Die verbondsark

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$900 / $3000

Definisie

Rebecca Denova
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 09 July 2021

Oorspronklike teks in Engels: Ark of the Covenant

Ark of the Covenant (by Mary Harrsch, CC BY-NC-SA)
Die verbondsark
Mary Harrsch (CC BY-NC-SA)

Die verbondsark verwys na die kisagtige houer waarin die tablette met die wet wat Moses op die berg Sinai ontvang het, gehou is. Volgens tradisie het dit twee kliptablette bevat waarop God die eerste tien gebooie gegrif het wat Hy aan Israel gegee het. Ontvangs van die tablette en die besonderhede oor die konstruksie van die ark verskyn in die boek Eksodus.

Nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, het Moses hulle na die berg in Sinai gelei waar hy sy eerste openbaring van God ontvang het. Hy het die mense in die kamp agtergelaat en het 40 dae en 40 nagte op die berg deurgebring. Wat Moses ontvang het, was nie bloot die tradisionele idee van tien gebooie nie maar wel dit wat later die grondwet van die volk Israel sou raak.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Volgens Joodse oorlewering het Moses geweldig baie inligting ontvang terwyl hy op die berg was. Baie van die besonderhede word in die boeke Eksodus, Levitikus (die priesters se handleiding), Numeri (die tyd van die Hebreeuse omswerwinge deur die wildernis) en Deuteronomium (’n tweede bron vir die oorspronklike wetgewing) bevat. Latere teksbewerkers het aangevoer dat hy die bloudruk vir die bou van Salomo se tempel in Jerusalem (ca. 900 VHJ) ontvang het.

Mettertyd is die gebooie tot tien woorde gereduseer, met die Hebreeuse weergawe in kort stellings: “Moenie lieg nie”, “Moenie steel nie”. In die Griekse vertaling van die Joodse Ou Testament – die Septuagint – is hulle die “dekaloog” gedoop. Teologies gesproke is dit verstaan dat die tablette in twee hoofkomponente verdeel is: Die eerste vyf is elemente wat op aanbidding van die God van Israel betrekking het, en die res is van toepassing op menslike gedrag as ’n volk. Moderne ikonografie van die tablette behou sowel die Hebreeuse letters as die latere ingebruikneming van Romeinse syfers.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die ark

VIR BAIE GESKIEDKUNDIGES IMPLISEER DIE PRESIESE DETAIL IN EKSODUS DIE WERKLIKHEID VAN DIE ARK.

Die term “ark” kom van die Latyns arca, wat “kis” beteken. Die Hebreeuse woord tevah is waarskynlik afgelei van die Babiloniese woord vir boot. Die Babiloniërs het ’n vroeër storie oor ’n vloed in die Epos van Gilgamesj gehad, waarin die ark ’n boot soos dié van Noag was. Beduidende teologiese betekenis word aan die term “ark” geheg aangesien dieselfde woord gebruik word vir Noag se skip, die mandjie waarin die baba Moses met die Nyl af laat dryf is, sowel as die houer waarin die gebooie uiteindelik bewaar is. Hierdie drie word as reddingswerktuie beskou.

Instruksies vir die skep van die ark was ingesluit by die toebehore van wat later die tabernakel of die tent van ontmoeting sou word:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ook moet hulle vir My ’n heiligdom maak, dat Ek onder hulle kan woon. […] Hulle moet dan ’n ark van akasiahout maak. Twee en ’n halwe el moet sy lengte, en ’n el en ’n half sy breedte, en ’n el en ’n half [± 131 x 79 x 79 cm] sy hoogte wees. En jy moet dit oortrek met suiwer goud, van binne en van buite moet jy dit oortrek. En jy moet daaraan ’n goue krans maak rondom. En giet daarvoor vier goue ringe, en sit dit aan sy vier voete vas, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant is. En maak draaghoute van akasiahout, en oortrek dit met goud. En steek die draaghoute in die ringe aan weerskante van die ark om die ark daarmee te dra. … Daarna moet jy in die ark die Getuienis gee wat Ek jou sal gee. Maak ook ’n versoendeksel van suiwer goud. Twee en ’n halwe el moet sy lengte, en ’n el en ’n half sy breedte wees. Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel. … En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle gesigte moet na mekaar toe wees … En sit die versoendeksel bo-op die ark; maar in die arm moet jy die Getuienis neerlê wat Ek aan jou sal gee. En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou sê alles wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel. (Eksodus 25)

Die “versoenbedekking” van materiaal is later as die versoendeksel van God uitgebeeld. Hierdie besonderhede het later ikonies in illustrasies van die ark geraak. Vir baie geskiedkundiges impliseer die presiese besonderhede in Eksodus die werklikheid van die ark. Daaropvolgende verwysings na die ark in die Joodse Ou Testament bevat dieselfde besonderhede.

