Mithra

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 11 February 2020
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Turkse, Nederlands, Frans, Spaans, Persiese, Italiaanse
Mithra (by The Trustees of the British Museum, CC BY-NC-SA)
Mithra
The Trustees of the British Museum (CC BY-NC-SA)

Mithra was die Persiese god van die opkomende son, kontrakte, verbonde en vriendskap. Hy het ook toesig oor die ordelike wisseling van die seisoene gehou, kosmiese orde gehandhaaf en was daarvoor verantwoordelik om hemelse guns aan konings te verleen en sodoende hulle bewind te legitimeer; as beskermheer van die gelowiges het krygers hom ook voor ’n geveg aangeroep sodat hy as die god van oorlog begin bekendstaan het.

Hy was die bekendste en een van die gewildste gode van die panteon van die politeïstiese vroeë Irannese geloof, en verering van hom het voortgeduur nadat die monoteïstiese geloof Zoroastrisme die vroeëre geloofstelsel vervang het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hy word met die Vediese god Mitra verbind en word dikwels geassosieer met die Romeinse misteriekultus van die god Mithras wat ca. 100-400 HJ regdeur die Romeinse Ryk gedy het. Dit is egter twee verskillende godhede alhoewel Mithras losweg van Mithra afgelei is. Alhoewel daar al dikwels daarop aanspraak gemaak is dat die Romeinse Mithras en sy kultus die voorloper van Jesus Christus was en die model is waarop Christendom geskoei is, bestaan daar hoegenaamd géén geskiedkundige bewyse om die bewering te staaf nie.

MITHRA IS IMMER WAAKSAAM EN KAN NIE BEDRIEG WORD NIE, EN KEN DIE HART EN WARE BEDOELINGS VAN MENSE, EN HOU DIE MAGTE VAN DIE DUISTERNIS IN TOOM.

Mithra se naam is in inskripsies tydens die Achameniese Ryk (ca. 550-330 VHJ) aangeroep – hoofsaaklik tydens die bewind van Artaxerxes II (404-358 VHJ) – en tydens die Sassaniaanse Ryk (224-651 HJ) is daar steeds erkenning aan hom gegee. Nadat die Sassaniaanse Ryk in 651 HJ deur die Moslemse Arabiere binnegeval en oorgeneem is, is Zoroastrisme – onder meer aanbidding van Mithra – onderdruk en later het die Parse (ondersteuners van Parsisme, die laaste ontwikkelingsvorm van Zoroastrisme) die Zoroastristiese tekste en tradisies na Indië geneem waar die geloof onaangetas behou is. Mithra speel steeds ’n belangrike rol in hedendaagse Zoroastristiese rites waarin die tradisies van die antieke verlede bly voortbestaan.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Oorsprong, karakter en voorstelling

Mithra het een of ander tyd voor die derde millennium VHJ ontstaan toe trekgroepe wat nou as Indo-Irannese en Indo-Ariërs bekendstaan hulle onderskeidelik in die geweste van Iran en Noord-Indië begin vestig het. Gevolglik is daar ’n aantal ooreenkomste tussen die Vediese godhede en dié van die vroeë Irannese geloof, onder meer die Persiese Mithra en die Vediese Mitra.

Die Vediese Mitra (wat soms as Mitra-Varuna aangedui word) was die god van kontrakte en die sonsopkoms, vrugbaarheid in die vorm van reën en goeie oeste, sowel as die bewaarder van die waarheid. Die koppeling van Mitra aan Varuna verbind die god van die sonsopkoms met die magtige hemelgod Varuna, en na inbeelding het hulle ’n goue paleis met ’n duisend deure in die hemel bewoon waaruit hulle elke oggend met ’n glinsterende strydwa voortgery het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Persiese Mithra word in die Avesta (die Zoroastristiese heilige geskrif) beskryf as

Hy wat, van die hemelse gode, eerste oor die Hara [Alburzgebergte] heen reik, voor die onsterflike, vlugvoetige son; wat heel eerste in goue gewaad die pragtige pieke omklem, en van daar af met ’n goedgunstige oog die woonplek van die Ariërs [Irannese volke] betrag.

(Yasht 10.13, soos gesiteer in Curtis, 14)

Hy ry in ’n helder strydwa wat deur wit perde getrek word en bring die opkomende son saam met hom, is bewapen met ’n silwer spies, ’n boog en pyle van goud, dolke, byle en die knots wat sy rol simboliseer as bewaker van die kosmiese orde en die god wat koningskap legitimeer. Mithra is immer waaksaam en kan nie bedrieg word nie, en ken die hart en die ware bedoelings van mense, en hou die magte van die duisternis in toom. Hy is as die magtigste krag teen die demoonfors Angra Mainyu (ook bekend as Ahriman) beskou wat Mithra se knots meer as enige van die god se wapens gevrees het.

