nageslag as die vernaamste en mees gevreesde Mongoolse militêre leier maar Kublai het die blywende reputasie verwerf as die man wat die vrugte pluk van die Mongoolse oorhand in die Middeleeue en het, in die oë van die Weste, vir ewig die wesenlike oosterse potentaat geword.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2019, October 07). Kublai Khan [Kublai Khan]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17878/kublai-khan/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Kublai Khan." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig October 07, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17878/kublai-khan/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Kublai Khan." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 07 Oct 2019. Web. 08 Dec 2021.