Die ark in die wildernis

Die tent van ontmoeting het tydens die jare in die wildernis as draagbare altaar gedien. Binne die tent – in die middel – was die verbondsark, en dan sones van heiligheid: priesters, mans en vroue volgens heilige ruimtes. Nét Moses en Aäron is toegelaat om die teenwoordigheid van die ark te betree. Die eerste plig wanneer ’n nuwe kamp opgeslaan is, was om die altaar op te rig, en dit was die laaste ding wat onttakel is wanneer hulle verder getrek het. Diegene wat die toerusting gedra het, is vir beskerming in die middel van die migrasie geplaas soos hulle getrek het. Die ark is altyd deur die Leviete – afstammelinge van Moses en Aäron – gedra.

The Ark Passes Over the Jordan
Die ark steek die Jordaan oor.
James Tissot (Public Domain)

Numeri 9:15 beskryf hoe die tabernakel van die ark bedags deur ’n wolk en snags deur vuur oordek is, waardeur God se teenwoordigheid onder die Israeliete gedemonstreer is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Elke keer wanneer die ark vertrek, het Moses gesê: “Trek op, Here, verstrooi u vyande! Laat hulle wat vir U haat, voor U wegvlug!” En wanneer die ark neergesit word, sê Moses: “Keer terug, Here, na die ontelbare menigtes van Israel toe.” (Numeri 10:35-6)

Vandaar die antieke tradisie dat die ark mag bevat het om Israel se vyande te verslaan, wat dan ook die uitgangspunt van die trefferfilm Raiders of the lost ark is.

Die volgende paar boeke van die Joodse Ou Testament verhaal die stories van die Israeliete wat in die land Kanaän gevestig en ’n verenigde monargie gestig het. Met die afsterwe van Moses en Aäron in die wildernis, is dit aan Joshua (Moses se luitenant) oorgelaat om die stamme die land binne te lei. Hulle het vanuit die ooste genader en – soortgelyk aan die deursteek van die Rooi See – het die water voor Joshua geskei toe hy die priesters wat die ark dra deur die Jordaanrivier lei. Toe hulle Jerigo aangeval het, is die ark sewe maal om die stadsmure gedra, totdat die mure inmekaargestort het (Joshua 6:15-21). Toe hulle eers in die land gevestig is, het Joshua die wet aan die mense voorgelees terwyl hulle by Gerisimberg weerskante van die ark staan.

Die Filistyne buit die ark

DIE VERBONDSARK IS REG IN DIE MIDDEL VAN SALOMO SE TEMPEL, IN DIE ALLERHEILIGSTE, GEPLAAS.

Die boek Rigters vertel van die tydperk toe ’n konfederasie van die twaalf stamme van Israel oor Kanaän geheers het. Om stamdominansie en -jaloesie te vermy, is die tent van ontmoeting om die beurt vir bepaalde periodes op die grond van verskillende stamme opgerig. Die inval van die Filistyne (die Seevolkere in ander antieke tekste) aan die einde van die Bronstydperk het tot verskeie nederlae vir die Israeliete gelei. 1 Samuel 4 vertel van die besluit van die priesters by Silo, waar die ark tydelik gehou is, om die ark as versekering teen die vyand saam na die slagveld te neem. Tot hulle groot ontsteltenis is die ark deur die Filistyne buitgemaak en by Asdod in die tempel vir hulle hoofgod Dagon geplaas.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Daarna is die Filistyne deur ’n rits terugslae getref. Elke oggend het hulle die standbeeld van Dagon op die grond voor die ark aangetref. Die Filistyne is met pesswere (waarskynlik builepes) geteister en ’n plaag muise het hulle graanvoorraad vernietig. Hulle het die ark op ’n wa gesit en dit na die Israeliete teruggestuur. Dit is vir die volgende 20 jaar in die dorp Kirjat-Jearim (Abu Gosh) gehou.

