William die Veroweraar

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$951 / $3000

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 30 January 2019

Oorspronklike teks in Engels: William the Conqueror

Statue of William the Conqueror (by Man vyi, Public Domain)
Standbeeld van William die Veroweraar
Man vyi (Public Domain)

William die Veroweraar (ca. 1027-1087), ook bekend as William, Hertog van Normandië, het die Normandiese verowering van Engeland in 1066 gelei toe sy opposisie, Harold Godwinson, by die Slag van Hastings verslaan en gedood is. Hy is op Kersdag 1066 as koning William I van Engeland gekroon, en ná vyf jaar se meedoënlose veldslae teen rebelle en invallers was sy nuwe koninkryk beveilig.

Hy het sy bewind oor Normandië voortgesit en sy beleid van grondverspreiding onder die Normandiese elite het verseker dat die geskiedenis van Engeland en Frankryk oor die volgende paar eeue onlosmaaklik verbind sal wees. Vaardige diplomaat, talentvolle militêre bevelvoerder en gewetenlose opperheer, is William in 1087 te Caen, Normandië aan natuurlike oorsake dood. Sy graftombe is steeds in Caen.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Familie en persoonlike lewe

William is ca. 1027 in Falaise, Normandië gebore. Hy was die buite-egtelike seun van hertog Robert I van Normandië (r. 1028-1035) en daarom word daar soms na hom as “William die Baster” verwys. William se moeder was Herleve van Falaise, dogter van ’n welgestelde handelaar in Rouen wat ook die pligte van ’n kamerheer teenoor die hertoëlike hof waargeneem het. William se halfbroers (hulle het dieselfde moeder gehad) was Odo van Bayeux, die biskop van Bayeux en toekomstige graaf van Kent, en Robert, die toekomstige graaf van Mortain. William is in 1053 (1050 volgens sommige bronne) met Mathilda (sterf 1083), dogter van die graaf van Vlaandere en niggie van Henry I van Frankryk (r. 1031-1060) getroud in ’n huwelik wat die ontluikende diplomatieke verhoudinge tussen die drie streke baie gerieflik verstewig het. Saam het hulle vier seuns en vier (of vyf) dogters gehad.

In sy kroniek uit die 11de eeu, Geskiedenis van William die Veroweraar beskryf William van Poitiers – ’n ingeligte maar ooglopende pro-Normandiese tydgenoot – die jong hertog in die volgende kleurryke terme:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Nou ten einde laas het die vreugdevolste en langversmagte blydskap aangebreek vir diegene veral wat na vrede en geregtigheid gehunker het. Ons hertog, reeds volwasse in bekwaamheid en liggaamlike krag indien nie jare nie, het die wapens van ridderskap opgeneem, waarna ’n trilling deur die hele Frankryk gerol het. Bewapen en berede, het hy geen gelyke in die hele Gallië gehad nie. Dit was ’n sig wat tegelykertyd sowel genotvol as vreesaanjaend was om hom sy perd te sien betoom, sy swaard aangegord, sy skild glinsterend, sy helm en sy lans ewe dreigend.

(Allen Brown, 18)

Die beskrywing klink moontlik soos ’n lofrede maar dit is dalk van belang dat die seël van die hertog ’n ridder te perd was – die eerste sodanige embleem wat deur ’n Europese heerser gebruik is en wat daarna baie gekopieer sou word. Maar benewens militêre vaardighede het William ander talente gehad soos wat hy regdeur sy loopbaan ten toon sou stel. Die hertog was ’n puntenerige beplanner, ’n meester om politieke geleenthede vir maksimum voordeel aan te gryp en ’n vaardige administrateur. William was ook dol oor jag en die streng woudwette wat hy baie later in Engeland bekend sou stel, was deels daarop gemik om seker te maak dat sy geliefde herte nie deur stropers lastig geval word nie. William het ook ’n reputasie as bedrewe boogskutter gehad.

