Die Normandiese verowering van Engeland

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$951 / $3000

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 24 January 2019

Oorspronklike teks in Engels: Norman Conquest of England

Norman Cavalry at Hastings, Bayeux Tapestry (by Unknown Artist, Public Domain)
Normandiese kavallerie by Hastings – Bayeux-muurbehangsel
Unknown Artist (Public Domain)

Die Normandiese verowering van Engeland (1066-71) het onder aanvoering van William die Veroweraar geskied wat koning Harold II by die Slag van Hastings verslaan het. Met dié dat William die grond onder sy mede-Normandiërs herversprei het, is die Angel-Saksiese elite hulle mag ontneem. Die Normandiër is op Kersdag 1066 as William I (r. 1066-1087) van Engeland gekroon, waarna dit die nuwe orde vyf jaar sou neem om volle beheer oor Engeland te verkry.

Ná Harold se dood by Hastings moes William noodgedwonge verskeie groot invalle en opstande afweer maar toe die nuwe orde eers gevestig is, was Normandiese Engeland getuie van diepgaande veranderinge op alle gebiede van die samelewing. Hierdie veranderinge het ’n herstrukturering van die kerk ingesluit, sowel as vernuwings in militêre en godsdienstige argitektuur, die evolusie van die Engelse taal, die verspreiding van feodalisme en veel ruimer kontak met kontinentale Europa, veral Frankryk.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die aansprake op die Engelse Kroon

Toe die Normandiese verowering in 1066 begin het, was Harold II, voorheen Harold Godwinson, graaf van Wessex, die koning van Engeland. Harold is op 6 Januarie 1066 gekroon en het skaars kans gehad om aan sy troon geheg te raak toe dit een van die mees betwiste trone in middeleeuse Europa geword het. Twee ander mans het hulself óók as die regmatige koning van Engeland beskou, en albei van hulle was uiters gevaarlike en ervare militêre leiers.

William, hertog van Normandië (r. vanaf 1035) het sy aanspraak gegrond op sy verhouding met Harold se voorganger, Edward die Belyer (r. 1042-1066) aan wie hy vêrlangs verwant was (graaf Richard I van Normandië was Edward se grootvader en William se oorgrootvader). William het ook aangevoer dat die Engelse koning, sonder enige kinders van sy eie, die Normandiër een maal belowe het dat hy Edward se erfgenaam sou wees. Maar op sy sterfbed het Edward toe die Angel-Saksiese Harold, ’n lid van die uiters invloedryke Godwine-familie en op daardie stadium die mees vooraanstaande militêre bevelvoerder in Engeland, as sy amptelike erfgenaam gekies. Die Normandiërs het ook aangevoer dat Harold in 1064 ’n besoek aan Normandië afgelê het waar hy deur die graaf Guy van Ponthieu gevange geneem en toe aan William oorhandig is. ’n Voorwaarde van Harold se vrylating – aldus die Normandiese weergawe van die storie, en ook so uitgebeeld in die Bayeux-muurbehangsel – was dat die graaf van Wessex belowe het om William se leenman te raak en die weg vir ’n inval voor te berei. William het dus verontreg gevoel en was geheel en al gewillig om sy eis met ’n volskaalse militêre inval van Engeland af te dwing.

Verwyder Advertensies

Advertisement

HAROLD II HET DIE ONMIDDELLIKE SITUASIE IN DIE GESIG GESTAAR DAT TWEE INVALLE IN TEENOORSTAANDE UITHOEKE VAN SY KONINKRYK OP PRESIES DIESELFDE TYD GAAN PLAASVIND.

Die omvang van William se voorbereidings in die somer van 1066 was sodanig dat Harold baie goed geweet het wat kom en hy het ’n leër byeengetrek om die Normandiërs se gevreesde aankoms in te wag. Maar ongelukkig vir Harold het die tyd verbygegaan sonder dat die invallers hul opwagting gemaak het, sodat hy genoop was om sy leër te laat uitspan. Boonop het die derde aanspraakmaker op die Engelse troon dié tydstip gekies om die ingewikkelde politieke drama te betree.

