Antieke Chinese kalligrafie

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 16 October 2017
X
Calligraphy by Cai Xiang (by Cai Xiang, Public Domain)
Kalligrafie deur Cai Xiang
Cai Xiang (Public Domain)

Kalligrafie is tesame met skilderkuns as die belangrikste Chinese kunsvorm gevestig, en het die eerste maal tydens die Han Dinastie (206 VHJ - 220 HJ) na vore gekom. Daar is van alle gestudeerde mans en van sommige hofdames verwag om daarin bekwaam te wees – ’n verwagting wat tot lank in die moderne tydperk voortgeduur het. Goeie kalligrafie het baie meer as blote skryfwerk behels: Dit het ook keurige kwasbeheer en aandag aan samestelling ten toon gestel, en die maniér van skryf was ewe belangrik, met vinnige, spontane hale wat as die ideaal voorgehou is. Die kwaswerk van kalligrafie, sowel as die filosofie en materiaal daarvan, het Chinese skilderstyle – veral landskapskilderkuns – beïnvloed, en baie van die antieke skrifte word vandag steeds in moderne Chinese skryfwerk nageboots.

Materiaal

Die hoogs buigsame kwaste wat in kalligrafie gebruik is, is van dierehare (of by uitsondering, ’n veer) gemaak wat aan die punt afgespits, en aan ’n bamboes- of houthandvatsel vasgebind is. Die ink wat gebruik is, is deur die skrywer self gemaak deur ’n gedroogde koekie diere- of plantaardige stof wat met minerale en gom gemeng is, teen ’n nat klip te skuur. Hout, bamboes en sy (vanaf ca. 300 VHJ), en daarna papier (vanaf ca. 100 HJ) was die algemeenste skryfoppervlaktes, maar kalligrafie kon ook op alledaagse voorwerpe soos waaiers, skerms en baniere verskyn. Papier was egter die beste materiaal, en die uitvind van ’n fyner gehalte papier – waarmee Cai Lun in 105 HJ gekrediteer word – het die ontwikkeling van kunstiger style kalligrafie gefasiliteer want die absorpsievermoë daarvan het elke nuanse van die haal van die kwas vasgevang.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Aanwendingsmetodes

’n Kennerskap het aanstons ontwikkel, en kalligrafie het – tesame met rituele, musiek, boogskiet, die ry van strydwaens en syfers – een van die ses klassieke en antieke kunsvorme geraak. Daar is van bekwame Chinese kalligrawe verwag om afwisselende grade kwashaaldiktes, hulle subtiele hoeke en die wisselende verbintenis met mekaar, te gebruik om – alles presies in denkbeeldige ruimtes op die bladsy gerangskik – ’n esteties bevredigende geheel te skep.

Calligraphy Brushes
Kalligrafiekwaste
Karl (CC BY-NC-SA)

Die historikus R. Dawson (201-202) gee die volgende beskrywing van die aanloklikheid van kalligrafie wat met ’n bedrewe kwas geskep is, vergeleke met die gedrukte weergawe:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die gedrukte karakters is soos figure in ’n Victoriaanse foto wat styf op aandag staan; maar die kwasgeskrewe karakters dans al met die bladsy langs met die grasie en lewenskragtigheid van die ballet. Die pragtige vorms van Chinese kalligrafie is trouens met natuurlike skoonhede vergelyk, en elke haal van die kwas is vermoedelik deur ’n natuurlike voorwerp geïnspireer, bedeel met die energie van ’n lewende wese. Gevolglik het Chinese kalligrawe inspirasie gesoek deur natuurlike verskynsels dop te hou. Die bekendste van almal, Wang Xizhi, het daarvan gehou om ganse dop te hou aangesien die sierlike en gemaklike beweging van hulle nekke hom aan die aanwending van die kwas herinner het; en na bewering het die monnik Huai-su begeestering vir die oneindige verskeidenheid wat in die kursiewe skryfwyse bekend as “grasskrif” opgesluit is, geput deur somerwolke dop te hou wat deur die wind aangedryf is.