Salomo se tempel en die Babiloniese inval

Dawid (ca. 1000 VHJ) het in wat later as die “verenigde monargie” bekend sou staan as koning oor die ander stamme uitgestyg. Hy het Jerusalem (die stad van die Jebusitiese stamme) binnegeval en oorgeneem en dit die Israeliete se hoofstad gemaak. Dawid het planne gehad om ’n permanente woning vir God (’n kliptempel) te bou en het beveel dat die ark na die stad gebring word. Onderweg daarheen het die osse wat die wa met die ark daarop getrek het, gestruikel en een van die wadrywers het uitgereik om die ark teë te hou, en God het hom neergevel. Dawid het die ark toe deur die Leviete by die stad laat in dra. Weens sy sonde kon Dawid nie die tempel bou nie maar sy seun Salomo het dit gedoen. Die verbondsark is reg in die middel van Salomo se tempel, in die Allerheiligste, geplaas. Slegs die hoëpriester kon op Joom Kippoer die Allerheiligste betree.

Joom Kippoer het ’n jaarlikse ritueel, die Groot Versoendag, geraak (Levitikus 16). Die hoëpriester het twee bokramme geoffer wat simbolies die sondes van die mense gedra het. Een is op die altaar geoffer en die ander een is die wildernis ingestuur (die oorsprong van die woord “sondebok”). Die bloed is op die versoendeksel van die verbondsark gesprinkel.

Solomon's Temple, Jerusalem
Salomo se tempel, Jerusalem
Unknown Artist (Public Domain)

1 Konings 14:25 verhaal die storie van hoe Farao Sisak van Egipte ná die dood van Salomo die streek verower en Jerusalem geplunder het. Sisak is as Sjesjonk I van Egipte se 22ste dinastie (10de eeu VHJ) geïdentifiseer: “[Sisak] het beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis [sowel as] die goue skilde wat Salomo laat maak het.” Vakkundiges debatteer of die buit die ark ingesluit het.

Die ark verskyn volgende in 2 Kronieke 35:1-6 wanneer koning Josia (640-609 VHJ) – ’n godsdienstige hervormer – die Leviete beveel om die heilige ark “in die tempel wat koning Salomo … seun van Dawid, gebou het” te plaas. Vir sommige teoretici dui dit daarop dat dit tydens Sisak se inval versteek was waar dit tot en met Josia se bewind verborge gebly het.

In 587 VHJ is die stad Jerusalem en Salomo se tempel deur die Babiloniërs vernietig. Volgens die latere apokriewe teks 1 Esdras het hulle die “werktuie van die ark van God” sowel as die koning se skatte en gevangenes na Babilon weggevoer maar die ark self word nie genoem nie. Die Joodse Ou Testament wat stories oor die lewe in Babilon en Persië vertel, maak geen melding van die ark nie, en dit is vanaf hierdie tydstip in die chronologie van Israel se geskiedenis dat vakkundiges, argeoloë en leke die afgelope twee eeue lank na die verbondsark soek. Saam met die heilige graal bly die ark een van die gesogste oudhede van die antieke tyd. Teorieë rakende die ark spruit uit Joodse Hellenistiese literatuur.

Die boeke van die Makkabeërs vertel van die suksesvolle Joodse opstand in 167 VHJ teen die Griekse bewind onder Antiochus Epiphanes. Die tweede boek beweer dat die profeet Jeremia tydens die Babiloniese inval die heilige vuur van die tempel, sowel as die ark, weggesteek het:

Die rekords toon dat dit die profeet Jeremia was wat … genoop deur ’n hemelse boodskap … bevel gegee het dat die tent van ontmoeting en die ark saam met hom moet gaan. Hy het toe na die berg [Nebo] gegaan van die kruin waarvan Moses God se beloofde land gesien het. Toe hy die berg bereik het, het hy ’n grotlokaal gevind; hy het die tent, die ark en die wierookaltaar na binne gedra, en toe die ingang versper. Van sy metgeselle het gegaan om die pad te merk maar kon dit nie vind nie. Toe Jeremia daarvan te hore kom, het hy hulle berispe. “Die plek sal onbekend bly,” het hy gesê, “totdat God uiteindelik sy volk bymekaarmaak en genade aan hulle betoon. Die Here sal hierdie dinge weer aan die dag bring, en die glorie van die Here sal saam met die wolk verskyn, soos wat dit in die tyd van Moses gesien is, en toe Salomo gebid het dat die altaar waardig gewy sal word.” (2 Makkabeërs 4-10)

Die berg Nebo bly ’n gewilde plek vir onwettige uitgrawings alhoewel die Jordaanse regering hierdie bedrywighede probeer monitor.