Harald Hardrada was die koning van Noorweë (ook bekend as Harold III, r. 1046-1066) en hy het twee twyfelagtige punte gehad om sy aanspraak te staaf: Eerstens was hy daarvan oortuig dat hy ook die regmatige heerser van Denemarke was, ’n koninkryk wat lank reeds soewereine aanspraak op dele van Engeland gemaak het, en tweedens was sy voorganger, Sweyn van Noorweë, die buite-egtelike kind van Aelfgifu, wederhelf van koning Cnut (ook bekend as Canute), koning van Engeland van 1016 tot 1035. Nes William, was Hardrada gereed om sy aanspraak met mag af te dwing, en in September 1066 het hy ’n invalsvloot versamel wat na Engeland gevaar het. Harold het nou die onmoontlike situasie in die gesig gestaar van twee invalle wat tegelykertyd in teenoorstaande uithoeke in sy koninkryk gaan plaasvind; 1066 sou allermins uiters gebeurtenisvol wees.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Slag van Hastings

Hardrada se inval het aanvanklik suksesvol begin toe hy op 20 September ’n Angel-Saksiese leër onder aanvoering van twee onervare Engelse grawe by die Slag van Fulfordpoort naby York verslaan het. Harold het toe ’n tweede leër noordwaarts laat opruk en vyf dae later ’n beslissende oorwinning by die Slag van Stamfordbrug – ook naby York – behaal waarin Hardrada, sowel as sy bondgenoot, Harold se verraaierbroer Tostig, gesneuwel het. Volgende het William op 28 September met sy invalsvloot by Pevensey in Sussex in die suide van Engeland aan land gekom. Harold het geen opsie gehad nie as om na die suide terug te val en vir die tweede slag ’n vyand die stryd aan te sê; spoed was van die uiterste belang aangesien die Normandiërs reeds begin het om die suidooste van Engeland plek-plek in ligte laaie te laat.

Battle of Hastings, Bayeux Tapestry
Die Slag van Hastings – Bayeux-muurbehangsel
Unknown Artist (Public Domain)

Harold het op 6 Oktober in Londen aangekom en alle magte gemonster wat hy kon – ’n mengsel van die leër wat by Stamfordbrug geveg het, sowel as plaaslike opgekommandeerde troepe (die fyrd) uit die distrikte wat minder goed opgelei was. Die twee leërs, elkeen waarskynlik ongeveer 5 000 man sterk, het op 14 Oktober by Hastings teen mekaar te staan gekom. Die Angel-Saksiese leër het hoofsaaklik uit infanterie bestaan, met die koning se huscarls die elite, uitgerus met gemaliede harnaste en massiewe strydbyle. Daarenteen het die Normandiërs en hul Franse bondgenote ’n aansienlike aantal boogskutters gehad, sowel as ’n eenheid kruisboogskutters, en minstens 1 000 ruiters.

DIE TRIOMFANTLIKE NORMANDIESE HERTOG IS OP KERSDAG 1066 IN WESTMINSTER ABDY AS WILLIAM I VAN ENGELAND GEKROON.

Te danke aan die Engelse taktiek om mekaar met hul skilde te beskerm – die sogenaamde skildmuur – het hulle aanvanklik goed weerstand teen die Normandiese aanvalle gebied terwyl Harold ’n effense verhewenheid bekend as ’n “hamerkoprant” beset het. Maar toe die dissipline onder die Angel-Saksers verkrummel het en krygers tydens ’n (moontlik geveinsde) terugval van die Normandiese kavallerie op die vyand se hakke met die heuwel af gestorm het, het die stryd in William se guns gedraai. Die Normandiese kavallerie het uiteindelik daarin geslaag om die Angel-Saksiese skildmuur te verbrysel en nadat Harold en sy twee broers gedood is, was William se oorwinning verseker. Volgens oorlewering is die Engelse koning deur ’n pyl in die oog neergevel, waarna hy aan stukke gekap is terwyl hy plat op die grond gelê het. Dit was ’n groot oorwinning vir William, wat sy manskappe laat rus het en toe voorberei het om sy inval voort te sit deur die suidooste van Engeland te oormeester en Londen in te neem.

