Cicero

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$920 / $3000

Definisie

James Lloyd
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 15 January 2013

Oorspronklike teks in Engels: Cicero

Cicero (by Mary Harrsch (Photographed at the Capitoline Museum), CC BY-NC-SA)
Cicero
Mary Harrsch (Photographed at the Capitoline Museum) (CC BY-NC-SA)

Marcus Tullius Cicero was ’n Romeinse redenaar, staatsman en skrywer. Hy is op 6 Januarie 106 VHJ by óf Arpinum óf Sora, 70 myl suidoos van Rome, in die Volskiese berge gebore. Sy vader was ’n welvarende eques – ’n lid van die laer aristokratiese klasse in antieke Rome – en die familie was ver-af aan Gaius Marius verwant. Hy moenie met sy gelyknamige seun of Quintus Tullius Cicero (sy jonger broer) verwar word nie. Cicero het op 7 Desember 43 VHJ gesterf terwyl hy seelangs uit Rome probeer vlug het.

Vroeë jare en politieke loopbaan

Cicero is na Rome gestuur om die reg onder die Scaevolas bestudeer wat in hulle dae die ekwivalent van die Ciceros was. Onder Philo, wat aan die hoof van die Akademie by Athene gestaan het, sowel as onder Diodotus, het hy ook filosofie bestudeer. Cicero se vroeë jare is egter nie verskuil agter boeke en geleerdheid deurgebring nie, en op 17-jarige ouderdom het hy in die Oorlog van die Geallieerdes onder Pompejus die Grote se vader geveg. Dit was gedurende hierdie tydperk van politieke opskudding in Rome tydens die 80's VHJ wat Cicero sy formele onderrig voltooi het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

VAN 66-63 VHJ HET CICERO SE POLITIEKE SIENINGE AL KONSERWATIEWER GERAAK, VERAL TEENSTRYDIG MET DIE SOSIALE HERVORMINGS WAT DEUR JULIUS CAESAR VOORGESTAAN IS.

Maar dit beteken nie dat Cicero opgehou leer het nie. In 79 VHJ het hy Rome vir twee jaar verlaat en na die buiteland gereis met die doel om sy gesondheid te verbeter en verder te studeer. In Athene is hy deur meesterlike Griekse retorici en filosowe onderrig, en dit was in Athene wat hy ’n ander Romeinse student, Titus Pomponius Atticus, ontmoet het. Atticus het later Cicero se lewenslange vriend en korrespondent geraak. Terwyl hy in Rhodes was, het Cicero die bekende Posidonius besoek. Dit was gedurende hierdie tydperk wat Cicero met sy eerste vrou, Terentia, getroud is, en nadat hy in 77 VHJ na Rome teruggekeer het, is hy op die minimum ouderdom van 30 jaar tot quaestor verkies. Dinge het skynbaar vinnig gevorder maar nadat hy sy kwestuur by Lilybaeum deurgebring het, het hy Rome nooit weer met graagte verlaat nie. Sy weiering van provinsiale goewerneurskappe het daartoe gelei dat Cicero hom op regswerk toegespits het, waardeur hy sowel finansieel as polities gefloreer het. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die In Verrem; hierdie toespraak bevat ’n belangwekkende boodskap wat op huidige kwessies rakende kulturele erfenis en oorlog van toepassing is. In 69 VHJ was Cicero ’n aedile, ’n gekose amp in die Romeinse Republiek, en in 66 VHJ – weereens op die minimum ouderdom van 40 jaar – het hy ’n praetor geraak, ’n titel wat deur die regering van antieke Rome toegeken is.

Tussen 66 en 63 VHJ het Cicero se politieke sieninge al konserwatiewer geraak, veral teenstrydig met die sosiale hervormings wat deur Julius Caesar, Gaius Antonius en Catilina voorgestaan is. Cicero se sukses word gestaaf deur die feit dat hy – weereens op die minimum ouderdom (42) – van 63-62 VHJ die konsulskap ontvang het, en dat hy consul prior was – die konsul wat met die meeste stemme gewen het; daarbenewens was hy ook ’n novus homo. Dit was gedurende hierdie tyd wat Cicero die Catilinariese revolusie suksesvol oopgevlek het en onder gesag van die Senatus Consultum Ultimum die opstandelinge wat tot op daardie tydstip oorleef het, om die lewe laat bring het. Dit het daartoe gelei dat Marcus Cato na Cicero as pater patriae, oftewel “vader van sy land” verwys het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ballingskap en terugkeer na Rome

