Die Persiese Oorloë

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 06 April 2016
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans
Greek Warships (by The Creative Assembly, Copyright)
Griekse oorlogskepe
The Creative Assembly (Copyright)

Die Persiese Oorloë verwys na die konflik tussen Griekeland en Persië in die 5de eeu VHJ wat twee invalle, in 490 en 480 VHJ, deur laasgenoemde behels het. Verskeie van die bekendste en deurslaggewendste veldslae in die geskiedenis is tydens hierdie oorloë geveg, onder andere dié by Marathon, Thermopylae, Salamis en Platea, wat almal met verloop van tyd legendaries sou word. Die Grieke was uiteindelik triomfantlik en hulle beskawing het behoue gebly. Indien hulle verslaan sou geword het, sou die Westerse wêreld moontlik nie blywende kulturele bydraes soos demokrasie, klassieke argitektuur en beeldhoukuns, die teater en die Olimpiese Spele van hulle geërf het nie.

Oorsprong van die Persiese Oorloë

Onder die bewind van Darius (r. 522-486 VHJ) was Persië besig om na kontinentale Europa uit te brei en teen die aanvang van die vyfde eeu VHJ het hulle reeds vir Ionië, Thracië en Macedonië tot onderhorigheid gedwing. Volgende in koning Darius se visier was Athene en die res van Griekeland. Presies wáárom Griekeland soveel deur Persië begeer is, is onduidelik. Rykdom en hulpbronne blyk onwaarskynlike motiewe te wees; ander, oortuigender voorstelle sluit die behoefte in om die aansien van die koning tuis te verhoog, of om eens en vir altyd ’n hoop potensieel lastige rebellestate op die westelike grens van die ryk te oorrompel. Die Ioniese rebellie, die offerande van aarde en water in onderdanigheid aan die Persiese satraap in 508 VHJ en die aanval deur Athene en Eretrië op die stad Sardis in 499 VHJ het ook nie vergete gebly nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Wat ook al die presiese motiewe was, in 491 VHJ het Darius weereens afgesante gestuur om ’n beroep op die Grieke te doen om hulle aan Persiese heerskappy te onderwerp. Deur die afgesante tereg te stel, het die Grieke hulle antwoord klinkklaar gegee, en Athene en Sparta het belowe om ’n bondgenootskap vir die verdediging van Griekeland aan te gaan. Darius se antwoord op hierdie growwe diplomatieke belediging was om ’n seemag van 600 skepe en 25 000 man te loods om die Siklade en Euboia aan te val, wat die Persiërs binne ’n hanetreetjie van die res van Griekeland gelaat het.

Greco-Persian Wars
Grieks-Persiese Oorloë
Kelly Macquire (CC BY-NC-SA)

Marathon

Darius het nie die inval van kontinentale Griekeland persoonlik gelei nie maar het sy generaal Datis in bevel van sy kosmopolitaanse leër geplaas. Darius se nefie Artafernes was onderbevelvoerder en het moontlik die Persiese kavallerie van 2 000 man aangevoer. Die totale sterkte van die Persiese leër was waarskynlik ongeveer 90 000. Die Griekse mag van slegs 10 000-20 000 – waarskynlik nader aan laasgenoemde getal – is deur óf Miltiades óf Kallimagos aangevoer. Die Persiese boogskutters se langafstandaanvaltaktiek sou te staan kom teen die Griekse infanterie, oftewel die hopliete met hulle groot ronde skilde, spiese en swaarde en georganiseer in ’n soliede linie of falanks waar elke man se skild sowel homself as die man langs hom in ’n brons muur beskerm.

Verwyder Advertensies

Advertisement

MET HULLE LANGER SPIESE, SWAARDER SWAARDE, BETER PANTSER EN DIE RIGIEDE DISSIPLINE VAN DIE FALANKSFORMASIE HET DIE GRIEKSE HOPLIETE ONDANKS ALLES ’N GROOTSE OORWINNING BEHAAL.