Verwyder Advertensies

Advertisement

William ruk op na Londen

Die groot stad Londen was een van William se prioriteite maar dit is beskerm deur sowel die Thamesrivier in die suide as die feit dat ’n maklik verdedigbare gefortifiseerde brug die enigste plek was waar die rivier oorgesteek kon word. Gevolglik het die Normandiese hertog besluit om op ’n baie minder direkte manier aan te val. William het basies met ’n reuse-ompad rondom die suidooste van Engeland beweeg en was toe uiteindelik in ’n posisie om die paaie na Londen af te sper en in November 1066 die stad vanuit die noorde aan te val. Onderweg het versterkings vanuit Normandië aan land gekom, en die belangrike dorpe en fortifikasies Romney, Dover, Winchester en Canterbury is almal ingeneem. Op die ou einde het William se suksesse elders en die gebrek aan ’n beduidende leër ná die nederlaag by Hastings daartoe gelei dat die oorblywende Angel-Saksers en hulle kopstuk Edgar Ætheling, kleinneef van Edward die Belyer (r. 1042-1066), die stad en die koninkryk sonder teëstribbeling prysgegee het.

William the Conqueror, Bayeux Tapestry
William die Veroweraar – Bayeux-muurbehangsel
Myrabella (Public Domain)

Die triomfantlike Normandiese hertog is op Kersdag 1066 in Westminster Abdy as William I van Engeland gekroon, en sodoende het 500 jaar se Angel-Saksiese heerskappy ten einde gekom. Burgheuwel-en-binneplaaskastele is orals gebou en oor die lengte en breedte van die verowerde gebied het Normandiese here landgoedere oorgeneem. William wou nou op die noordelike helfte van Engeland fokus en die voortslepende Angel-Saksiese rebellie daar onderdruk, wat Eadwine, graaf van Mercië en Morcar, graaf van Northumbria – wat albei Londen in die stad se uur van nood versaak het – ingesluit het. Die jaar 1066 was uiters suksesvol vir die Normandiërs maar vyf jaar se afwisselende oorlogvoering het nou op William gewag voordat hy al die dele van sy koninkryk ten volle kon beveilig.

Rebellies, invalle en die delging van die noorde

In die somer van 1067 het die eerste van ’n lang rits bedreigings op die horison verskyn. Die eerste gevaar het nogal uit onverwagte oorde gespruit, in die vorm van Eustace van Boulogne, een van William se voormalige bondgenote, wat Dover met ’n vloot uit noordelike Frankryk aangeval het. Net nadat hierdie aanval afgeslaan is, het nog ’n bedreiging by Exeter opgeduik waar ’n groot opstand kop uitgesteek het, hoofsaaklik aangehits deur William se drukkende nuwe belastings. Die koning het persoonlik daarheen opgeruk en die stad 18 dae lank beleër totdat dit in Januarie 1068 oorgegee het. Teen die lente het William veilig genoeg gevoel om sy vrou Mathilda vanaf Normandië oor te nooi, en haar op 11 Mei in Westminster Abdy as die koningin van Engeland te laat kroon.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Maar die gevaar was geensins verby nie en het sig opwagting weer gemaak in die gestalte van Godwine, seun van Harold II, wat hom toe in selfopgelegde ballingskap in Ierland bevind het. Godwine het ’n vloot rebelle en seerowers bymekaargeskraap en in die somer van 1068 by Avonmouth op die weskus van Engeland geland. Bristol was die teiken maar die stad het die plaaslike distriksleër gemonster en hulle teen die invallers verset, sodat die aanval afgeslaan is en Godwine noodgedwonge na Ierland moes terugkeer.