Coin of William the Conqueror
Muntstuk van William die Veroweraar
PHGCOM (Public Domain)

Hertog van Normandië

Toe hertog Robert tydens ’n pelgrimstog in Klein-Asië oorlede is, het William in 1035 die hertog van Normandië geraak. Gelukkig vir William het sy vader reeds by sy baronne ’n eed van getrouheid teenoor sy seun as verkose erfgenaam verkry. Maar in werklikheid was William nog net ’n kind en daarom het ’n voog, Gilbert van Brionne, namens hom geheers. In 1040 het ’n burgeroorlog in Normandië uitgebreek toe Gilbert vermoor is en rebellebaronne hul eie grondgebied probeer uitbrei het – dikwels deur kastele te bou. Dit sou William sewe lange jare neem om sy hertogdom uit te sorteer maar minstens kon hy hom op invloedryke vriende beroep, veral die aartsbiskop van Rouen, William se oom Mauger en sy moeder se gesaghebbende man, Herluin de Conteville. In 1047, met die hulp van Henry I – wat die lewensnoodsaaklike handelsroetes deur Normandië, en die toekoms van een van sy leenmanne wou beskerm – het die rebelle ’n aansienlike nederlaag by Val-ès-Dunes naby Caen gely. Nog veldslae het gevolg, sowel as ’n paar belangrike beleëringe, onder meer ’n driejaarlange beleg van die kasteel van Brionne wat deur Guy van Boergondië beset is, wat op ’n sukses vir William uitgeloop het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

WILLIAM HET ENIGE BESKIKBARE METODE GEBRUIK, INSLUITEND TERREUR EN VERMINKINGS, OM UITEINDELIK DIE MAGTIGSTE EDELMAN IN FRANKRYK TE RAAK.

Die mag van die hertogdom het oor die volgende 20 jaar baie uitgebrei en alhoewel dit nie sonder ’n worsteling plaasgevind het nie, sou die jare van oorlog William help vorm om een van die mees formidabele militêre strateë en veldhere van die Middeleeue (sowel as een van die gelukkigstes) te word. William het op ’n volgehoue veldtog van oorlog en uitbreiding – veral teen sy ou mededingers Vlaandere en Anjou – vertrek. Hy het enige beskikbare metode gebruik, insluitend terreur en verminkings, sowel as gereëlde huwelike van politieke gerieflikheid vir sleutellede van sy binnesirkel, om uiteindelik die magtigste edelman in Frankryk te raak.

William was nou amper té invloedryk en in 1053 het die Franse koning gekies om die stryd vir die Normandiese hertog se oom, William van Arques, ’n rebellebaron, op te neem. Die hertog het egter die vyand se voorradekolom aangeval en sy oom was verplig om oor te gee. In 1054 moes Normandië met ywer verdedig word toe ’n Franse mag, op soek na wraak vir die gebeure van die vorige jaar, ’n inval geloods het. Die Franse leër is by Mortemer verslaan en in 1057 is hulle weereens by Varaville deur dieselfde vyand ’n bloedneus toegedien, met die uitslag hierdie keer nog meer beslissend as die vorige keer. By Varaville het koning Henry nouliks met sy lewe daarvan afgekom en met ’n rivier wat kant en wal gelê het en hom van die helfte van sy leër afgesonder het, was hy woedend maar kon hy niks doen om die slagting te verhoed wat gevolg het nie. William was onstuitbaar. In die jare wat gevolg het, het hy verskeie belangrike afhanklike state, onder meer die Kanaaleilande (ook bekend as Îles Normandes) en die hertogdomme Bretagne en Maine by sy hertogdom gevoeg. Dit, tesame met die dood van Henry van Frankryk en die feit dat sy jong seun onder die beskerming van sy skoonvader, Robert van Vlaandere, was, het beteken dat William se hertogdom teen sy bure beveilig was. Die hertog se ambisie kon nou die grense van Frankryk oorskry.