Toe die twee leërs in September 490 VHJ op die vlakte van Marathon slaags geraak het, moes die Persiese taktiek om die vyand teen ’n hoë tempo met enorme hoeveelhede pyle te bestook ’n indrukwekkende gesig gewees het om te aanskou, maar die ligte gewig van die pyle het beteken dat hulle merendeels ondoeltreffend teen die bronsgepantserde hopliete was. Op handgemeenafstand het die Grieke hulle senter uitgedun en hulle flanke verbreed om die vyandelike linies te omvleuel. Dít, en hulle langer spiese, swaarder swaarde, beter pantser en die rigiede dissipline van die falanksformasie het beteken dat die Griekse hopliete ondanks alles ’n groot oorwinning behaal het. Volgens oorlewering het 6 400 Persiërs omgekom, en net 192 Grieke. Oorwinningstoewydings en -standbeelde is opgerig en vir die Grieke het die Slag van Marathon in ’n japtrap die maaksel van legende geword. Intussen het die Persiese vloot terug gevlug na Asië maar hulle sou terugkeer en die volgende keer met selfs groter getalle.

Thermopylae

Koning Xerxes het binne ’n dekade sy voorganger Darius se visie voortgesit en in 480 VHJ het hy ’n enorme invalsmag gemonster om Griekeland weereens aan te val – hierdie keer deur middel van die pas by Thermopylae aan die ooskus. In Augustus van dieselfde jaar het ’n groepie Grieke wat deur die Spartaanse koning Leonidas gelei is, die pas drie dae lank verdedig maar het tot die laaste man gesneuwel. Terselfdertyd kon die Griekse vloot daarin slaag om die Persiese vloot by die onbesliste seeslag te Artemision af te weer. Saam het hierdie twee slae vir Griekeland die tyd gegun sodat haar stede hulself kon staal vir die groter uitdagings wat nog sou kom.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Spartan Warriors
Spartaanse krygers
The Creative Assembly (Copyright)

Salamis

Alhoewel die Griekse nederlaag by Thermopylae roemryk was, het dit die Persiërs in staat gestel om Griekeland binne te dring. Gevolglik het baie state aan die Persiërs oorgegee en Athene is self ook geplunder. In reaksie hierop het Leonidas se broer Kleombrotos ’n defensiewe muur naby Korinthe begin bou maar die winter het ’n einde aan die veldtog te land gebring. Die volgende kritieke skermutseling sou te see plaasvind.

In September 480 VHJ het die Grieke by Salamis in die Saroniese Golf weereens teen ’n vyandelike oormag te staan gekom. Daar word baie oor die presiese getalle geredekawel maar 500 Persiese skepe teen ’n Griekse vloot bestaande uit 300 vaartuie blyk die waarskynlikste skatting te wees. By Marathon het die hopliete die slagveld behou maar nou was dit die trireme – die vinnige en maneuvreerbare Griekse oorlogskepe aangedryf deur drie rye roeiers en met ’n bronsrammei toegerus – wat die middelpunt van belangstelling sou wees. Die Persiërs het ook trireme gebruik maar die Grieke het ’n troef agter hul hand gehou – die uitmuntende Atheense generaal, Temistokles. Met 20 jaar se ervaring en die selfvertroue van sy leierskap by Artemision, het hy ’n waagmoedige plan in werking gestel om die Persiese vloot by die eng seestrate van Salamis in te lok, en so hard op die vyandelik vloot toe te slaan dat hulle nêrens sal hê waarheen hulle kan terugval nie.

