Viking-oorlogvoering

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$951 / $3000

Definisie

Emma Groeneveld
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 01 June 2018

Oorspronklike teks in Engels: Viking Warfare

The Battle of Stiklestad (by Peter Nicolai Arbo, Public Domain)
Die Slag van Stiklestad
Peter Nicolai Arbo (Public Domain)

Viking-oorlogvoering, tesame met strooptogte as sleutelkomponent, is onlosmaaklik verbind aan die uitbreiding van die Skandinawiese invloed deur die Noord-Atlantiese Oseaan en tot in die Middellandse See tydens die Viking Tydperk (ca. 790-1100 HJ), waartydens die Vikings se ruim gebruik van skepe, goeie strategiese beweeglikheid en 'n goeie begrip van logistiek verseker het dat hulle vir jare aaneen uitlandig verwoesting kon saai. Dit was hierdie faktore wat Viking-oorlogvoering van dié van hul tydgenote onderskei het; nieteenstaande openbare verbeelding (en televisie) wat dikwels barbaarse berserkerkrygers met skuim om die mond uitbeeld wat onbeskryflike wreedaardighede teen hulle ongelukkige slagoffers pleeg, was Viking-krygers waarskynlik niks brutaler as hul eweknieë nie.

Die Skandinawiese samelewing het nie destyds uit verenigde koninkryke bestaan soos ons dit vandag ken nie; dié het eers teen die einde van die Viking Tydperk sodanige vorms aangeneem. Ten spyte daarvan dat die woord “Viking” (Oudnoors víkingr) nou dikwels as oorkoepelende term gebruik word, is die oorspronklike betekenis van die term spesifiek “stroper” of “seerower”, en fara i víking (“om op ekspedisie te gaan”) hou nie verband met skadelose avonture nie, maar met gewapende strooptogte deur krygers wat uitlandig met hul swaarde en strydbyle onder winsgewende teikens ingelê het. Die leeueaandeel van hierdie strooptogte is deur individuele krygsbendes onderneem wat kragte kon saamsnoer wanneer dit nodig was en wie se leierskap van geringe, plaaslike opperhoofde tot grawe en konings gewissel het. Die Vikings se kenmerkende toeslaan-en-terugtrektaktiek is gesteun deur die vestiging van oorwinterbasisse van waar veldtogte geloods en nog grond verower kon word; dit het gelei tot die daarstelling van verskeie volwaardige Viking-gebiede ver van die Skandinawiese hartland af.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Wapens en wapenrusting

Wat betref wapentuig en wapenrusting, maak ons baie staat op die argeologiese rekord aangesien daar nie veel tegniese beskrywings in die bronne te vind is nie. Die Vikings het die volgende wapens en wapenrusting gebruik:

  • swaarde (sowel enkel- as tweesnydend)
  • byle
  • dolke (of 'n kortswaard/sax/seax – gewild onder Germaanse volke tydens hierdie era)
  • spiese
  • pyl-en-boë
  • skilde
  • helms
  • maliekolders

Met Viking-krygsbendes wat uit allerhande streke van regoor Skandinawië afkomstig was, was daar geen algemene tendense nie maar uiteraard was daar 'n horde streeksvariasies en nie iets soos 'n standaarduitrusting nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

BYLE, 'N TIPIESE VIKING-WAPEN, WAS BAIE GEWILD EN ANDERS AS SWAARDE, IS BYLE MOONTLIK DEUR DIE HELE VIKING-SAMELEWING GEBRUIK.

Viking-swaarde is van yster gemaak en was bedoel om met een hand vasgehou te word; breë groewe langs die middel af het die gewig daarvan 'n bietjie verminder. Tweesnydende swaarde van ongeveer 90 cm lank was blykbaar die voorkeurstandaard. Die swaarde kon pragtig versier wees met geometriese patrone, dieremotiewe of – in die Laat Viking Era – selfs Christensimbole, in silwer- en/of koperinlegsel. 'n Houtskede het die stel afgerond. Aangesien swaarde in daardie dae die duurste wapens beskikbaar was, was dit nie binne elke kryger se bereik nie; die eienaars daarvan het nogal 'n stelling gemaak.