Mithra on Horseback
Mithra te perd
The Trustees of the British Museum (CC BY-NC-SA)

Zoroastrisme – en vermoedelik die vroeë Irannese geloof waaraan dit ontleen is – het op die konflik tussen die magte van die goeie en orde (aangevoer deur Ahura Mazda) en dié van die bose en chaos (onder leiding van Angra Mainyu) gefokus. Die hoofdoel van iemand se lewe was om te kies watter een van hierdie twee hy of sy sou volg, en dit was die verantwoordelikheid van gode soos Mithra om mense te help om die regte pad te kies en om hulle teen die leuens en lokvalle van die Bose Een te beskerm. Vakkundige John R. Hinnels (52) beskryf die kruks van Angra Mainyu se karakter soos volg:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Na bewering het die Bose Gees sowel “nielewe” (dit wil sê ’n bestaansvorm diametries gekant teen alles wat goed in die “werklike” lewe is) as die Ergste Ervaring geskep. Heel gepas vir ’n geloof wat nog altyd ’n waardering vir die goeie dinge in die lewe verkondig het, word die lot van bose mense as “’n plek met slegte kos” beskryf. Dit is die “Huis van die Leuen”. Volgens Zoroaster is die magte van die bose die kragte van Woede, Arrogansie en Slegte Voorneme. Hulle vernietig die Wêreld van die Waarheid, doen vee kwaad aan en beroof mense van die goeie lewe en onsterflikheid.

Teen hierdie magte was Mithra ’n gedugte verdediging. Dit was Mithra se verantwoordelikheid om die mensdom – en ter uitbreiding hiervan, ook hulle gewasse en vee – teen die arglis van Angra Mainyu te beskerm. Ten einde dit te vermag, was een van sy belangrikste pligte om koningskap te legitimeer om sodoende die farr (hemelse guns) aan ’n waardige monarg te verleen wat na sy mense sou omsien, en om die koning daardie guns te ontneem wanneer hy nie meer sy deel van die kontrak gestand gedoen het nie.

By die Chinvatbrug – die oorgang tussen die wêreld van die lewendes en die hiernamaals – het hy ook as regter van die siele van die dooies diens gedoen waar sy rekord van ’n siel se goeie en slegte dade gelees is en die siel se nadoodse bestemming bepaal het. Diegene wat Ahura Mazda gevolg het, het na die Huis van Sang gegaan terwyl dié wat die weg van Angra Mainyu gekies het, gestuur is na die bestemming wat hulle hul lewe lank omarm het – die Huis van Leuens.

Zoroastrisme en die Achameniese Ryk

Hierdie uitbeelding van die god en sy rol in die handhawing van orde spruit uit die Zoroastristiese tekste maar weerspieël vermoedelik sy posisie en verantwoordelikhede in die vroeë Irannese geloof. Nes Zoroastrisme was hierdie geloofstelsel ’n mondelinge tradisie en niks is tot en met die Sassaniaanse tydperk aangeteken nie. Derhalwe is dit moeilik om te begryp hoe Mithra deur die vroeë Irannese verstaan is, presies wátter dele van die Zoroastristiese tekste daardie vroeë begrip reflekteer, en watter dele deur Zoroaster se hervormings en die daarstelling van die nuwe geloof beïnvloed is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

MITHRA SOU BY OPELUG-VUURTEMPELS AANBID WORD WAAR EER AAN DIE ELEMENTE VUUR, LUG, AARDE EN WATER GEBRING IS.

Zoroaster was ’n priester (magi) van hierdie geloof wat een dag ’n visioen ontvang het dat die mense se geestelike begrip verkeerd was: Daar was nie al hierdie talle gode nie maar net een – Ahura Mazda – en dit was nou Zoroaster se plig om sy mense tot inkeer te bring. Zoroaster het dit gedoen en die nuwe geloof Mazdaïsme gestig wat later as Zoroastrisme bekend geword het, en die ou gode is opnuut as neerdalings (oftewel avatars) van die een ware god voorgestel.