Kalligrafieskrifte

Daar was vyf hoofskrifte in antieke Chinese kalligrafie:

  1. Seëlskrif (zhuan shu) – sedert ca. 1200 VHJ in gebruik
  2. Klerklike skrif (li shu) – vanaf ca. 200 VHJ
  3. Gewone skrif (kai shu, zhen shu of zheng shu) – vanaf 200-400 HJ
  4. Kursiewe skrif (xing shu) – vanaf die 4de eeu HJ
  5. Konsepskrif (cao shu) – vanaf die 7de eeu HJ

Seëlskrif, soos die naam te kenne gee, was ’n formele styl wat vir seëls en ander amptelike dokumente gebruik is aangesien die dikte van die kwashale eweredig was en dit minder rigtingveranderings behels het, wat dit makliker vir houtsnyers gemaak het om te herproduseer. Klerklike skrif met die swaar uitgang van die hale was ook formeel en is vir rekordhoudoeleindes deur klerke en beamptes gereserveer. Dit het later die algemene skrif vir inskripsies geword. Sowel klerklike as seëlskrif is in die 17de en 18de eeu HJ as kunstige skrifte weer in die lewe geroep. Gewone skrif was die standaardvorm wat vir drukwerk gebruik is, en is tot vandag die skrif wat die algemeenste gebruik word. Die meer flambojante kursiewe skrif was die gewildste keuse vir artistieke uitdrukking en is ook vir die aantekeninge gebruik wat by skilderye gevoeg is. Laastens is konsepskrif – waarna soms ook as “grasskrif” verwys word – so genoem omdat dit die maklikste was om te skep, asook die “wildste” met dié dat die kunstenaar konvensies tot die uiterste kon beproef sodat sommige karakters moeilik geraak het om onmiddellik te herken.

Li Po's Calligraphy
Li Po se kalligrafie
Li Bai (Public Domain)

Ongeag hierdie ruim omvattende tipes, was elke kalligraaf se skryfstyl natuurlik sy of haar eie. ’n Kalligraaf kon hom of haar op presisie eerder as spontaniteit toespits, swierigheid bo sierlikheid verkies, of eerder konsentreer op die ruimtes wat binne ’n komposisie oopgelaat word. Benewens estetiese aspekte is skryfwerk ook vir ander doeleindes beoordeel, soos die historikus M. Dillon (37) hier verduidelik:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Aangesien ’n persoon se skrif as aanduiding van sy of haar temperament, sedelike gehalte en kunde beskou is, het die Tang en Song Dinastie dikwels hulle ministers op grond van die gehalte van hulle kalligrafie gekies … Die lewe van die kalligrafiese tradisie is volhou deur die idee dat kalligrafie die spontane gevoelens van die werklik oplettende individu by wyse van ’n uitstuwing van die gees op ’n besondere oomblik kon oordra.

Bekende kalligrawe

Net soos wat die geval met elke ander kunsvorm is, het die begaafste beoefenaars van kalligrafie vir hulle werk bekendheid verwerf, sodat hulle geskrifte gekopieer, en in nuwighede soos gedrukte boeke gebruik is. Soos vroeër genoem, was Wang Xizhi (ca. 303 - ca. 365 HJ) die hooggeagste van alle Chinese kalligrawe, alhoewel hy ’n student van die dame Wei (272-349 HJ) was. Geen voorbeelde van enige van die twee se skryfwerk bestaan nog nie, behalwe moontlik in steeds bestaande afdrukke van Xizhi se werk. Wang Xizhi se seun, Wang Xianzhi (344-388 HJ), was nog ’n bekende beoefenaar van kalligrafie, en daar word dikwels na die paar as “die twee Wangs” verwys. Die gevierde kalligraaf Zhao Mengfu (1254-1322 HJ) het sulke presiese karakters voortgebring wat so netjies in vierkantige blokkies op sy papier geplaas is dat drukkers sy skrif vir hulle eie drukblokke gebruik het.

VOORBEELDE VAN DIE SKRIFTE EN STYLE WAT DEUR HIERDIE MEESTERS GESKEP IS, IS DIKWELS OP HOUT OF KLIP GEKOPIEER TEN EINDE DIT BEHOUE TE LAAT BLY.