Map of the Norman Conquest of England
Kaart van die Normandiese verowering van Engeland
AwesomeStories.com (Copyright, fair use)

Ten tyde van hierdie teëstand teen Godwine het ’n rebellie in York uitgebreek. Hierdie belangrikste stad van die noorde, en eintlik die hele geweste, was nog altyd moeilik om geregeer te word deur konings wat ver in die suide gesetel was. William het weereens onwrikbaar opgetree en noordwaarts opgeruk en enige rebelse gehugte en dorpies wat hy teëgekom het, ten gronde gerig en kastele gebou, onder meer dié by Warwick en Nottingham. Die rebelle by York het hulle geskaar om hulle kopstuk Edgar Ætheling wat tot dusver voordeel getrek het uit sowel die veilige hawe as aktiewe ondersteuning van die koning van die Skotte, Malcolm III (r. 1058-1093) wat met Edgar se suster Margaret getroud is. Die rebelle wou die grond terughê wat baie van hulle sedert die Slag van Hastings verloor het, en hulle wou Edgar as hulle koning hê. Gelukkig vir William het sy leër tydens hulle noordwaartse opmars so meedoënloos te werk gegaan dat teen die tyd wat die Normandiërs York bereik het, die stad dit wys geag het om eerder oor te gee. William het ’n kasteel laat bou, dit deur ’n garnisoen laat beset en gyselaars geneem – alles om seker te maak die stad vergeet nie wie die regmatige koning was nie.

Die vrede het nie lank gehou nie en in Januarie 1069 is sowel Durham as York deur rebelleleërs geplunder. Nogmaals het William noordwaarts opgetrek en hierdie keer het hy die rebelle in ’n veldslag verslaan en verdryf. Met nouliks ’n kans om op sy louere te rus, het William voor nóg ’n buitelandse bedreiging te staan gekom, hierdie keer dié van koning Sweyn II van Denemarke (r. 1047-1076). Sweyn het sy broer Asbjorn en 300 skepe gestuur om die noordoostelike kus van Engeland aan te val om te kyk wat hulle van die ongevestigde koninkryk kon buit. Hier het die Viking-krygers kragte met die Angel-Saksiese rebelle saamgesnoer en York aangeval en geplunder. William het vir die derde keer noordwaarts na die stad opgeruk maar teen die tyd dat hy York bereik het, het die rebelle gevlug en die Dene met die Trentrivier af gevaar. In die eeue-oue gebruik het die koning die Vikings betaal om huis toe te gaan en om sy punt tuis te dryf dat hy voornemens was om oor die hele Engeland te heers, het hy Kersfees 1069 in York deurgebring.

Germanic Warriors with Captured Soldiers
Germaanse krygers met gevange soldate
Mohawk Games (Copyright)

Deur die winter van 1069-70 het William sy beleid in werking gestel om die noorde genadeloos te teister; dit sou later as die “delging van die noorde” (harrying of the north) bekend staan. Alhoewel vandag baie kontroversieel, was hierdie verskroeide-aarde-taktiek destyds redelik algemeen onder heersers wat gesukkel het om spesifieke gebiede onder beheer te bring. Dit het die doodmaak van vee en die uitbrand van oeste en plaastoerusting behels sodat geen rebellemag in die toekoms hulleself in die noorde kon onderhou nie. Ongetwyfeld het baie mense tydens die proses omgekom, onder andere ’n groot hoeveelheid onskuldiges, en dit het beslis tot ’n rampspoedige hongersnood gelei; maar vir William het die drastiese strategie vrugte afgewerp en daarna was die noordelike helfte van sy koninkryk beveilig. Ongelukkig vir die koning het een finale bedreiging vanuit die suide genader.

Die Ely-rebellie en voltooiing van die verowering

In 1070 het koning Sweyn van Denemarke persoonlik voet aan land in Engeland gesit. Die mag wat sy broer die vorige jaar aangevoer het, het Engeland nooit verlaat soos wat hulle William belowe het nie, maar die ongenaakbare winter en die gebrek aan kossoekmoontlikhede het hul getal drasties uitgedun; andersins sou Sweyn dalk beplan het om ’n volskaalse inval van Engeland te loods. Pleks daarvan het die Dene by die Angel-Saksiese rebelle aangesluit wat in Oos-Anglië onder die vaandel van die plaaslike edelman Hereward die Waaksame byeengetrek het. Hereward het sy familiegrond ná die verowering van Engeland verloor, en hierdie bondgenote met gemene belange om onrus te stook, het Peterborough in die somer van 1070 aangeval en die klooster daar geplunder. Ongelukkig vir Hereward het die Dene toe met sy buit weggevaar en hom alleen gelaat om William se toorn die hoof te bied. Ongeag hierdie terugslag het die rebelleleier sy guerrilla-oorlog met ’n mate van sukses voortgesit en algaande het hy landwyd al meer volgelinge na hom gelok, onder andere graaf Morcar.