Byle, 'n tipiese Viking-wapen, was ook baie gewild. Hulle is meestal bekend uit talryke bylkoppe wat nie net in ryker grafte langs ander wapens gevind is nie, maar ook as die enkele wapen in eenvoudiger grafplekke wat aandui dat byle, anders as swaarde, denklik oor 'n breër ekonomiese spektrum gebruik is. 'n Kortswaard of dolk, ook 'n sax of seax genoem na aanleiding van die Saksiese voorbeeld, kon in 'n worstelstryd sy eienaar uit 'n benarde posisie red, of dien as rugsteunwapen. Ander Viking-wapens sluit die pyl-en-boog in, sowel as die swaar dryfspies of lans wat van yster gemaak is en met blaarvormige lemme toegerus is; laasgenoemde se skag was maklik tot 2 m lank. Interessant genoeg, sinspeel die literatuur ook op die moontlike gebruik deur Skandinawiërs van een of ander soort beleëringswerktuie, alhoewel die houtoorblyfsels daarvan lank terug in stof sou verander het, en ons kan maar net spekuleer oor die presiese ontwerp en gebruik daarvan.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Viking Age Helmet
Viking Ouderdom Helmet
NTNU Vitenskapsmuseet (CC BY)

Skilde was deel van die standaarduitrusting; wette het selfs gestipuleer dat daar van skepe se bemanning verwag is om almal 'n skild te dra. Rond en van hout gemaak, is die skilde vermoedelik ook met leer bedek, en het dit in 'n verskeidenheid kenmerkende kleure gekom. Kennis word gedra van maliekolders maar hulle was seldsaam – dit kon dalk net te duur gewees het om sommer deur enige kryger gedra te word – en alhoewel leer eerder gebruik kon word, is dit moeilik om te sê hoe algemeen leerwapenrusting was. Helms is gedra maar, teenstrydig met algemene uitbeeldings, was hulle nie gehoring nie aangesien die Vikings nie gaande daaroor was om in hulle opponente se baarde verstrengel te raak of ander onpraktiese gevolge te verduur nie. Die paar helms wat oorleef het, wys 'n spitshelm met 'n eenvoudige ysterontwerp met oogskerms en dalk 'n neusskut sowel as 'n gemaliede bedekking wat agter afgehang het om die eienaar se nek te beskerm. Leerhelms wat op soortgelyke wyse gestruktureer is, is straks (dalk algemener) ook gebruik.

Strooptogte

Soos die 8ste eeu HJ op 'n einde geloop het, het die eerste tyding van Viking-strooptogte begin deursypel, soos die aanval in 793 HJ op die klooster by Lindisfarne aan die kus van Northumberland in wat nou Engeland is, en die aanvalle in 795 HJ op die eilande Rathlin en Iona naby Ierland. Hierdie vroeë strooptogte het kleinskaals geskied, skynbaar deur plaaslike groepe wat deur plaaslike leiers gemonster is, en het op kwesbare, blootgestelde teikens soos hierdie kloosters of handelsentrums aan die kus gefokus, en het gewoonlik nie ver binnelands gevorder nie. Kenmerkend was die Vikings se toeslaan-en-terugtrekstrategie waartydens hulle hul skepe vasgemeer het op die drempel van die plek wat hulle aanval, kosbaarhede en 'n slaaf of twee bymekaar gerakel het, en dan weggeseil of -geroei het voordat enige doeltreffende verdediging teen hulle geloods kon word.

AANGESIEN VIKING-SKEPE UITERS VINNIG EN LIG WAS, HET HULLE 'N SLEUTELELEMENT VAN VIKING-OORLOGVOERING GEVORM DEURDAT HULLE BLITSIGE KUSAANVALLE MOONTLIK GEMAAK HET, EN VIKINGS IN STAAT GESTEL HET OM MET RIVIERE OP TE VAAR EN TOT IN DIE BINNELAND TE PENETREER.