Voorbeelde van die skrifte en style wat deur hierdie meesters geskep is, is dikwels op hout of klip gekopieer om dit behoue te laat bly, en daarvan is inkvryf-afdrukke (bei) gemaak. Derhalwe kon die papierafdrukke versprei word, en kon die skrifte orals deur geringer kalligrawe nageboots word. Sodanige afdrukke was ook nuttig vir keisers gewees wat tydens hulle bewind een skryfstyl bo ’n ander wou begunstig, en hierdie afdrukke het ’n onskatbare rekord van die ontwikkeling van Chinese kalligrafie geraak wat tot op hede geraadpleeg en nageboots word.

Voorbeelde van bekende kalligrafie bestaan voort in die vorm van briewe, inleidings tot boeke, stukke prosa, godsdienstige tekste, aantekeninge wat op skilderye aangebring is, asook gesnede steles, grafstene en tablette, waar die klipmesselaar die werk van die bekende kalligraaf getrou gekopieer het. Voorbeelde van netjiese kalligrafie deur bekende skrywers is selfs in die antieke tyd versamel, veral in die biblioteke van keisers, of selfs saam met hulle in hul graftombes begrawe. Soveel waarde is aan hierdie stukke geheg dat vervalsings daarvan as die ware Jakob aan versamelaars verkoop is. Nog ’n aanduiding van die waarde wat geheg word aan voorbeelde van kalligrafie deur vername meesters uit die verlede, is die feit dat – relatief tot die pryse en versamelbaarheid van die item – die werklike teks dikwels irrelevant is. Daar is baie brokkies (tie) wat moontlik baie oud en waardevol is, maar wat trouens net kommentaar lewer oor die weer, of ’n nota is oor lemoene wat as geskenk gegee is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Calligraphy by Wang Xizhi
Kalligrafie deur Wang Xizhi
Wang Xizhi (Public Domain)

Invloed op skilderkuns

Die tegnieke en konvensies van skryfwerk het ’n invloed op skilderkuns gehad, waar kritici gelet het op kunstenaars se kragtige kwashale, sowel as hulle spontaniteit, en hulle afwisseling om die illusie van diepte te skep. Nog ’n invloed van kalligrafievaardighede op skilderkuns was die belangrikheid wat aan samestelling geheg is, asook die gebruik van oop ruimtes. Laastens het kalligrafie só belangrik gebly dat dit selfs op skilderye verskyn het om te beskryf en te verduidelik wat die kyker aanskou, om die titel aan te dui – alhoewel geensins alle skilderye ’n titel deur hulle oorspronklike kunstenaar toegeken is nie – of om die plek aan te teken waar dit geskep is, sowel as die persoon vir wie dit bedoel is. Sodanige aantekeninge en selfs gedigte het uiteindelik ’n integrale deel van die algehele samestelling, en ’n onskeibare deel van die skildery self geraak.

Daar was ook ’n gier dat nog inskripsies deur daaropvolgende eienaars en versamelaars bygevoeg word, en selfs dat ekstra stukkies sy of papier by die oorspronklike stuk gevoeg word om vir hierdie inskripsies voorsiening te maak. Vanaf die 7de eeu HJ het eienaars byvoorbeeld dikwels hulle eie seël in rooi ink bygevoeg, en indien ’n stuk van eienaar verwissel het, dan sou die nuwe eienaar sy of haar seël byvoeg sodat die geskiedenis van die werke se eienaarskap soms vir honderde jare teruggespoor kan word. Dit blyk dat Chinese skilderye bedoel is om ewigdeur gehanteer, en met netjiese kalligrafie versier te word.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2017, October 16). Antieke Chinese kalligrafie [Ancient Chinese Calligraphy]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16391/antieke-chinese-kalligrafie/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Antieke Chinese kalligrafie." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig October 16, 2017. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16391/antieke-chinese-kalligrafie/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Antieke Chinese kalligrafie." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 16 Oct 2017. Web. 15 Aug 2022.