Aethelflaed, Dame van die Merciërs

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$951 / $3000

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 07 March 2018

Oorspronklike teks in Engels: Aethelflaed, Lady of the Mercians

Aethelflaed (by Anonymous, Public Domain)
Aethelflaed
Anonymous (Public Domain)

Aethelflaed (r. 911-918 HJ) was die dogter van koning Alfred die Grote van Wessex (r. 871-899 HJ) en het ná die dood van haar man, Aethelred II, Heer van die Merciërs (r. 883-911 HJ), koningin van Mercië geraak. Sy het die meeste bekendheid verwerf as die “Dame van die Merciërs” wat die Vikings verslaan en die Engelse heerskappy gevestig het wat deur haar broer Edward die Ouere (r. 899-924 HJ) gekonsolideer sou word, sowel as vir die grondlegging van die heerskappy van die eerste erkende Engelse koning, Aethelstan, wat van 924 tot 927 HJ koning van die Angel-Saksers, en van 927 tot 939 HJ koning van die Engelse was.

Aethelstan word deur latere geskiedkundiges as ’n sleutelfiguur in Britse geskiedenis erken vir sy verowering van die laaste Viking-vestings, sentralisering van die regering en die vestiging van Brittanje as ’n gedugte mag in Europese politiek. Dit is egter onwaarskynlik dat hy enige van sy prestasies sonder die invloed van Aethelflaed van Mercië kon vermag het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Haar bewind was so doeltreffend dat sy dié van tydgenote soos haar broer Edward die Ouere in Wessex oortref het en in haar eie leeftyd blyk sy selfs meer respek as haar bekende vader te geniet het. Aethelflaed het die beleide voortgesit wat Alfred in ooreenstemming met Aethelred geïnisieer het maar ná haar eggenoot se dood het sy op haar eie geheers terwyl sy die beleide en praktyke bewerk het wat daartoe gelei het dat die mag van die Dene in Brittanje weggekwyn het, en die vereniging van die land onder eers Edward en later Aethelstan moontlik gemaak het.

Jeugjare en die Viking-oorloë

DAAR BESTAAN MIN TWYFEL DAT AETHELFLAED IN ’n ATMOSFEER VAN VROOMHEID, VAKKUNDIGHEID EN TOEWYDING TOT FAMILIE EN LAND – ALLES KENMERKEND AAN KONING ALFRED – GROOTGEMAAK IS.

Niks is oor Aethelflaed se jeugjare bekend nie en sy betree eers op vyftien- of sestienjarige ouderdom die geskiedenisblaaie toe sy met Aethelred trou. Volgens die benaderde datum van haar huwelik is sy waarskynlik in 870 of 871 HJ gebore. Volgens die vakkundige Joanna Arman (32) beteken haar naam moontlik “edelheid in oorvloed”. “Aethel” beteken “edel” maar die betekenis van “flaed” – weereens volgens Arman – is onduidelik maar dit kan vermoedelik iets soos “vloed” of “iets wat oorloop” beteken. Haar naam is ook as “edele skoonheid” vertaal.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Aethelflaed se moeder was Ealhswith, ’n edelvrou van Mercië. Net soos Aethelflaed se vader Alfred afkomstig van die koninklikes van Wessex was, het Ealhswith uit ’n lang lyn van die Merciese adelstand gestam. Bronne dui Aethelflaed gereeld as Alfred se oudste dogter aan maar dit is nie bekend of sy ook sy oudste kind was nie. Haar broer Edward blyk jonger as sy te gewees het.