Viking-skepe was 'n sleutelelement van Viking-oorlogvoering, nie in terme van 'n seeslag nie maar omdat hulle uiters vinnig en lig was sodat hulle nie net blitsige kusaanvalle kon fasiliteer nie maar die Vikings ook in staat gestel het om met riviere op te vaar, en tot in die binneland te penetreer. Dit het goed te pas gekom aangesien 'n algemene toename in die omvang én frekwensie van Viking-strooptogte vir Brittanje, Ierland sowel as westelike Europa (veral in die Frankiese gebiede) teen die 830's HJ aangeteken is. Die Vikings het die skepe in hulle vlote van 'n handjievol tot honderde vermeerder, en het nou strooptogte op teikens verder binnelands uitgevoer, soos die aanvalle in 834-836 HJ op die vername handelsentrum Dorestad, ongeveer 80 km van die oop see af in wat nou Nederland is. Benewens die geringer opperhoofde wat ook in die kollig sou gebly het, het benoemde konings en grawe van die Skandinawiese samelewing – titels wat persoonlike status tuis aangedui het, maar nie noodwendig heerskappy oor groot gebiede nie – nou as leiers opgeduik. Soos Gareth Williams verduidelik:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Met die 'groot' krygsbendes van die laat negende eeu, sien ons soms verskeie konings of grawe wat hul strydmagte gesamentlik aanvoer, wat weereens sinspeel op die samesmelting van kleiner onafhanklike magte. Hierdie klaarblyklike gebrek aan 'n formele struktuur maak hulle prestasies in langtermynveldtogte en strategiese en logistieke beplanning selfs nóg indrukwekkender (199).

Die Vikings het eers in Ierland en toe ook in Engeland in vyandelike gebiede begin oorwinter, en basisse oorgeneem of gevestig. 'n Newe-effek hiervan was natuurlik dat dit hulle uiters kosbare beweeglikheid drasties verminder het en in Ierland het dit byvoorbeeld daartoe gelei dat hulle 'n hele paar nederlae gely het. Kennis moet egter geneem word dat dieselfde patroon – 'n toename van klein- tot grootskaalse strooptogte, gepaardgaande met oorwintering – nie vir alle Viking-verowerde gebiede gegeld het nie. In die 9de eeu HJ het Deense opperhoofde hulle vroeg reeds in Friesland gevestig en werk gemaak van die gebied se Frankiese opperheerskappy deur politieke verhoudings met die Franke te wiggel, en Noorse Skotland is denklik reeds sedert die aanvang van die 9de eeu HJ omvangryk betrek.

Viking Attack
Viking aanval
John Rickne, Community Manager, Paradox Interactive (Public Domain)

Stryd en strategie

Net soos die res van vroeë middeleeuse oorlogvoering in westerse Europa, kon Viking-oorlogvoering nie die belemmerende uitwerking van die winter op veldtogte en logistiek eenvoudig ignoreer nie. Gevolglik was dit oor die algemeen 'n seisoenale affêre met 'n inherente vakansie tuis in Skandinawië, maar toenemend in oorwinterbasisse en nedersettings sodra hulle uitlandig in Viking-beheerde gebiede gevestig is. Uit sodanige nedersettings kon die Vikings aan plaaslike politiek deelneem en taktvol kant kies, ooreenkomste met hul vyande aangaan, die betaling van skatpligtigheid verseker en nuwe veldtogte van stapel stuur.

Selfs met binnelandse veldslae het die Vikings se geliefde skepe, waar dit ook al aangewend kon word, uiters belangrik gebly. Die skepe se diepgang was gering genoeg om met die groot riviere op te kon roei terwyl dit enigiets van manskappe tot voorraad en buit vervoer het; dit het beteken dat wanneer ook al Vikings 'n veldtog gevoer het naby gebiede waar hulle skepe kon bereik, was daar geen behoefte aan stadige oorlandse bagasiekonvooie nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Maar dinge raak 'n bietjie wasiger wanneer dit kom by die spesifieke besonderhede van Viking-vegtery tydens veldslae:

Ons weet min van spesifieke strydtaktieke. Die verwysings wat ons wel het, doen aan die hand dat die skildmuur die algemeenste taktiese formasie was. Aangesien die skildmuur nie die ideale posisie was om aan die ontvangkant van pyle te wees nie – dit het 'n groot teiken gebied, met min maneuvreerbaarheid – kon boogskietery dalk ook gebruik word om dit op te breek, en die langboë wat ons weet in hierdie tydperk bestaan het, sou skilde en wapenrusting kon deurdring, alhoewel nie noodwendig diep nie (Williams, 28).

