Alfred die Grote

Vertaling Fondsinsameling

Ons visie: Gratis geskiedenisonderwys vir almal in die wêreld, in elke taal. Dit is inderdaad 'n verhewe doel, maar dit sal ons nie keer om daaraan te werk nie. Om daar te kom, moet ons vertaal... baie! Skenk asseblief vandag en help ons om 'n werklike globale impak te maak. Baie dankie!
$2052 / $3000

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 24 April 2018

Oorspronklike teks in Engels: Alfred the Great

Artist's Impression of Alfred the Great (by The Creative Assembly, Copyright)
De indruk van de kunstenaar van Alfred de Grote
The Creative Assembly (Copyright)

Alfred die Grote (r. 871-899 HJ) was die koning van Wessex in Brittanje maar ná sy militêre oorwinnings oor Viking-teenstanders en latere suksesvolle onderhandelinge met hulle het hy as die koning van die Angel-Saksers bekend geraak. Te danke aan sy biograaf Asser (ca. 909 HJ gesterf) en die impak van dié se werk op latere skrywers, is Alfred die bekendste Angel-Saksiese koning in Britse geskiedenis.

Die epiteton “die Grote” is nie in sy leeftyd aan hom toegeken nie maar eers eeue later toe Asser se werk meer alom bekend geraak het en die omvang van Alfred se bewind groter erkenning begin geniet het. Nietemin is Alfred in sy leeftyd as edele koning erken wat weens sy hervorming rakende onderrig en die reg, en veral vir sy leierskap teen die Viking-bedreiging, die vertroue van sy mense gewen het. Alfred word in die TV-reeks Vikings uitgebeeld, met die rol van sy karakter wat deur die Ierse akteur Ferdia Walsh-Peelo vertolk word. Die karakter in die program is losweg op die historiese Alfred gebaseer alhoewel sy herkoms die vernaamste afwyking van die geskiedenis is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Vikings het in 793 HJ hul plundertogte in Brittanje begin en teen Alfred se tyd het hulle hulself van Northumbria tot Mercia reg deur die land gevestig, met invalle wat al meer in Wessex toegeneem het. Alfred het die Viking-leier Guthrum (ca. 890 HJ gesterf) in 878 HJ by die Slag van Eddington verslaan, waarna hy voorwaardes kon stel wat die verchristeliking van Guthrum en sy naaste raadgewers ingesluit het wat sodoende die godsdienstige gaping tussen die twee volke oorbrug het. Alhoewel die oorwinning nie die Viking-strooptogte in Brittanje tot 'n einde gebring het nie, en ook nie die Vikings na Skandinawië teruggedryf het nie, het dit 'n tydperk van vrede tot gevolg gehad waarin Alfred se hervormings geïmplementeer kon word en wortel kon skiet.

Ná byna 'n eeu se Viking-strooptogte en -oorlogvoering het Alfred se indrukwekkende militêre en administratiewe vaardighede Brittanje gestabiliseer. Hy het die praktyk daargestel om klassieke werke uit Latyn in Engels te vertaal, het openbare skole op die been gebring, die militêre magte hervorm en die regskode hersien en uitgebrei. Latere geskiedkundiges, veral tydens die Victoriaanse Tydperk, sou hom weens sy godsvrug, geregtigheid en sy edele visie van 'n beter toekoms vir sy mense as die volmaakste koning van die Middeleeue beskou.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Jeug en opgang na mag

Alfred is in 849 HJ gebore, die seun van koning Aethelwulf van Wessex en sy vrou Osburh. Toe hy vier jaar oud was, het sy vader hom op 'n pelgrimstog na Rome gestuur waar hy deur die pous in die geloof bevestig is en, volgens die Anglo-Saxon Chronicle, as koning gesalf is. Alhoewel dit moontlik is dat hierdie seremonie plaasgevind het, is dit redelik onwaarskynlik aangesien Alfred die jongste van vyf kinders was en sy ouer broers – Aethelbald, Aethelberht en Aethelred – almal voor hom vir troonopvolging in aanmerking sou kom.