Daar bestaan egter min twyfel dat Alfred se kinders in ’n atmosfeer van vroomheid, vakkundigheid en toewyding tot familie en land – alles kenmerke wat die koning gedefinieer het – grootgemaak is. Arman (74) vermeld hoe jong vroue wat hulself aan die kerk gewy en hulle aan die wêreld onttrek het van ’n goeie opvoeding voorsien is maar dat daar “verwysings is na al vyf Alfred se kinders, onder meer sy twee dogters wat nie die diens van die kerk betree het nie, wat ’n goeie opvoeding ontvang het”.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Op dieselfde manier wat haar broer Edward van ’n tutor voorsien is, kon dieselfde altemit vir Aethelflaed gegeld het. Dit blyk duidelik uit haar latere heerskappy en lewe aan die hof dat sy hoogs opgevoed en geletterd was. Dit is egter onwaarskynlik dat Alfred self te veel tyd saam met sy dogter sou deurgebring het aangesien hy tydens haar kinderjare die heeltyd besig was om Viking-invalle in Wessex af te weer.

Statue of Aethelflaed
Standbeeld van Aethelflaed
Elliot Brown (CC BY)

Die Vikings het in 793 HJ die eerste maal hul opwagting in Brittanje gemaak toe hulle aan die kus van Northumberland geland en die klooster by Lindisfarne geplunder het, en die monnike vermoor en enigiets van waarde weggedra het. Van toe af was Brittanje aan die genade van hierdie plunderaars vanaf die see uitgelewer wat sonder waarskuwing toegeslaan, sonder onderskeiding gemoor en na hartelus geplunder het.

Teen die tyd dat Alfred in ca. 865 HJ ’n prins en militêre bevelvoerder was, het hierdie plundertogte oorgeslaan na volskaalse invalle onder die bevel van bekwame krygers soos Halfdane (865-877 HJ) en sy broer Ivar die Beenlose (ca. 870 HJ). Hierdie twee bevelvoerders het in 865 HJ die massiewe inval van die Groot Leër gelei wat sigself as onoorkombaar bewys het en elke mag verslaan het wat teen hulle in die stryd gewerp is, en elke streek verower het wat hulle betree het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Alfred en sy broer Aethelred van Wessex (r. 865-871 HJ) het die Vikings by Reading die stryd aangesê en is verslaan maar by die Slag van Ashdown in Januarie 871 HJ het hulle gesamentlike magte die Vikings op die vlug laat slaan, en daar is Alfred se vaardigheid op die slagveld bewys. Sy oorwinning het egter niks gedoen om die Viking-invalle te stuit nie en hy is daarna verslaan en gedwing om skuil te gaan.

Alfred se ballingskap en Aethelflaed se huwelik

IN 886 HJ HET ALFRED DIE VIKINGS UIT LONDEN UITGEDRYF EN KORT DAARNA HET HY REËLINGS GETREF VIR DIE HUWELIK TUSSEN SY OUDSTE DOGTER AETHELFLAED EN DIE KONING VAN MERCIË, AETHELRED.

Dit is onbekend of Aethelflaed saam met haar vader in ballingskap sou gegaan het. Die bronne – wat slegs op die koning, en nie sy gesin nie, fokus – noem slegs dat Alfred in die geheim gereis het en dat hy dikwels vermom was en saam met ’n groepie manskappe gereis het. Hy is in 878 HJ in hierdie posisie in gedwing deur ’n Viking-aanval op Chippenham onder leiding van die Viking-krygsheer Guthrum (ca. 890 HJ gesterf) wat hom en sy leër onkant betrap het.

Alfred en sy gesin het Kersfees by Chippenham gevier toe die aanval geloods is en, aangesien almal wat nie daarin kon slaag om te ontsnap nie, doodgemaak of verslaaf is, is dit hoogs denkbaar dat Alfred sy gesin saam met hom geneem het toe hy gevlug het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ná ’n paar maande se skuil en guerrilla-aanvalle op Viking-nedersettings, was Alfred in staat om ’n aansienlike mag te mobiliseer en in Mei 878 HJ het hy die Vikings onder leiding van Guthrum by die Slag van Eddington verslaan. Dit was die beslissende slag wat aan Alfred die mag besorg het om uiteindelik voorwaardes aan sy opponente voor te skryf wat tot dusver tydens sy heerskappy deurentyd die oorhand gehad het. As deel van die ooreenkoms is Guthrum en dertig van sy opperhoofde as Christene gedoop, en hulle het ’n eed afgelê om nooit weer die wapen teen Wessex op te neem nie.