Alhoewel perde vir hul beweeglikheid gebruik is, het ruiters altemit afgeklim om te veg. Strydvaandels is naby die leier of leiers gedra om stellig status aan te dui. Van hierdie vaandels het 'n raaf uitgebeeld, soos die een wat Harald Hardrada teen die Angel-Saksers by Stamford Brug (1066 HJ) gebruik het. Alhoewel 'n oor en weer geskree as kommunikasie tydens kleiner skermutselings kon gedeug het, kan 'n mens natuurlik net so hard skreeu; dierehorings kon ook geblaas word om seine uit te basuin en om hande uit die mou te steek. Vir die oordra van woordryker bevele en inligting, sou boodskappers met groot spoed oor die slagveld geyl het.

Viking Longship Replica
Viking Langskip Replika
Emma Groeneveld (CC BY)

Een Viking-mag wat sodanige kommunikasiemaatreëls onontbeerlik sou gevind het, is die Deense “groot leër” wat vanaf 865 HJ verwoesting deur Engeland gesaai het, en jare lank veldtog gevoer het en die koninkryke van Oos-Anglië en Northumbria sowel as die grootste deel van Mercia op hul knieë gedwing het. Selfs Wessex, onder hulle leier koning Alfred (r. 871-899 HJ), het gesukkel om weerstand teen die Viking-magte te bied maar het uiteindelik 'n beslissende oorwinning behaal. Die Vikings se groot leër het ca. 880 HJ ontbind, met die krygsbendes wat blykbaar die geleentheid aangegryp het om voordeel te trek uit 'n troonopvolgingstryd in die koninkryk van die Franke waar hulle 879-891 HJ bedrywig was. Buigsaamheid en ywerige opportunisme was deurslaggewend.

Organisasie

'n Groot leër sou uit verskeie krygsbendes bestaan het, maar ons weet redelik min van die presiese organisering of bevelstruktuur. Plaaslike konings, grawe en opperhoofde kon almal moontlik 'n individuele deel van die leër gelei en spesifieke bevelsposisies beklee het en dalk een of ander soort hiërargiese orde gevolg het. By die Slag van Ashdown (871 HJ), waar koning Alfred die groot Deense leër verslaan het, is een van die Deense vleuels byvoorbeeld deur twee konings gelei terwyl die ander deur “baie hoofmanne (many jarls)” (Williams, 19) aangevoer is. Soos die Skandinawiese koninkryke 'n al meer verenigde vorm begin aanneem het, was kokkedoorkonings soos die Deense koning Sweyn Forkbeard (r. 986-1014 HJ) straks verantwoordelik vir 'n hegter hiërargie waarin hulle self die bevel gevoer het oor die bemanning van verskeie skepe, aangevul deur hul vernaamste opperhoofde se persoonlike krygsmag. Die totale aantal krygers het dan waarskynlik duisende behels.

Die verbintenis tussen verskillende soorte leiers, en tussen hulle en hul bemanning, kon die vorm van 'n familieband, of 'n persoonlike of sosiale band aangeneem het, of kon deur buit of skatspligtigheid aangevuur wees. Iets soos 'n sistemiese opkommandering vir Viking-vlote het vermoedelik nie bestaan nie. Alhoewel die term leiðangr 'n mag direk onder beheer van die koning aangedui het (en in hierdie hoedanigheid kon dit sporadies tydens die Viking Tydperk gebruik geword het), is die spesifieke verbintenis met opkommandering slegs bekend uit bronne wat vanaf die middel 12de eeu HJ en daarna dateer. Ondernemings tydens die Viking Tydperk was skynbaar hoofsaaklik privaat aangeleenthede.