Nadat verskeie klein ekspedisies nie daarin kon slaag om deur die moeilik begaanbare terrein van Oos-Anglië se moerasland te dring nie, was William verplig om persoonlik ’n leër daarheen te lei. Die koning het soos altyd metodies te werk gegaan en in die somer van 1071 het hy sowel ’n seemag as leër gemobiliseer en uiteindelik ’n verhewe deurweg gebou wat hom in staat gestel het om die beleëringswerktuie te vervoer waarmee hy Ely Abdy kon aanval wat nou die hoofkwartier van die rebelle was. Nadat fortifikasies rondom die abdy gebou is en toe die rebelle William se vasberadenheid van naderby beskou, het hulle óf oorgegee óf gevlug. William het die laaste Angel-Saksiese rebelle wat sy bewind bedreig het, hokgeslaan. In 1072 is Skotland aangeval om ’n einde aan die gereelde strooptogte op Northumbria te bring, en toe Malcolm III om vrede ding, is deel van die ooreenkoms dat Edgar Ætheling na Vlaandere verban word. ’n Nuwe hoofstuk van Engelse geskiedenis was reeds onderweg: Die Normandiërs was hier om te bly.

Impak van die verowering

Buiten die verskriklike lewensverlies, die wydverspreide verwoesting en die oprigting van kastele oraloor, was daar in Engeland én oorsee baie ander gevolge van die Normandiese verowering. Die naaste impak kon gesien word in die Angel-Saksiese elite van heersende grondbesitters wat feitlik geheel en al deur ’n veel kleiner aantal Normandiërs vervang is wat almal landgoedere en titels van William ontvang het. Hierdie dramatiese wisseling in eienaarskap kan duidelik in William se Oordeelsdag-boek (Domesday Book) van 1086-7 gesien word. ’n Opvolgeffek van hierdie beleid was die verdere uitbreiding van die feodale stelsel ingevolge waarvan leengrond (fiefs) aan ’n heer (leenman) gegee is wat aan sy koning militêre diens belowe het – óf persoonlik of deur ridders te betaal, óf albei. Met hierdie beleid het die landheerlike stelsel ook ontwikkel om aansienlik ruimer voor te kom; met ander woorde vry of onvry (lyfeiene) arbeid is gebruik om die grond vir die eienaar se wins te bewerk.

Die kerk se elite het ook nie die aandag ontglip nie, en byna alle biskoppe is met Normandiese biskoppe vervang, bisdomshoofkwartiere is dikwels na stedelike sentra verskuif, en nuwe klipkatedrale in die Normandies-Romaanse argitektoniese styl is gebou, byvoorbeeld Winchester, York en Canterbury.

Alhoewel geen groot bevolkingsverplasing van Normandië na Engeland plaasgevind het nie, sou gewone mense hierdie wisseling van die elite uit die eerste hand aanskou het, al het sekere Angel-Saksiese bestuursinstellings – byvoorbeeld sjerifs – voortgegaan (al is die amp self aan Normandiërs toegewys). Frans is oral gehoor en die taal het ’n blywende invloed op Engelse sintaksis en woordeskat gehad. Laastens het Normandiese landhere, soos William self, dikwels hulle grond op die kontinent behou sodat die politiek, ekonomie en kultuur van die twee lande verweef geraak het, met soms drastiese gevolge in die komende eeue. Onder die Angel-Saksers was Engeland reeds besig gewees om in ’n magtige Europese koninkryk te ontluik maar die Normandiese inval het die proses beslis versnel, en Engeland sodoende sowel die dominante land in die Britse Eilande gemaak as een van die vernaamste rolspelers in die aangeleenthede van kontinentale Europa daarna.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2019, January 24). Die Normandiese verowering van Engeland [Norman Conquest of England]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17033/die-normandiese-verowering-van-engeland/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Normandiese verowering van Engeland." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig January 24, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17033/die-normandiese-verowering-van-engeland/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Normandiese verowering van Engeland." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 24 Jan 2019. Web. 30 Nov 2021.