William the Conqueror, Bayeux Tapestry
William die Veroweraar – Bayeux-muurbehangsel
Myrabella (Public Domain)

William het die troon van Engeland in die oog gehad maar aangesien hy tegnies gesproke steeds die koning van Frankryk se leenman was, kon hy nie sonder een of ander vooraf regverdiging en diplomasie tot die aanval oorgaan nie. Die Normandiese baronne moes ook oortuig word dat die inval van Engeland van waarde sal wees maar die belofte van grond, titels en rykdom het as voldoende motivering gedien.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die rede wat William aan die hand gedoen het om sy inval van Engeland te regverdig, was nogal sy aanspraak dat hy die regmatige koning van die land was. Hierdie aanspraak was gegrond in die hertog se verhouding met Edward die Belyer, koning van Engeland van 1042-1066. Graaf Richard I van Normandië was Edward se grootvader en William se oorgrootvader. William het aangevoer dat Edward, sonder enige kinders van sy eie, een maal aan William belowe het dat hy Edward se amptelike erfgenaam sou wees. Maar op sy sterfbed het Edward toe die Angel-Saksiese Harold Godwinson, ’n lid van die uiters invloedryke Godwine-familie en op daardie stadium die mees vooraanstaande militêre bevelvoerder in Engeland, as sy opvolger gekies.

In nog ’n kinkel in William se aanspraak (of minstens volgens Normandiese kroniekskrywers) het Harold in ca. 1064 ’n besoek aan Normandië afgelê waar hy deur graaf Guy van Ponthieu gevange geneem is en toe aan William oorhandig is. William het hom nuttig aangewend tydens sy gevegte om Conan, die graaf van Bretagne, te oormeester. ’n Voorwaarde van Harold se vrylating was dat Harold belowe om William se leenman te raak en die weg vir ’n inval te baan. William het dus verontreg gevoel toe Harold in Januarie 1066 as Harold II van Engeland gekroon is. Die Angel-Saksiese bronne betwis baie van hierdie storie maar dit was genoeg om ander Europese konings te oortuig dat William in ’n mate daarop geregtig was om Engeland in te val. Daarbenewens het William selfs die seëning van die pousdom ontvang wat al etlike jare lank haaks met Engeland se aartsbiskop van Canterbury was en ontken het dat hy enigsins op die rol geregtig was. Oortuig dat hy sowel reg as God aan sy kant het, het William noukeurig voorbereidings begin tref om die suide van Engeland in die somer van 1066 binne te val.

Die Normandiese verowering van Engeland

Dit moet genoem word dat William nogal gelukkig tydens sy inval van Engeland was aangesien sy vyand Harold II verplig was om net ’n paar weke voordat die Veroweraar voet aan land gesit het ’n ander inval – deur Harald Hardrada, die koning van Noorweë (ook bekend as Harold III, r. 1046-1066) – moes afweer. Op 25 September 1066 het Harold die Noorse koning by die Slag van Stamfordbrug naby York opgekeil en toe suidwaarts gemarsjeer om William se leër van 5 000-8 000 man, onder meer 1 000-2 000 kavallerie, die hoof te bied. Die twee leërs, waarskynlik ewe groot, het op 14 Oktober by Hastings slaags geraak. Met boogskutters en kavallerie teen Angel-Saksiese infanterie, het William geseëvier, en Harald het gesneuwel. Toe versterkings van Normandië opgedaag het, het William teen Londen opgeruk nadat hy eers vestings soos Romney, Dover, Winchester en Canterbury ingeneem het. Baie van die Angel-Saksiese adel sowel as die aartsbiskop van Canterbury het trou aan die nuwe koning gesweer wat op Kersdag 1066 in Westminster Abdy gekroon is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Map of the Norman Conquest of England
Kaart van die Normandiese verowering van Engeland
AwesomeStories.com (Copyright, fair use)

Noudat hy sowel William I van Engeland as hertog van Normandië was, moes die Veroweraar nog vyf jaar veg voordat Engeland heeltemal onderwerp is. Verskroeide-aardebeleide, die bou van honderde burgheuwel-en-binneplaaskastele, gevangesettings en verminkings by sleutelstede soos Exeter en York, die afslaan van twee mini-aanvalle vanaf Ierland deur Harold se seuns, die verplettering van ’n mag Deense rebelle in Oos-Anglië, sowel as die algehele herverspreiding van landgoedere in die hande van getroue Normandiërs het alles gehelp verseker dat William ten einde laas sy nuwe koninkryk beveilig het. Die kerk is geherstruktureer, met Normandiese biskoppe wat die keurbetrekkings gekry het, baie belangrike godsdienstige sentrums is nader aan stede geskuif en nuwe katedrale soos dié by Winchester, York en Canterbury is gebou.