Greek Trireme [Artist's Impression]
Griekse trireem (kunstenaar se voorstelling)
The Creative Assembly (Copyright)

Temistokles het ’n grootse oorwinning behaal en die oorblywende Persiese skepe het die aftog na Klein-Asië geblaas. Die kriptiese orakel van Apollo te Delphi is reg bewys: “Slegs ’n houtmuur sal julle veilig kan hou.” En die houttrireme van die Grieke het hulle inderdaad goed van hul taak gekwyt, maar steeds was dit nie die einde nie. Daar sou nog een veldslag wees – die grootste wat nog óóit in Griekeland gesien is – en dit sou haar lot vir eeue daarna beslis.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Platea

Ná Salamis het Xerxes huiswaarts gekeer na sy paleis te Susa maar hy het die begaafde generaal Mardonios in beheer van die inval gelaat wat steeds op dreef was. Ongeag die nederlaag te see het die Persiërs nog ’n sterk posisie gehandhaaf: Hulle het steeds die grootste deel van Griekeland beheer en hulle groot landleër was ongeskonde. Ná ’n reeks politieke onderhandelinge het dit duidelik geraak dat die Persiërs nie deur middel van diplomasie ’n oorwinning op land sou behaal nie en in Augustus 479 VHJ het die twee opponerende leërs by Platea in Beotië mekaar die stryd aangesê.

Die Grieke het die grootste leër hopliete in die veld gestoot wat nog ooit gesien is. Ongeveer dertig stadstate het bygedra tot die leër wat om en by 130 000 man sterk was. Die Persiërs het oor ’n soortgelyke aantal troepe beskik – moontlik effens meer – maar weereens is daar geen presiese syfers waaroor vakkundiges ooreenstem nie. Alhoewel kavallerie en boogskutters wel ’n rol gespeel het, was dit weereens die meerderwaardigheid van die hopliete en die falanks wat die Grieke die veldslag laat wen het. Uiteindelik is daar ’n einde aan Xerxes se ambisies in Griekeland gemaak.

Nadraai

Benewens die oorwinning by Platea, het die Griekse vloot onder aanvoering van Leotugides by die Slag van Mukale in Ionië wat min of meer dieselfde tyd plaasgevind het, ’n leër aan land gesit wat die Persiese garnisoen daar uitgewis en die bevelvoerder Tigranes om die lewe gebring het. Die Ioniese state is weer as lede van die Helleense Bondgenootskap beëdig en die Deliese Volkebond is gestig om enige toekomstige Persiese aanvalle af te slaan. Voorts is Khersonesos wat die Swartsee, sowel as Bisantium wat die Bosporus beheer het, albei weer verower. Persië sou ’n bedreiging bly met skermutselings en veldslae wat oor die volgende 30 jaar af en toe in die Egeïese geweste plaasvind maar kontinentale Griekeland het haar grootste gevaar oorleef. In 449 VHJ is ’n vredesverdrag – waarna soms as die Vrede van Kallias verwys word – uiteindelik tussen die twee opponerende beskawings onderteken.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Dying Persian
Sterwende Persiër
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Alhoewel die Grieke se oorwinning hulle eufories gelaat het, is die Persiese Ryk geensins ’n nekslag deur hulle nederlaag toegedien nie. Trouens, Xerxes se plundering van Athene was waarskynlik voldoende om homself as terugkerende held voor te stel maar, soos wat die geval met ander oorloë is, is daar geen geskrewe rekords deur die Persiërs nie en derhalwe kan daar net oor hulle beskouing van die konflik gespekuleer word. Wat ook al die geval is, die Persiese Ryk het vir nog ’n 100 jaar daarna gefloreer. Vir Griekeland het die oorwinning egter nie net haar vryheid van buitelandse oorheersing gewaarborg nie maar het kort daarna ook ’n ongelooflike ryk tydperk van kunstige en kulture ondernemingsgees moontlik gemaak wat die kulturele grondslag vir alle toekomstige Westerse beskawings sou lê.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2016, April 06). Die Persiese Oorloë [Persian Wars]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-1003/die-persiese-oorloe/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Persiese Oorloë." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 06, 2016. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-1003/die-persiese-oorloe/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Persiese Oorloë." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 06 Apr 2016. Web. 14 Aug 2022.