Alhoewel die Vikings hulle woord gehou en uit Wessex weggebly het, het die ooreenkoms glad nie gestipuleer dat hulle Brittanje moes verlaat nie; derhalwe het hulle gebly en vestings wat voorheen in Northumbria, Oos-Anglië en Mercië gevestig is, gefortifiseer. In 886 HJ het Alfred die Vikings uit Londen gedryf en dit beveilig en kort daarna het hy die huwelik tussen sy oudste dogter en die koning van Mercië, Aethelred, gereël.

Huwelik, en geboorte van Aelfwynn

Alhoewel daar soms aangevoer word dat Aethelflaed se huwelik gereël is om ’n bondgenootskap tussen Wessex en Mercië te verseker, is hierdie aanspraak verkeerd. Die twee streke was reeds bondgenote deur Alfred en Ealhswith se huwelik dekades vantevore en Aethelred het Alfred reeds voor 886 HJ as sy heer aanvaar. ’n Akkurater begrip van die huwelik is dat dit eenheid ten toon gestel het wat nie slegs elke streek se verbintenis tot die ander hernu het nie, maar ook hulle mag onteenseglik aan die Vikings verklaar het.

Aethelred was minstens tien jaar ouer as Aethelflaed en was waarskynlik lank voor die tyd al aan haar verloof. Hy het Alfred so vroeg as 883 HJ – ná Alfred se oorwinning by Eddington – as sy opperheer aanvaar. Daar word na Aethelred as ’n vername Christenkryger verwys wat teen die heidense Vikings geveg het maar daar bestaan geen rekord van hoe hy koning van Mercië geraak het nie. Hoe dit ook al gebeur het, teen die 880's HJ het hy beheer oor die streek gehad en ten tye van die huwelik was hy ’n magtige krygsheer.

St Oswald's Priory, Gloucester
St. Oswald se klooster, Gloucester
Philip Halling (CC BY-SA)

Aethelred en Aethelflaed het hulle heerskappy vanuit die stad Gloucester, nie ver van Wessex af nie en naby haar familie se landgoedere, begin. Alhoewel haar latere romantiese oorlewering hulle verbintenis as ’n liefdelose gerieflikheidshuwelik sou tipeer, is daar geen bewyse vir hierdie aanspraak nie. Hulle het een dogter, Aelfwynn, gehad wat die eerste keer in 903 HJ in ’n grondakte genoem word, maar sy was nog nie oud genoeg om dit as wettige getuie te onderteken nie. Moontlik is sy kort ná die troue gebore maar haar geboortedatum is onbekend. William van Malmsbury, in ’n geskrif wat van baie later dateer, voer aan dat die geboorte van Aelfwynn amper Aethelflaed se lewe gekos het, en dat sy stappe geneem het om seker te maak dat sy nooit weer swanger raak nie.

Aethelflaed en Aethelred

Aethelflaed en Aethelred het in ooreenstemming met Alfred van Wessex gewerk en het sy burghal-verdedigingstelsel – waarvolgens gefortifiseerde dorpe maklik deur soortgelyke dorpe versterk kon word wat minder as ’n dag se mars ver was – sowel as sy onderrigbeleide ook in Mercië toegepas. Hulle het Alfred se voorbeeld gevolg en geleerde mans van ander lande na Mercië genooi om hulle klerke Latyn te leer en ander onderrigdoelwitte te bevorder. Hulle het ook stede en dorpe wat tydens die Viking-oorloë beskadig of vernietig is, herstel, opgeknap en herbou.