Verwyder Advertensies

Advertisement

HY HET POËSIE GELEER DEUR DIT TE HERHAAL WANNEER DIT VOORGEDRA IS, MAAR KON DIT SELF EERS LATER IN SY TIENERJARE LEES.

Watter uitwerking die reis na Rome ook al op Alfred se karakter gehad het, blyk dit nie so 'n diepgaande invloed te gewees het as dié van sy moeder nie. Osburh word in Asser se Life of King Alfred as 'n godsdienstige en intelligente vrou beskryf wat 'n aansienlike effek op Alfred se lewenslange belangstelling in leer gehad het – 'n eienskap wat hom grotendeels gedefinieer en sy latere prestasies help vorm het.

Hy het poësie geleer deur dit te herhaal wanneer dit voorgedra is, maar kon dit self eers later in sy tienerjare lees en selfs toe kon hy nie Latyn lees waarin die belangrikste werke van sy tyd geskryf was nie.

In die TV-reeks Vikings is sy moeder se rol in sy lewe, sowel as sy herkoms, die beduidendste afwykings wat aan Alfred se karakter gemaak is. In die reeks is sy moeder Judith, prinses van Northumbria (vertolk deur Engelse aktrise Jennie Jacques) wat getroud is met Aethelwulf maar swanger raak deur 'n buite-egtelike verhouding met die Christenmonnik Athelstan (vertolk deur Engelse akteur George Blagden) wat eers Viking, en toe later geestelike raak. Alhoewel Judith se karakter as deernisvol en besorg oor Alfred uitgebeeld word, word geen melding gemaak van haar impak op haar seun se geletterdheid nie. Sy broosheid en die reis na Rome word ook min of meer akkuraat uitgebeeld maar sy broers en hul prestasies word in die karakter Aethelred (gespeel deur Darren Cahill) gekombineer en verdig, terwyl elemente van Aethelwulf se bewind en persoonlikheid ook aansienlik gewysig is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ná die dood van hulle vader het elkeen van Alfred se broers die troon opgevolg totdat Alfred in ca. 865 HJ amptelik as troonopvolger van sy broer Aethelred aangewys is, en tot die rang van militêre bevelvoerder verhef is. Aangesien Alfred boeke meer as aksie toegedaan was en as jong man dikwels siek was (hy het moontlik aan Crohn se siekte gely), is dit moontlik dat Alfred se familie nie hoë verwagtinge van hom as krygerkoning gekoester het nie. Indien wel, het hulle 'n groot fout gemaak want Alfred het van ca. 865-871 HJ homself as vaardige leier in die stryd bewys – eers saam met sy broer, en later op sy eie ná Aethelred se dood.

Die Viking-oorloë

Onder bevel van Halfdan en Ivar die Beenlose het die Viking se groot leër Oos-Anglië in 865 HJ binnegeval en korte mette gemaak van enige mag waarteen hulle te staan gekom het. In 866 HJ het hulle die stad York oorgeneem, en in 867 HJ die konings van Northumbria, Osbert en Aelle, doodgemaak en hulle beheer oor die streek gekonsolideer. In 868 HJ het hulle Mercia met konstante strooptogte geteister en teen 869 HJ was Oos-Anglië geheel en al oorrompel. In 870 HJ het versterkings vir die groot leër vanaf Skandinawië aangeland, en Halfdan het sy magte aangevoer om Wallingford in te neem, Mercia te plunder en die volgende jaar tot in Wessex in te ruk.