Bewind ná die verowering

William het miskien vir homself ’n ryk nuwe koninkryk ingepalm maar hy het nie sy domein in Frankryk verwaarloos nie en het gereeld daarheen gereis, waartydens hy heerskappy oor Engeland aan sy halfbroer, Odo van Bayeux, graaf van Kent en sy goeie vriend, William FitzOsbern, graaf van Hereford, oorgelaat het. Trouens, William moes soms veg om sy grond in Frankryk te behou, veral in 1073 teen Fulk, graaf van Anjou. Philip I, koning van Frankryk (r. 1060-1108) het ook ambisieus aan William se hertogdom begin knibbel en het rebelle daarbinne, veral in Bretagne, ondersteun. In 1075 was daar ook ’n mislukte opstand in Engeland. Onder leiding van Ralph de Gael, is hierdie nietige sameswering in die kiem gesmoor sonder dat William eers Normandië hoef te verlaat het. Maar dit was steeds ’n aanduiding van die spanning inherent aan die balanstoertjie om sowel ’n koninkryk as ’n hertogdom te regeer met talle van die adel wat oorgretig was om hulle belange in een of albei die gebiede uit te brei.

En toe kom William se lang reeks militêre seges skielik tot ’n einde. In 1077 is die hertog naby Dol in Bretagne verslaan. Binne ’n jaar het nog ’n rebellie uitgebreek, hierdie keer aangevoer deur William se eie oudste seun Robert, wat gevoel het dat hy nie genoeg mag van sy eie gegee is nie. Philip van Frankryk het weereens die geleentheid aangegryp om die situasie te destabiliseer en het ’n kasteel – Gerberoi op die grens met Normandië – vir Robert gegee om as basis te gebruik. William het Gerberoi probeer beleër maar Robert blyk die krygsweë al te goed by sy vader te geleer het en William is in ’n veldslag verslaan. Gelukkig is William en Robert versoen, en die jonger man is in 1079 gestuur om strooptogte deur die Skotte in Northumbria hok te slaan.

Great Domesday Book
Groot Oordeelsdagboek (Great Domesday Book)
UK National Archives (CC BY)

Oordeelsdagboek (Domesday Book)

William was nie net ’n blote krygsheer nie maar ook ’n vaardige administrateur. In 1086-7 het die koning gebied dat ’n omvattende opname van al die grondbesitters, eiendom, huurders en lyfeienes van Engeland gedoen en ’n rekord daarvan saamgestel word. Ná die wisseling van Angel-Saksiese na Normandiese elite en die massale herverspreiding van landgoedere, wou die koning waarskynlik weet wie wát in sy koninkryk besit. Die bevindinge van die opname is in ’n enkele dokument, die Oordeelsdagboek (Domesday Book) saamgevat. Eintlik was dit twee volumes want die kleiner een, Klein Oordeelsdag (Little Domesday) blyk ’n meer gedetailleerde rekord te wees wat nooit in die formaat van die groter volume, Groot Oordeelsdag (Great Domesday) saamgevat is nie. Dit is moontlik dat die Oordeelsdagboek saamgestel is sodat ’n nuwe belasting akkuraat gehef kon word en om seker te maak dat grondbesitters die korrekte feodale militêre diens lewer wat van hulle verwag is. Die rekord kon dan as nuttige instrument dien om uiteindelik vir ’n leër te betaal ten einde die bedreiging van ’n Deense inval van Engeland die hoof te bied wat in 1085 op hande blyk te gewees het. Die Oordeelsdagboek, die omvattendste opname wat ooit in ’n middeleeuse koninkryk onderneem is en uiters waardevolle insae bied in baie aspekte van die daaglikse lewe in middeleeuse Engeland, word vandag in die Nasionale Argief van die VK in Londen bewaar. Dit bly een van William se grootste prestasies.