Maar die vrede wat Alfred by Eddington en toe by Londen teen die Vikings gewen het, was net ’n tydelike verposing in die stryd tussen die mense van Brittanje en die Noorse invallers. Alhoewel die tydperk daarna effens minder gespanne was, het Viking-strooptogte en probleme tussen Viking-nedersetters en ander mense voortgeduur, en in 892 HJ het die situasie vererger toe ’n nuwe leërskaar Viking-plunderaars onder die leierskap van die Viking-stroper Hastein (ook Hasting genoem) voet aan wal gesit het. Vanaf 892 HJ het Alfred en Aethelred herhaalde skermutselings teen Hastein geveg totdat laasgenoemde in 896 HJ uit die geskiedenis verdwyn. Moontlik het hy in ’n geveg gesneuwel maar dit sou waarskynlik aangeteken gewees het; hy het Brittanje vermoedelik óf verlaat óf is weens ’n natuurlike oorsaak oorlede.

Koning Alfred het in 899 HJ gesterf en is deur sy seun Edward opgevolg. Edward het sy seun Aethelstan in 900 HJ na die Merciese hof gestuur sodat Aethelred en Aethelflaed hom saam met hulle dogter kon grootmaak. Aethelstan het sy jonger jare in Mercië deurgebring en is saam met sy niggie Aelfwynn aan die hof onderrig; later het hy saam met Aethelred en toe saam met Aethelflaed militêre ervaring op veldtogte opgedoen.

England Around 910 CE
Engeland, ongeveer 910 HJ
Philg88 (CC BY-SA)

Die koning en koningin van Mercië was vername begunstigers van die kerk en het ruim skenkings van groot bedrae geld aan verskillende kloosters en kerke gemaak. Hulle het ’n strooptog in ’n vyandige gebied geloods om die gebeente te herwin van Sint Oswald – die vrome koning van Northumbria wat die klooster by Lindisfarne gestig het – en by Gloucester het hulle ’n klooster gebou waarin dit gehou kon word. Ná hulle afsterwe is albei in hierdie gebou, naby die sint se oorskot, ter aarde bestel.

Hulle was veral vrygewig teenoor die kerk by Worcester wat in ruil daarvoor ingestem het om vir hulle te bid, en om dienste of minstens psalms tot hulle eer en tot hulle voortgesette gesondheid te wy. Ten spyte van hierdie gebede het Aethelred in ongeveer 902 HJ ’n siekte opgedoen wat hom blykbaar onvermoënd gelaat het. Dit het oor die volgende paar jaar vererger en gedurende hierdie tydperk het Aethelflaed effektief alleen geheers.

Die Slag van Chester

Bronne van hierdie tydperk verwys na Aethelred se siekte en maak dit duidelik dat Aethelflaed die bepalende mag in Mercië was. Die bekendste storie kom uit die Ierse annale en verhaal hoe ’n Noorweegse Viking genaamd Ingimund in 907 HJ met sy troepe van Ierland af gekom het na “Aethelflaed, koningin van die Saksers, aangesien haar gade Aethelred ten tye daarvan siek was” en vir ’n plek gevra het waar hy hom vreedsaam kon vestig (170).

MET AETHELRED SIEK, BLYK AETHELFLAED DIE EEN TE GEWEES HET WAT DIE KRYGSPLAN VOORBEREI HET WAT DIE STAD CHESTER GERED HET.

Sy het hom grond in die omgewing van Chester gegee maar nadat hy sy mense daar gevestig het, het hy opgemerk daar is selfs aantrekliker areas in die omliggende gebied as dié wat hy ontvang het. Hy het toe by die naburige Dene en ander Noorweërs gekla dat hy te min gegee is terwyl hy soveel meer verdien het, en hy het ’n plan bewimpel om Chester met mag oor te neem.

Regdeur hierdie storie word daar herhaaldelik na Aethelred as “siek”, “baie siek” of “siek en op die rand van die dood” verwys (171-173). Boodskappers het by die hof opgedaag en die koningin oor Ingimund se plan ingelig en, alhoewel dit vermeld word dat Aethelred deel van die respons was, blyk Aethelflaed die een te gewees het wat die krygsplan voorberei het wat die stad gered het.

Sy het eerste ’n groot leër gemonster en die inwoners van Chester toe gelas hoe om die troepe buite die stad te ontplooi en met die stadshekke oop te veg. Binne die stadsmure was ’n veel groter afdeling kavallerie gestasioneer en op ’n gegewe tydstip moes die leër buite die mure voor die Vikings wyk en deur die oop hekke terugval na waar die ruitery op die invallers losgelaat sou word.