Aethelred en Alfred het hul magte gemobiliseer en by Reading teen die Vikings te velde getrek maar het 'n verpletterende nederlaag gely. Asser vermeld hoe die Christene deur die smart en skaamte hiervan aangevuur is en hoe hulle vier dae later met al hul mag en 'n vasberade gemoedstemming by 'n plek genaamd Ashdown teen die Viking-leër opgeruk het (Asser, 37; Keynes & Lapidge, 78). Die Slag van Ashdown in Januarie 871 HJ sou Alfred se vaardigheid in militêre leierskap bewys, sowel as sy vermoë om in 'n krisis koelkop te bly en op te tree.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Alhoewel Asser nooit vir Aethelred direk kritiseer nie, maak hy die punt dat 'n strategie uitgelê is waarvolgens Alfred en Aethelred aan die bevel van gesamentlike magte sou staan wat op verskillende punte op die Vikings sou toeslaan, maar dat Aethelred nooit sy opwagting gemaak het om die bevel oor sy deel van die geveg oor te neem nie. Die Vikings het die hoogliggende terrein beset en het reeds hul verdedigingswerke gefortifiseer toe Alfred by die gevegsterrein opdaag en uitvind dat sy broer die koning steeds met sy gebede besig was. Alfred het toe geen keuse gehad as om bevel van die hele leër oor te neem en die aanval te lei nie. Melding moet daarvan gemaak word dat Asser se weergawe van die veldslag al betwis is en dat ander bronne Aethelred met volle deelname aan die geveg krediteer.

England Around 910 CE
Engeland, ongeveer 910 HJ
Philg88 (CC BY-SA)

Of sy broer nou betrokke was of nie, Alfred het geseëvier en onder sy bedrewe aanvoering het sy magte die Vikings van die slagveld verjaag. Aangemoedig deur hierdie oorwinning, het die broers die Vikings agternagesit en by Basing weer met hulle slaags geraak, maar hier is hulle verslaan. Aethelred is in April oorlede, en Alfred het koning geraak. By die Slag van Wilton het hy sy leër weereens teen die Vikings aangevoer en blyk homself weereens as doeltreffende leier op die gevegsterrein te bewys het – of minstens aanvanklik. Die Viking-lyne het verbrokkel en op die vlug geslaan maar Alfred se magte het die mannekrag ontbreek om hulle agterna te sit. Die Vikings kon daarin slaag om te hergroepeer en 'n teenaanval te loods, en het die Wes-Saksers verslaan en as oorwinnaars uit die stryd getree. Op hierdie stadium het Alfred geen keuse gehad nie as om die Viking-bevelvoerders 'n groot bedrag te betaal om Wessex te verlaat.

Om sy ryk oor die volgende paar jaar te verdedig, moes Alfred aanmekaar enige troepe mobiliseer wat hy ook al kon monster. Alhoewel Wessex tydelik beveilig is deur die geld wat hy aan Halfdan betaal het, het dit nie beteken dat die Vikings Brittanje moes verlaat nie. Hulle het hul mag in Northumbria gekonsolideer, vrede met Mercia gesluit, en kon die outonomie van Wessex na willekeur bedreig wanneer dit hulle ook al gepas het. In 875 HJ het die Vikings hulle koninkryk oortuigend gevestig en 'n nuwe Noorse krygsheer, Guthrum, het die bevel oorgeneem.

In 876 HJ het Alfred 'n verdrag met Guthrum gesluit waarin hy gyselaars aan die Viking-leier oorhandig, en die Vikings plegtig onderneem om Wessex alleen te laat. Die Vikings het die ooreenkoms weens onbekende redes verbreek, die gyselaars doodgemaak, Wessex aangeval en toe na Exeter teruggeval waar hulle oorwinter het. Alfred het sy magte bymekaargemaak en die Viking-vloot by Devon geblokkeer en hulle gedwing om na Mercia te onttrek maar teen 877 HJ was die Vikings terug op die grens en in 878 HJ het hulle Chippenham oorgeneem. Die aanval op Chippenham was 'n verrassingsaanval wat tydens die Kersseisoen geloods is toe Alfred die feestyd in die geweste gevier het, en geheel en al onvoorbereid was. Baie van die bevolking is deur die Vikings verdelg maar Alfred kon daarin geslaag om saam met sy gesin en 'n handjievol manskappe te vlug, en het in ballingskap gegaan. Asser beskryf hierdie tydperk:

Terselfdertyd het koning Alfred, saam met sy klein groepie adel sowel as sekere soldate, in die bos- en moerasagtige plekke van Somerset in groot ellende 'n rustelose lewe gelei. Hy het niks gehad waarop hy kon lewe nie buiten dit wat hy met gereelde strooptogte, hetsy steelsgewys of selfs openlik, van die Vikings of van die Christene wat hulle aan die Vikings se gesag onderwerp het, kon plunder. (Asser, 53; Keynes & Lapidge, 83)

Alfred en die verbrande brood

Na bewering is dit tydens hierdie tydperk wat die legendes wat oor Alfred vertel word, plaasgevind het. Alhoewel dit dikwels aanvaar word dat hierdie legendes uit Asser se werk kom, is dit alles latere skeppings van ca. die 10de eeu HJ. Die bekendste hiervan is die storie van Alfred en die verbrande brood uit The Life of St. Neot.

Dit verhaal hoe Alfred toe hy een maal alleen gereis het, by die kothuis van 'n varkwagter aangedoen en gasvryheid versoek het sonder om bekend te maak wie hy is. Hulle het hom vir 'n paar dae ingeneem en een dag toe die varkwagter uit was, is sy vrou besig om brood in die oond te bak terwyl Alfred naby sit, ingedagte met sy probleme. Die vrou is die huis aan't skoonmaak toe sy die brood ruik brand en haar na die oond haas om dit uit te rakel. Sy berispe Alfred wat daar naby sit en sê, “Jy talm om die brood om te draai wat jy kan sien besig is om te verbrand, maar jy's heel tevrede om dit te eet wanneer dit warm uit die oond kom!” (Keynes & Lapidge, 198)

Die storie sou later baie gestaltes aanneem, met die vrou wat as boos en onkundig uitgebeeld word, of eenvoudig deur haar gas die harnas ingejaag is, maar oor die algemeen verpersoonlik Alfred se reaksie nederigheid en welwillendheid. Hy onthul homself nooit as die koning nie en argumenteer nooit met die vrou nie, maar aanvaar haar skrobbering as gepas, en help haar om die brood te bak.

Die Slag van Eddington

Alfred het vir minder as drie maande in ballingskap gebly terwyl hy vir die Vikings weggekruip het. Deur 'n netwerk spioene en opperhoofde wat aan hom getrou gebly het, het hy gedurende hierdie tydperk blykbaar vir aanvallende optrede teen die Vikings voorberei, en volgens Asser was hy teen Maart besig om 'n suksesvolle guerrilla-oorlog teen die Dene te voer. Teen Mei 878 HJ het hy 'n groot genoeg mag gemonster om die Vikings die stryd aan te sê. By Athelney het hy 'n vesting laat oprig wat as operasionele basis diens gedoen het; hierdie basis is vermoedelik gebruik om manne te werf en om aanvalle te loods.

Alfred the Great Statue, Winchester
Alfred het Grote Standbeeld, Winchester
Odejea (CC BY-NC-SA)

Op 'n stadium vroeg in Mei kon hy daarin slaag om die Vikings uit hulle vesting by Eddington te lok, en deur die skildmuur as taktiek te gebruik, het hy hulle verslaan. Wessex se magte het waarskynlik 'n hegte formasie teen die Viking-aanslag gehandhaaf, en toe 'n teenaanval geloods. Die Vikings is van die gevegterrein verjaag en het die verdedigingswerke van hulle vesting gefortifiseer. Alfred het egter al die gewasse in die omgewing van die Vikings se verdedigingswerke vernietig, al die soldate om die lewe gebring wat buite die vesting gevind is, en op die vee beslag gelê. Die Vikings het net die voorraad binne die vesting gehad en ná twee weke van beleg het hulle oorgegee.

Alfred se voorwaardes was toegeeflik: Guthrum en 30 van sy opperhoofde sou hulle aan die Christen-doop onderwerp en van hulle heidense geloof afstand doen, gyselaars sou voorsien word om voldoening te verseker en die Vikings sou Wessex verlaat; aan al hierdie vereistes is voldoen. Vir die oomblik was Wessex beveilig maar niks getuig daarvan dat Alfred gedink het dat Eddington die einde van sy Viking-sorge beteken het nie.