Josephus en die verbondsark

Flavius Josephus (36-100 HJ) was ’n Joodse geskiedkundige wat Pompejus (106-48 VHJ) se beleg van Jerusalem in 63 VHJ beskryf het:

Maar van al die ellende wat die volk geteister het, was daar niks wat hulle so ontroer het soos hulle heilige plek, wat tot dusver deur niemand aanskou is nie, wat aan vreemdelinge blootgelê is; want Pompejus, en diegene wat hom vergesel het, het die tempel self binnegegaan, waar dit vir niemand buiten die hoëpriester wettig was om te gaan nie, en hulle het aanskou wat daar bewaar is: die kandelaar met die lampies, en die tafel, en die skinkbekers, en die vuurpanne, geheel en al uit goud gemaak, sowel as ’n groot hoeveelheid speserye saam opgestapel, met tweeduisend talente heilige geld. (Die oorloë van die Jode, 1. 7. 6.)

Die opvallendste uitlating in hierdie lys is die verbondsark. In die oorlog wat op die groot Joodse opstand van 66 HJ gevolg het, was Josephus in 70 HJ ook getuie van Jerusalem en die tempelkompleks se verwoesting deur die Romeinse Ryk. In ’n vaer beskrywing van die Romeinse keiser Titus (r. 79-81) se sege, lys Josephus die buit:

Maar van dít wat in die tempel van Jerusalem geplunder is, was dít die indrukwekkendste: die goue tafel, die gewig van baie talente, sowel as die kandelaar wat van goud gemaak is … en heel laaste van die buit is die wet van die Jode weggedra.” (Oorloë, boek 7:147-151)

Vandag staan Titus se segeboog in die Romeinse Forum. Die kandelaar (menora) is opvallend maar daar is niks wat met die ark ooreenstem nie. Die frase “die wet van die Jode” het egter tot latere – en voortgesette – teorieë bygedra dat die ark steeds in Rome versteek word.

Temple of Solomon Treasure, Arch of Titus
Skatte van Salomo se tempel, Titus se boog
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Waar is die verbondsark?

Onder die boekrolle van die Essene wat by Qumran ontdek is, is ’n unieke item wat as die “koperboekrol” bekend staan. In hierdie boekrol is die letters in koperblaaie ingeklink. Die boekrol lys 64 plekke waar goud en silwer versteek is. Soos wat met die ander rolle die geval is, is die beskrywings van die plekke soms in geënkodeerde taal wat dit moeilik maak om die ligging van die spesifieke plekke te ontsyfer. Sommige teorieë doen aan die hand dat die ark met die Romeinse beleg tydens die Joodse opstand versteek is en dat die koperboekrol moontlik ’n leidraad bied.

Die ark word slegs twee maal in die Nuwe Testament genoem. Die brief aan die Hebreërs (wat afwisselend na die 80's of 90's HJ teruggedateer word) voer aan dat Christus die ware hoëpriester is, met beskrywings van ’n hemelse tempel wat die ark insluit. In die visies van Johannes van Patmos in die boek Openbaring het hy die tempel in die hemel gesien “en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword” (Hebreërs 11:19).

Baruch is ’n apokaliptiese teks van die laat 1ste eeu HJ wat ná die verwoesting van die tempel geskryf is. Dit vertel die storie van engele wat voor die beleg neergedaal het om die tempelimplemente te red totdat die tyd van “herstel” aanbreek. Die aarde is beveel om dit “in te sluk” (6:7).