Aethelflaed het ook aan die Iere geskryf wat ’n bondgenootskap met Ingimund aangegaan het en tot hulle ’n vertoë gerig as vriende wat deur ’n gemene vyand verontreg is. Sy wou by die Iere weet waarom hulle veg in die belang van diegene wat hulle eie land binnegeval het, teen háár mense wat hulle nooit enige onreg aangedoen het nie; en sy het verder voorgestel dat die Ierse opperhoofde vir die Vikings vra watter grond en ware die Vikings hulle beloof het om hulle lewe te waag vir ’n saak wat nie hulle eie is nie. Haar brief was doeltreffend en die Iere het, óf net voor die veldslag óf daartydens, kante verwissel.

Die verdediging van Chester het amper so goed gewerk as wat Aethelflaed beplan het. Die verdedigers het teruggeval en die ruitery het die Vikings wat hulle agtervolg het, afgemaai. Die aanvallers het egter geweier om oor te gee en die veldslag het voortgeduur soos die inwoners van Chester die stad verdedig het deur kookwarm bier van die mure af op die Vikings neer te giet. Toe die Vikings hulself met skilde beskerm het, het die verdedigers korwe met heuningbye afgeslinger terwyl hulle aangehou het om die aanvallers met skroeiende bier te bestook totdat die aanval afgelas en die stad gered is.

Miniature of Aethelflaed
Miniatuurafbeelding van Aethelflaed
Unknown (Public Domain)

Dame van die Merciërs

Aethelred het in 911 HJ sonder enige manlike erfgenaam gesterf, en onder die titel “Dame van die Merciërs” het Aethelflaed alleenheerser geraak. In Asser se Life of King Alfred (ca. 893 HJ geskryf) brei die outeur breedvoerig uit oor die gebruik in Wessex dat – weens die misbruik van haar mag en posisie deur ’n vorige koningin – ’n vrou nie as koningin langs ’n koning mag gesit het nie. In Mercië is die koninginskap egter lank reeds met eerbied bejeën al het geen vrou nog ooit alleen oor die koninkryk geheers nie. Dit strek Aethelflaed tot krediet dat geen rekord daarvan bestaan dat haar opvolging betwis is nie.

Kort ná Aethelred se dood het Aethelflaed se broer Edward Londen en die omliggende gebied óf by haar gevat óf van haar ontvang, en hierdie transaksie word deur sommige latere geskiedkundiges vertolk dat ’n ooreenkoms aangegaan is waarin Edward die regmatigheid van Aethelflaed se heerskappy erken. Daarna het Edward en Aethelflaed saamgewerk om die burh-stelsel van albei hulle streke te vergroot en die streke bymekaar te voeg om sodoende ’n hegter verdedigingsnetwerk te vorm.

Arman (160) merk op hoe “hulle soms ’n leër met hulle saamgebring het om enige Vikings uit hul weg te ruim”. Edward se burhs is opgerig om sy koninklike gesag en militêre sterkte te vertoon terwyl Aethelflaed volgens Arman (162) ’n ander fokus gehad het:

Aethelflaed blyk haar heerskappy te laat geld het deur seker te maak dat haar koninkryk goed beskerm was. Haar nuwe burhs was egter meer as net verdedigingstrukture; dit was ook beplande dorpe. Binne die mure van baie burhs is die strate netjies uitgelê in ooreenstemming met die ou Romeinse patroon, met vier hoofstrate wat noord na suid, en oos na wes gekruis het, en kleiner systrate wat daarvan weggeswenk het. Mense is aangemoedig om hulle hier te vestig en aan mans wat in die garnisoen diens gedoen het, is moontlik dorpshuurgrond toegestaan waar hulle met hul gesin kon woon.