Herstel, hervorming en onderrig

Weens gebrek aan 'n beter teorie het die een dat die Viking-strooptogte die toorn van God was, sedert die aanval op Lindisfarne in 793 HJ onbetwis gebly; Alfred het dit beslis geglo. Ná die Slag van Eddington het hy aan die werk gespring om 'n oplossing vir die onderliggende oorsake van die plundertogte te vind wat, na sy mening, die swak toestand van onderrig, klerikale geleerdheid en die gebrek aan eenheid in sy koninkryk was.

In 880 HJ het Alfred sy koninkryk begin herorganiseer en onderrig-, regs- en militêre hervormings geïmplementeer wat Wessex en uiteindelik die hele Brittanje sou verander. Hy het begin deur die stede en dorpe te herbou wat tydens die Viking-oorloë vernietig is, en die strukture daarvan te verbeter. Hy het besef dat dié net so maklik as hul voorgangers verwoes kon word, en het gevolglik die militêre magte en selfs die struktuur van nedersettings in sy koninkryk hervorm.

Vroeg in die 880's HJ het Alfred innovasies geïmplementeer wat 'n herstrukturering van die netwerk dorpe en stede ingesluit het. Hierdie inisiatiewe staan bekend as die “burghal-stelsel” ingevolge waarvan 33 burhs (gefortifiseerde nedersettings) regdeur sy koninkryk deur middel van verbeterde paaie aan mekaar verbind is. Een of ander tyd ná die Slag van Eddington het Alfred tydens 'n reis na Rome by die Karolingiese konings van Frankryk – wat eeue lank met hul eie Viking-probleme te kampe gehad het – gaan kers opsteek rakende defensiewe taktieke en krygslis. Alfred se burghal-stelsel is stellig aanpassings van die Karolingiese leringe.

Ten einde dat elke burh homself kon verdedig, moes dit deur 'n garnisoen beset word, en hierdie soldate moes betaal word; derhalwe het Alfred die belastingkode hervorm op grond van die oormaat wat op iemand se grond ingevorder is. Die produktiwiteit van 'n streek is dan in ag geneem wanneer 'n sekere aantal troepe daar gestasioneer is. Die burhs was so geleë dat enige garnisoen binne 'n dag se mars enige ander burh te hulp kon snel.

Terselfdertyd het Alfred 'n aantal geleerde klerke uit Wallis en Frankryk laat kom om Latynse onderrig weer in die hof bekend te stel en om Latynse werke in Engels te vertaal. Openbare skole is geskep waar studente geleer het om Engels te lees; diegene wat later priesterwyding sou beoefen, is ook Latyn geleer. Dit is gedurende hierdie tydperk dat Asser, voorheen van Wallis, sy opwagting as Alfred se persoonlike leermeester by die hof gemaak het. Met verloop van tyd het Alfred self werke uit Latyn in Engels vertaal en sodoende as rolmodel vir sy onderdane gedien.

Maar teenstrydig met wat al dikwels aangevoer is, moet 'n mens nie dink dat hierdie tyd 'n “stil tyd” was waartydens Alfred hom aan sy studie en binnelandse beleide kon wy nie. Hy was daagliks betrokke by besluite rakende buitelandse beleide, en die probleme met die Vikings in Brittanje het voortgeduur. Alfred het in die vroeë 880's HJ beheer oor Mercia verkry maar die Vikings het hulle in die omgewing vanaf Northumbria, bekend as die Danelaw, gevestig, en was steeds besig om invalle in ander streke te loods.

Pogings om Engeland te verenig

In 'n verbysterende oorwinning het Alfred Londen in 886 HJ verower, en “al die Engelse mense wat nie aan die Dene onderdanig was nie, het hulle aan hom onderwerp” (Keynes & Lapidge, 38). Moontlik was daar 'n amptelike eed van getrouheid aan die koning wat die bevolking, of minstens die grondeienaars, moes aflê maar al was daar nie, is dit duidelik dat Alfred die mense van Brittanje onder sy bewind verenig het. Keynes en Lapidge (38) merk op dat Alfred se oorwinning by Londen die “ontluiking onder die Engelse van 'n sin vir 'n gemene identiteit, onder 'n gemene leier, vir 'n gemene saak” gekenmerk het. Alfred was nou koning oor die hele Engeland wat nie deur die Dene beset is nie.