Dood en nalatenskap

Gelukkig vir William het die Deense inval nooit plaasgevind nie. Canute IV van Denemarke (r. 1080-1086) wat die inval beplan het, is vermoor as deel van ’n rebellie aangehits deur die belasting en boetes wat die koning gehef het om vir sy invalsvloot en leër te betaal. Terwyl William besig was om die dorp Mantes aan te val as vergelding vir hulle plundertogte in Normandië, het rampspoed vanuit die bloute toegeslaan. William het op 9 September 1087 aan ongesteldheid gesterf, moontlik weens ’n besering wat hy opgedoen het terwyl hy perdgery het en wat vererger is deur die vetsug wat hom in sy later jare geteister het. Hy is in Sint Stephen's-klooster in Caen begrawe wat hy self gebou het. Die begrafnis het egter nie sonder moeilikheid verloop nie: ’n Brand in aanliggende huise het die prosessie onderbreek; tydens die seremonie het ’n man uitgeroep dat die katedraal sonder vergoeding op sy vader se grond gebou is; en die sarkofaag was so klein dat die maag van die gesette lyk gebars het toe hulle dit probeer inprop het, sodat die hele katedraal met ’n galsterige reuk gevul is.

Volgens een middeleeuse manuskrip het die koning se grafskrif soos volg gelees:

Wie oor die trotse Normandiërs geheers het, met sy ferm hand,

het die Bretagners bedwing, met sy wapens verslaan;

die krygers van Maine het hy met moed beteuel,

gehoorsaam gehou aan sy reëls en reg.

Die grote koning lê hier in hierdie kleine vaas,

so klein ’n huisie wat diens doen vir ’n magtige heer.

(De obitu Willelmi, Allen Brown, 49)

William the Conqueror on Horseback, Bayeux Tapestry
William die Veroweraar te perd, Bayeux-muurbehangsel
Myrabella (Public Domain)

Die anti-Normandiese Angel-Saksiese Kroniek (inskrywing vir 1087) gee die volgende, miskien meer gebalanseerde samevatting van William se bewind:

Hierdie koning William waarvan ons praat, was ’n baie wyse man, en magtiger en meer edelagbaar en sterker as wat enige van sy voorgangers was. Hy was adellik teenoor die goeie mense wat God liefgehad het, en uitermate streng teen dié wat hulle teen sy wil verset het.

(aangehaal in Allen Brown, 79)

Ná William se dood is sy Engelse koninkryk deur sy seun William II Rufus (r. 1087-1100) oorgeneem terwyl William se ander seun, Robert Curthose, die familiegrond in Normandië oorgeneem het. Albei heersers het gesukkel om hulle onderskeie domeine teen verdringers en ambisieuse edelmanne te beskerm. Engeland en Normandië sou eers in 1106 – ses jaar nadat Henry I (r. 1100-1135), nog ’n seun van William die Verower, aan bewind van Engeland gekom het – weer deur een monarg geregeer word.

William die Veroweraar het dus ’n veelbewoë lewe van min of meer nimmereindigende oorlogvoering en reis tussen Engeland en noordelike Frankryk gelei. Dit is moontlik, hetsy vir goed of sleg, in die daaropvolgende ineengeskakelde geskiedenis van die twee lande waarin William se nalatenskap die meeste inslag gevind het. Deur die twee bymekaar te voeg en die heersende elite te vermeng en handel besonder baie te laat toeneem, is die politieke en kulturele reperkussies van William se verowering van Engeland vir eeue daarna nog gevoel.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2019, January 30). William die Veroweraar [William the Conqueror]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16891/william-die-veroweraar/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "William die Veroweraar." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig January 30, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16891/william-die-veroweraar/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "William die Veroweraar." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 30 Jan 2019. Web. 30 Nov 2021.