Aethelflaed het van 912 tot 917 HJ die konstruksie van hierdie burhs waargeneem terwyl sy ook Viking-aanvalle afgeweer en die regering van Mercië behartig het. In 909 HJ het Edward ’n offensief in die Danelaw – die deel van Engeland onderworpe aan die Deense wette – geloods waartydens die troepe vir langer as ’n maand dorpies geplunder en inwoners afgemaai het. Ter vergelding het die Vikings op Mercië toegeslaan.

In 916 HJ is ’n kloostervader genaamd Ecgberht saam met sy metgeselle vermoor terwyl hulle moontlik op ’n diplomatieke sending onderweg vanaf Mercië na Wallis was. Arman (191) haal die Anglo-Saxon Chronicle aan en skryf, “Aethelflaed se reaksie was vinnig, beslissend en meedoënloos. Ons word vertel dat sy binne drie dae ’n leër gemonster en hulle in Wallis laat opruk het. ”

In 917 HJ het sy aan die hoof van haar troepe weer in ’n veldtog teen die Dene van Derby ten velde getrek, en het geseëvier. Die volgende jaar het sy teen Leicester opgeruk wat sonder ’n stryd oorgegee het. Hierdie oorwinnings het die Dene van York oortuig om hulle vreedsaam aan haar heerskappy te onderwerp. In York was die leiers besig om vir ’n formele oorgawe voor te berei toe Aethelflaed op 12 Junie 918 HJ te Tamworth oorlede is – moontlik weens ’n beroerte.

Aethelstan
Aethelstan
Corpus Christi College, Cambridge (Public Domain)

Nalatenskap

Haar dogter Aelfwynn het haar opgevolg maar net vir ’n paar maande voor sy onttroon is deur Edward wat Mercië vir Wessex opgeëis en die streke onder sy bewind verenig het. Edward het Aelfwynn na Wessex laat bring maar dit is onbekend wat daarna met haar gebeur het. Die Merciërs was teen oorheersing deur Wessex gekant en Edward het moontlik sy seun Aethelstan – wat op daardie tydstip stellig meer ’n prins van Mercië as van Wessex was – as bemiddelaar opgestel. Toe Edward in 924 HJ tot sterwe gekom het, het sy seun Aelfweard uit ’n tweede huwelik hom opgevolg maar hy is slegs 16 dae later oorlede.

Aethelstan is deur die Merciërs as koning verklaar en is toe teësinnig deur die adel van Wessex aanvaar om sodoende koning van die Angel-Saksers en uiteindelik die eerste erkende koning van die Engelse volk te raak. Onder sy vroeëre prestasies was om die werk wat Aethelflaed begin het, af te handel deur die stad York te verower en Engeland in 927 HJ onder ’n enkele heerser te verenig.

Aethelstan het in die hof van sy tannie en oom in Mercië grootgeword. Sy opvoeding was geheel en al hulle verantwoordelikheid en dit het waarskynlik meer by Aethelflaed as by haar gade berus. Aethelstan se groot prestasies in onderrig, die reg, buitelandse beleid en bouprojekte sou alles deur sy vroeë jare in die hof van Mercië beïnvloed gewees het.

Twee eeue later sou geskiedkundiges Aethelflaed as ’n voortreflike leier beskryf – beter as Edward of selfs Alfred die Grote – en erkenning gee aan haar invloed op die prins wat die vernaamste koning van sy era geword het. Hierdie selfde geskiedkundiges, veral William van Malmsbury, het ook erkenning gegee aan Aethelflaed se belang in eie reg as vrou wat ten tyde van krisis oor haar koninkryk geheers en ’n blywende nalatenskap vir haar mense gelaat het – nie slegs deur haar invloed op haar broerskind nie maar hoofsaaklik deur haar eie prestasies.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2018, March 07). Aethelflaed, Dame van die Merciërs [Aethelflaed, Lady of the Mercians]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16851/aethelflaed-dame-van-die-merciers/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Aethelflaed, Dame van die Merciërs." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 07, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16851/aethelflaed-dame-van-die-merciers/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Aethelflaed, Dame van die Merciërs." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 07 Mar 2018. Web. 30 Nov 2021.