Kort nadat hy Londen ingeneem het, het Alfred 'n alliansie met Mercia aangegaan deur 'n huwelik tussen sy dogter Aethelflaed (r. 911-918 HJ) en die graaf van daardie streek, Aethelred II (r. 883-911 HJ) te reël. Hulle was vir seker teen 887 HJ getroud want op handveste verskyn Aethelflaed se naam langs dié van Aethelred. Aethelflaed het Alfred se werk voortgesit – eers in samewerking met haar man, en later op haar eie as enkelheerser en dame van Mercia.

Aethelflaed
Aethelflaed
Anonymous (Public Domain)

Alfred het met sy onderrigprogramme aangegaan, die vloot vergroot en hervorm en sy eie regskode opgestel wat op die Christen-Bybel gebaseer en op die Tien Gebooie gegrond was. Alle strawwe het die vorm van boetes aangeneem buiten dié vir misdade wat verraad of troueloosheid behels het. Die oppergesag van heerskappy is deurentyd beklemtoon aangesien Alfred geglo het dat die koning deur goddelike wil geregeer het en, mits hy getrou aan sy roeping was, dat hy regverdig in die beste belange van sy mense sou heers.

Alhoewel hy in sy jeug ongeletterd was, het Alfred die regskode geskryf en 'n aantal werke vertaal, onder meer Gregory se Pastoral Care, Boethius se Consolation of Philosophy, St. Augustinus se Soliloquies, sowel as die eerste 50 psalms. Al hierdie boeke het 'n positiewe invloed op Alfred persoonlik gehad en hy was oortuig dit sou dieselfde vir ander mense doen.

Teen die tyd dat Alfred op 26 Oktober 899 gesterf het, het hy Brittanje van 'n uiteenlopende streek bestaande uit afsonderlike koninkryke, omskep in iets wat met 'n verenigde nasie ooreengestem het. Ten spyte van sy prestasies en roem, het Alfred met sy heengaan nie soveel agting geniet as wat in latere eeue die geval sou wees nie, moontlik omdat die Viking-invalle in Brittanje tot 1066 HJ sou voortduur.

Maar nog 'n rede is dat Asser se Life of King Alfred in hierdie tyd nie ruim gelees is nie aangesien Asser dit nooit voltooi het nie, en dit nie vir verspreiding laat kopieer het nie. Die werk het eers in die 17de eeu HJ onder die publiek se aandag gekom toe sir John Spelman dit as 'n riglyn vir koninklike gedrag gepubliseer het. In die 18de eeu HJ is Alfred as die verpersoonliking van 'n edele koning beskou, en teen die tyd van die Victoriaanse Tydperk (1837-1901 HJ) is hy as die stigter van die Britse Ryk, vader van die Britse vloot (alhoewel hy dit slegs hervorm het) en as die vernaamste koning wat Engeland ooit regeer het, gekoester.

Sy onderrighervormings het die weg vir openbare skole in Engeland gebaan, sy regskode het as die grondslag vir toekomstige regshervormings gedien en sy herstrukturering van die stede, dorpe en paaie het die infrastruktuur van die land vir ewig verander. Sy dogter Aethelflaed van Mercia, tesame met haar broer Edward van Wessex – wat Alfred opgevolg het – het sy oorlog met die Vikings, sowel as sy onderrighervormings en burghal-stelsel voortgesit. Edward se seun Aethelstan het met verloop van tyd die eerste koning van Engeland geword en oor 'n verenigde land geregeer en sy vader se erflating laat voortbestaan.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2018, April 24). Alfred die Grote [Alfred the Great]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16848/alfred-die-grote/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Alfred die Grote." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 24, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16848/alfred-die-grote/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Alfred die Grote." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 24 Apr 2018. Web. 08 Dec 2021.