Harald Hardrada, Battle of Fulford Gate
Harald Hardrada, Slag van Fulford Gate
Mathew Paris (Public Domain)

Dit is al aan die hand gedoen dat die krygseenhede hul oorsprong in die bemanning van skepe gehad het en dit klink heel logies, in ag genome die Vikings se groot afhanklikheid van skepe en die sin vir kameraderie wat af en toe uit die wedersydse bystand met seesiekte sou ontstaan het. Wat die plunderaars en krygers self aanbetref: Volgens sowel die sagas as die skeletale oorskot wat al gevind is, was hulle oor die algemeen jongmanne. Tot dusver het niks hiervan die bestaan van vroue-Viking-krygers sonder twyfel bewys nie. 'n Mens kan jou egter voorstel dat ervare krygers ook van onskatbare waarde sou wees en 'n mate van stabiliteit en kennis met hulle sou saambring. Trouens, gedetailleerde beskrywings van die Vikings se jarelange veldtogte in die 9de eeu HJ skilder 'n prent van adolessente of jong volwassenes wat aansluit en tot in hul dertigs en ouer aktief bly. Interessant genoeg het bewyse getoon dat troepe blykbaar ook gedeeltelik uit gebiede buite Skandinawië gewerf is, met stawing van 'n konneksie met die Baltiese See ten opsigte van garnisoene in Denemarke. Selfs die Skandinawiese magte wat in die 10de eeu HJ in Engeland aktief was, was 'n mengelmoes eerder as die weerspieëling van een of ander soort “nasionale” leër.

Onderskeidende kenmerke

Nieteenstaande die skyn van die teendeel, was Viking-oorlogvoering glad nie so 'n groot ongerymdheid op die vroeë middeleeuse Europese landskap nie. Buiten die feit dat die speelveld tegnologies redelik gelyk was, was strooptogte met plunder as doelwit nouliks eksklusief aan die Vikings; trouens, vóór die Vikings was dit selfs tipies van Ierland en Brittanje, en dit het oor die algemeen wydverspreid deur Europa voorgekom. Skatpligtigheid het ook buite Viking-sfere plaasgevind, en in vroeë middeleeuse Brittanje was dit selfs sentraal aan die verhouding tussen konings.

ALHOEWEL HULLE VOLGENS MODERNE STANDAARDE BRUTAAL WAS, HET DIE VIKINGS NOULIKS NIÉ TUISGEHOORT IN VROEË MIDDELEEUSE EUROPA WAARVAN DIE ANDER INWONERS GEENSINS BY HULLE HOEF KERS OP TE GESTEEK HET NIE.

Skepe is ook deur die Angel-Saksers én Franke gebruik. Dit was egter die Vikings se spesifieke skeepstegnologie – die bou van vinniger, seewaardige skepe met geringe diepgang, perfek vir blitsige aanvalle, sowel as om vrag te vervoer – en die manier waarop hulle hul skepe met hulle oorspronklike toeslaan-en-terugtrekstrooptogte aangewend het, wat 'n uiters kenmerkende faktor was. Ander sleutelelemente wat hierby inskakel, is 'n sterk fokus op strategiese beweeglikheid: skepe aangevul deur die gebruik van perde op land; goeie logistieke bewustheid en vermoëns wat goeie bevoorrading tydens 'n veldtog moontlik gemaak het; goeie militêre intelligensie en 'n neus om kwesbare teikens te kies, sowel as om vinnig op veranderende situasies te reageer; en hulle vloeiende struktuur van individuele krygsbendes onder leiding van privaat leiers. Maar stellig troon oorwintering as die belangrikste bo die res uit. Die basisse wat in hierdie konteks gebou of oorgeneem is, het die vernaamste monsterpunte geraak van waar na die omliggende gebied versprei kon word.