Dit was aan die einde van 62 VHJ wat Cicero vir die eerste maal Clodius se haat teen hom aangewakker het. Cicero se getuienis het Clodius se alibi gefnuik in ’n saak waarin hy beskuldig is dat hy soos ’n vrou aangetrek het om toegang te verkry tot die Bona Dea, ’n misteriegodsdiens waartoe slegs vroue toegelaat is. In 58 VHJ het hierdie saak by Cicero kom spook toe Clodius, wat as volkstribuun verkies is, ’n retrospektiewe wet ingestel het wat enige Romeinse burger wat ’n Romeinse burger sonder ’n verhoor tereggestel het, voëlvry verklaar het. Dit is redelik seker dat hierdie wet verband gehou het met Cicero se optrede tydens die Catilinariese opstand vyf jaar vantevore toe die opstandelinge – weens die dringendheid waarmee die opstand onderdruk moes word – sonder ’n verhoor om die lewe gebring is. In Maart 58 VHJ het Cicero Rome as banneling verlaat. Enige twyfel oor een of ander soort persoonlike motief deur Clodius word genegeer deur die feit dat Clodius toe verder ’n verordening uitgereik het waarin Cicero spesifiek vermeld word en wat hom verban, waarna Clodius op Cicero se eiendom op die Palatynse Heuwel beslag gelê en dit vernietig het. Die ballingskap was egter van korte duur. Pompejus, bygestaan deur die tribuun Milo, het hom beywer vir ’n volkswet wat Cicero sou terugbring; die wet is op 4 Augustus 57 VHJ goedgekeur.

Cicero Denounces Catiline
Cicero veroordeel Catilina.
Cesare Macari (Public Domain)

Cicero was die Eerste Triumviraat, en spesifiek Julius Caesar met sy beleide van radikalisering, nooit geneë nie. Desnieteenstaande was Caesar nog altyd redelik vriendelik teenoor Cicero en dit blyk dat toe die Eerste Triumviraat oorspronklik gestig is, Caesar voorstelle aan Cicero gemaak het met die moontlikheid daarvan om hom by die alliansie in te sluit. Dit was Cicero se beginsels wat enige sodanige moontlikheid verhoed het; hy was nie bereid om hom in enige politieke verhouding te begeef met iemand wie se sieninge so teenstrydig met sy eie was nie. In 56 VHJ, nadat die Eerste Triumviraat in April van dieselfde jaar hernu is, kan sy gevoelens steeds in briewe aan vriende gesien word waarin hy te kenne gee hoe sy trots verydel is nadat hy hierdie politieke situasie moes aanvaar.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Soos die politiek van die Romeinse Republiek in die 50’s VHJ verswaar het, het Cicero hom tot die neerpen van filosofie en retoriek gewend – moontlik as ’n manier om die situasies te hanteer waarmee hy te kampe gehad het. In 55 VHJ het hy De oratore, drie boeke oor retoriek, geskryf. In 54 VHJ is Cicero verder beledig deurdat die triumvirs hom gebied het om diegene wat sy vyande was, Vatinus en Gabinius, te verdedig (die Pro Vatinius was suksesvol maar die Pro Gabinius nie). Hy was platgeslaan toe sy verdediging van Milo, die man wat deurslaggewend in sy terugkeer na Rome was, misluk het en Milo verban is. In 53 VHJ kon Cicero se verkiesing tot augur hom net geringe vertroosting besorg.

Van 51-50 VHJ was Cicero verplig om die provinsie Cilicia te bestuur; toe hy na Rome terugkeer, was die stad op die rand van burgeroorlog, en toe dit uiteindelik in daardie afgrond af tuimel, het Cicero die stad weereens verlaat. Dit was eers in 47 VHJ toe Cicero en Pompejus ten einde laas hulle geskille uit die weg geruim het dat hy dit veilig geag het om na die stad terug te keer. Maar dinge het nie juis beter vir hom verloop nie; hierdie keer was dit eerder weens private as openbare redes. In 46 VHJ is Cicero van sy vrou Terentia, met wie hy 30 jaar getroud was, geskei. Hy is kort daarna met Publilia, wat sy beskermling was, getroud. Die volgende jaar het hy diepe smart ervaar toe sy dogter Tullia sterf, en die gebrek aan simpatie wat sy tweede vrou getoon het, het daartoe gelei dat hy ook van haar geskei het.