Benewens Rome en die berg Nebo is daar ook elders al na die ark gesoek. Die tempeliers – Europese ridders wat hulle aan die kerk gewy het – is tydens die Kruistogte georganiseer om as lyfwagte vir reisigers na die Heilige Land op te tree. Daar is stories dat terwyl die tempeliers op die Tempelberg in Jerusalem gebivakkeer het, hulle skatte ontdek het wat sowel die heilige graal as die verbondsark insluit. Sedert die ridders in 1307 verban en tereggestel is, het gerugte oor hulle oorlewing en hul skatte deur die eeue talryk toegeneem. ’n Gewilde teorie is dat hulle skatte by Rennes-le-Château in suidelike Frankryk geberg is, dat dit van daar na Skotland en daarna na die Verenigde State versend is waar hulle nakomelinge van die tempeliers die vrymesselaarsorde geword het.

Knights Templar
Tempeliers
Unknown Artist (Public Domain)

Een van die bekendste bewerings behels die Ethiopiese Ortodokse Tewahedo Kerk waarvolgens die ark in die Kerk van Onse Vrou Maria van Sion in die stad Aksum bewaar word. Die storie van die ark se reis van Jerusalem na Ethiopië word in hul heilige teks, die Kebra Nagast, vertel. Menelik I (10de eeu VHJ) was die stigter van die Ethiopiese Ryk. Volgens die bewering was hy die seun van Salomo en die koningin van Skeba, wat Jerusalem besoek het. Menelik is as Jood grootgemaak en het die hoofstad Jerusalem besoek en in ’n visie van dreigende verwoesting het hy die regte ark geneem en ’n replika gelos.

Ethiopië het ’n groot gemeenskap Jode gehad, waarvan die oorblywendes in 1991 tydens Operasie Salomo na Israel oorgevlieg is. Tydens die Middeleeue is die land egter na die Ortodokse Kerk bekeer. Maar die Ethiopiese kerk het die tradisies oorgeneem: Elke kerk het ’n tabot (boks) wat soos die ark lyk. Daar is ’n jaarlikse fees waartydens die priesters in ’n prosessie met die tabots op hul koppe stap. Een priester word gekies om die res van sy lewe die bewaarder van die kerk in Aksum te wees. Alle pogings om die ark te sien, is onvermoeid afgeweer.

Die Tempelberg en sinagoges vandag

Die oorspronklike terrein van die tempelkompleks rus op bodemrots, met baie tonnels in die rots ingegrawe. Die Tempelberg (met die altaar van die Rotskoepel) is egter in 1948 tydens die laaste dae van die Britse mandaat onder beheer van die moefti (die Moslemowerheid) geplaas. Die Moslemowerhede verbied alle argeologiese opgrawings in en om die Tempelberg in Jerusalem. Terwyl ’n tonnel in 1981 vanaf die westelike muur onder die Moslemwyk gegrawe is, is ’n deuropening na die kompleks ontdek. Toe nuus hieroor na die pers uitgelek het, is alle opgrawings gestaak. Die Tempelberg bly een van die mees sensitiewe areas vir sowel Jode as Moslems.

Mosaic of Temple Facade with Torah Ark
Mosaïek van tempelvooraansig met Tora-ark
Dana Murray (CC BY-NC-SA)

Sinagoges het ’n spesiale nis of plek vir ’n simboliese verbondsark. Dit is waar die Tora-boekrolle gehou word wat die leer van Moses en die profete bevat. Buite Israel is hierdie simboliese ark na Jerusalem gekeer. In Israel self is Yom HaAliyah (Aliyah-dag, oftewel “gaan op” soos in “gaan op na Jerusalem”) ’n nasionale vakansiedag wat die geleentheid vier toe Joshua die Jordaanrivier oorgesteek het en die verbondsark daardeur gedra is.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Rebecca Denova
Rebecca I. Denova, PhD is emeritus professor in Vroeë Christendom in die Departement Godsdienstige Studie aan die Universiteit Pittsburgh. Sy het onlangs ’n handboek, The origins of Christianity and the New Testament (Wiley-Blackwell), voltooi.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Denova, R. (2021, July 09). Die verbondsark [Ark of the Covenant]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-15237/die-verbondsark/

Chicago-styl

Denova, Rebecca. "Die verbondsark." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig July 09, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-15237/die-verbondsark/.

MLA-styl

Denova, Rebecca. "Die verbondsark." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 09 Jul 2021. Web. 27 Nov 2021.