Vir diegene wat hulle teen hierdie kombinasie wou verset, was direkte vegtery teen die Vikings gewoonlik meer van 'n pleister, so ook die betaling van skatpligtigheid wat vir 'n tydjie vrede kon koop. Gareth Williams verduidelik “dit was net toe die twee kwessies van beweeglikheid en bevoorrading getakel is, dat die Viking-strooptogte suksesvol gestuit kon word” (198). Gefortifiseerde brûe is deur Charles die Kaalhoofdige, koning van die Wes- Frankiese Ryk (r. 843-877 HJ) gebruik om die Vikings se toegang tot die riviere te blokkeer, sowel as deur Alfred die Grote van Wessex (r. 871-899 HJ), wie se gelyktydige kusverdediging onder leiding van skepe en die bou van gefortifiseerde dorpe (burhs) regoor Wessex die Vikings uiteindelik daar gestuit het.

Viking Age Swords
Viking Ouderdom swaarde
Kleon3 (CC BY-SA)

'n Blywende reputasie

Dit is waar dat Skandinawiërs met die hulp van swaard en skip hulle invloed tydens die Viking Tydperk – van die Noord-Atlantiese Oseaan tot by die Middellandse See, en selfs so ver as Konstantinopel – baie uitgebrei het. Sowel die neiging in kontemporêre uitbeeldings as – merendeels – hulle hedendaagse beeld (veral in populêre kultuur) kan 'n mens onder die indruk bring dat die Europese seë en riviere in hierdie tydperk eenvoudig met Viking-stropers gewemel het. Viking-krygers word dikwels as wreedaardig en brutaal uitgebeeld en, die belangrikste van alles, as heidens wat hulle ongelukkige prooi geen genade getoon het nie, met disproporsionele suksesse op die slagveld. Maar hierdie karakterisering word nie net uit konteks geruk nie maar word ook oordryf en is selfs verkeerd.

Kontemporêre weergawes is dikwels deur monnike – eerste aan die ontvangkant van Viking-strooptogte op kloosters en soortgelyke plekke – of deur ander teikens neergepen. Dit is dus geen verrassing dat hulle nie juis die Vikings se lof besing het nie. Hulle was briesend dat hierdie heidene kerke kon aanval en kerklui afmaai, al weet ons dat Christenheersers ook soms kerke aangeval het. Bowendien was Viking-strooptogte in die vroeë plunderjare net sporadies en het dit skaars plaaslike instellings te gronde gerig, en buitendien was strooptogte nie tot die Vikings beperk nie. En alhoewel hulle volgens moderne standaarde brutaal was, het die Vikings nouliks nié tuisgehoort in vroeë middeleeuse Europa waarvan die ander inwoners geensins by hulle hoef kers op te gesteek het nie.

Germanic Warriors with Captured Soldiers
Germaanse krygers met gevange soldate
Mohawk Games (Copyright)

Voorts het die Vikings se suksesse op die slagveld, soos Gareth Williams dit stel, “minder te danke gehad aan die wilde krygers van die romantiese verbeelding, en meer aan omsigtige strategieë en logistieke beplanning, 'n vaardige kombinasie van oorlogvoering en diplomasie, en goeie onderliggende organisasie” (74). Die bekende berserkers wat in die Oudnoorse literatuur verskyn, afgesonder in hulle “berserkte woede” waartydens hulle brul, hul skilde byt en onkwesbaar is, is eerder literêre figure. Hulle kan wellig gebaseer wees op 'n kultus gemaskerde krygers wat in die Germaanse oudheid bestaan het en dikwels aan Odin gekoppel word, maar hulle moenie op 'n té letterlike manier in Viking-leërs voorgestel word nie. Dat Viking-krygers doeltreffend was en as sodanig erkenning geniet het, word weerspieël in dié van hulle wat die Bisantynse keiser in die keurafdeling bekend as die Varangiese Garde gedien het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Emma Groeneveld
Emma has studied History; Ancient History. During her Master's she focused on Herodotus as well as the juicy politics of ancient courts, but more recently she has been immersing herself in everything prehistoric.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Groeneveld, E. (2018, June 01). Viking-oorlogvoering [Viking Warfare]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17050/viking-oorlogvoering/

Chicago-styl

Groeneveld, Emma. "Viking-oorlogvoering." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig June 01, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17050/viking-oorlogvoering/.

MLA-styl

Groeneveld, Emma. "Viking-oorlogvoering." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 01 Jun 2018. Web. 30 Nov 2021.