Latere lewe en geskrewe werke

Vir Cicero het sake vererger toe dit al duideliker geraak het dat Caesar nie die republikeinse grondwet weer gaan instel nie. Aangesien Cicero op die ou einde ’n grondwet ondersteun het wat misluk het, kon sy politieke loopbaan nie hou nie, en het hy hom tot skryfwerk gewend en van sy beste werke gelewer. In 45 VHJ het hy die Consolatio geskryf wat handel oor die afsterwe van vername manne, sowel as die Hortensius, ’n pleidooi om filosofie te bestudeer. In dieselfde jaar is ’n – nou verlore – lofrede aan Cato geskryf waarop Caesar self met die Anticato (ook skoonveld) gereageer het. Met die moord op Caesar in 44 VHJ was daar weereens groot politieke oproer in Rome; die begin van die Romeinse Ryk was besig om vorm aan te neem, en dit was hierdie verwikkelinge wat uiteindelik tot die gebeure van Cicero se teregstelling sou lei.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Cicero's De Officiis
Cicero se De Officiis
Henrykus (Public Domain)

Toe die Tweede Triumviraat tussen Octavianus, Lepidus en Marcus Antonius in werking getree het, was Cicero se naam – weens sy propaganda teen Antonius in die vorm van sy Philippics – op die eerste lys mense wat Antonius vir veroordeling bestem het. Terwyl Cicero die onvermydelike probeer ontsnap het, is hy deur Antonius se manne aangekeer, en het hy sy teregstelling moedig aanvaar. Sowel sy hande as sy kop is op die rostra in Rome ten toon gestel – ’n afgryslike einde aan ’n briljante man se lewe wat die brutaliteit van die politiek aan die einde van die Romeinse Republiek beklemtoon.

Met die dood van Cicero het sy nalatenskap ’n aanvang geneem. Dit sal baie moeilik wees om die invloed te oorskat wat Cicero op Westerse literatuur en kultuur gehad het. Daar is een storie wat miskien die beste illustreer van hoe belangrik Cicero beskou is. Dit word vertel deur Harry J. Leon wanneer hy die geskil bespreek tussen die naburige inwoners van Sora en Arpinum met betrekking tot albei se aanspraak op hul dorp as Cicero se geboorteplek:

Daar word beweer die wedywering tussen die twee dorpe het op ’n stadium so erg geraak dat die saak beslis moes word deur middel van ’n tweegeveg te perd tussen twee kampioene wat elk een van die dorpe verteenwoordig het. Met sy oorwinning het die ridder van Arpinum onweerlegbaar gedemonstreer dat dit God se oordeel was dat Cicero ’n boorling van Arpinum was en dit is aangekondig dat enigiemand wat andersins glo aan kettery skuldig is. (Leon)

Of hierdie storie waar is al dan nie, wys dit steeds dat Cicero as so belangrik beskou is, dat mense oor hom mekaar die stryd kon aansê. Moontlik is Cicero se werke wat oorleef die reguitste manier om sy invloed te waardeer. In hierdie definisie is daar slegs na ’n paar van sy werke verwys, maar daar was baie meer, onder meer briewe aan vriende en familie, byvoorbeeld die Epistulae ad familiares. Weens Cicero se posisie in die Romeinse samelewing dien die briewe as uitstekende historiese en kulturele dokumente van die tydperk, en dit help om vir ons buite die konteks van die regshof ’n insig te gee in die werking van Rome tydens die laat Republikeinse era. Allerhande dinge word in die briewe bespreek, van die aanskaf van Griekse kuns tot bruidskatte, egskeidings en sterftes. Ongelukkig is daar geen briewe uit die jaar van Cicero se konsulskap of die jaar daarvoor nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ten slotte

Cicero was ongetwyfeld die vernaamste redenaar van sy tyd, en dit strek hom tot krediet dat sy eerste toespraak wat steeds bestaan, gelewer is teen Hortensius, wat die roemrykste redenaar in Rome was totdat Cicero vir homself daar naam gemaak het. Dit is egter interessant om daarvan kennis te neem dat alhoewel Cicero ’n suksesvolle staatsman was, hy geen groot rol in die politieke onrus aan die einde van die Republiek gespeel het nie. Sy nalatenskap is baie kultureel van aard, veral die bydrae wat sy vertalings van filosofie op die ontwikkeling van Latyn gehad het. Om af te sluit, soos mev. Blimber in Dickens se Dombey and Son sê: “As ek Cicero kon ken, en sy vriend kon wees en tydens sy aftrede in Tusculum met hom kon praat … sou ek tevrede kon sterf.”

Bibliografie

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

James Lloyd
James' main area of research is ancient Greek music, but he has general interests in mythology, religion, and art & archaeology. A self-confessed philhellene, James keeps at least one eye on the Roman pie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Lloyd, J. (2013, January 15). Cicero [Cicero]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11710/cicero/

Chicago-styl

Lloyd, James. "Cicero." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig January 15, 2013. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11710/cicero/.

MLA-styl

Lloyd, James. "Cicero." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 15 Jan 2013. Web. 28 Nov 2021.