Lank reeds is dit aanvaar dat die eerste koning van die Achameniese Ryk, Cyrus II (die Grote, r. ca. 550-530 VHJ), ’n Zoroastristiër was aangesien die geloof teen die tyd van sy bewind reeds stewig in die streek gevestig was. Maar dit is nie noodwendig die geval nie aangesien Cyrus die Grote se inskripsies wat na Ahura Mazda verwys net so maklik na die koning van die gode van die ou geloof, as na die een god van die nuwe geloof, kan verwys. Dieselfde geld vir Cyrus se opvolgers, Darius I (die Grote, r. 522-486 VHJ) en Xerxes I (r. 486-465 VHJ) wat op dieselfde manier na Ahura Mazda verwys. Darius I sluit selfs ’n verwysing na “die ander gode” in by sy bekende Behistun-inskripsie.

Die verbintenis tussen die Achameniese Ryk en Zoroastrisme word teruggespoor na Griekse en lateraan Romeinse skrywers en, hoewel die Achameniërs waarskynlik Zoroastristiërs was, is dit nie vir seker nie – of ten minste nie van die vroeë monarge nie. In die inskripsies van Artaxerxes II word Ahura Mazda, Anahita en Mithra gelys en word ’n beroep op hulle beskerming van Artaxerxes se bouprojekte gedoen; dit het vakkundiges in die verlede aangespoor om tot die slotsom te kom dat Zoroastrisme politeïsties was. ’n Akkurater vertolking sal egter wees dat Artaxerxes II óf nié ’n Zoroastristiër was nie, óf dat hy Ahura Mazda as die een ware god en Anahita en Mithra as beskermende neerdalings van die een godheid aangeroep het.

Fire Temple
Vuurtempel
Diego Delso (CC BY-SA)

Watter een dit ook al is, Mithra se status as die beskermer van orde en die alsiende god van geregtigheid het soos altyd voortgegaan. Nóg die vroeë Irannese geloof nóg Zoroastrisme het in tempels vir hulle gode geglo en het geglo dat die godhede te magtig was om beperk te word tot ’n woning wat deur mensehande gebou is. Derhalwe is dit glad nie ’n verrassing dat geen tempels vir Mithra tot dusver geïdentifiseer is nie (trouens, dit is meer verrassend dat daar so baie was wat duidelik met Anahita geassosieer word). Mithra sou soos enige van die ander gode aanbid word – by opelug-vuurtempels waar eer aan die elemente vuur, lug, aarde en water (gepersonifieer deur gode soos Atar, Mithram Haoma en Anahita) gebring is. Aanbidding van Mithra, of minstens wydverspreide verering van die god as ’n avatar, moes voortgeduur het want dit is deur die Silisiese seerowers – bestaande uit baie verskillende nasionaliteite – beoefen toe hulle ca. 66 VHJ deur Pompejus die Grote (106-48 VHJ) in Cilicia Campestris hervestig is.

Die Romeinse Kultus van Mithras

Dit is moontlik dat die Silisiese seerowers, wat na bewering een of ander vorm van Mithra-aanbidding beoefen het, die beweging geïnspireer het wat die gewilde Kultus van Mithras in Rome sou word. Romeinse soldate wat saam met Pompejus krygsdiens in Silisië verrig het, sou die basiese beginsels van Mithra-aanbidding opgetel en dit onder die legioene gewild gemaak het. Soos wat die geval is met enige ander teorie oor die oorsprong van die Kultus van Mithras, is die probleem dat niemand weet hóé of wáár die kultus begin het nie, hoe dit versprei het of selfs waarin die aanhangers geglo het nie.

Die aanspraak dat die Silisiese seerowers Mithraïsme beoefen het, kom uit Plutargus (24.5) se Lewe van Pompejus waarin hy meld dat die seerowers by Silisië daar sekere rites gevier het, waarvan dié van Mithras tot op hede voortduur, nadat dit eerste deur hulle ingestel is. Dit blyk dus ’n redelike afleiding te wees dat die geloofspraktyke van die seerowers deur die legioensoldate van Rome oorgeneem en van daar versprei is aangesien dit duidelik is dat die Kultus van Mithras uiters gewild onder die Romeinse leër was.

Statue of Mithras
Standbeeld van Mithra
Jade Koekoe (CC BY-NC-SA)

Aangesien dit egter onduidelik is wat die kultus se leerstellings was – of watter vorm die “geheime rites” van die Silisiese seerowers aangeneem het – kan Silisië nie vir seker aanvaar word as die punt waar Persiese Mithra in die Romeinse Mithras omskep is nie. Wat egter wel duidelik is, is dat daar beduidende verskille tussen die twee godhede, en hoe hulle aanbid is, bestaan.

Die Romeinse Mithras is ’n songod, bewaarder van kontrakte, orde en vriendskap – baie soortgelyk aan die Persiese Mithra – maar daar eindig die ooreenkomste. Hierdie karaktertrekke, soos al die ander aspekte van die kultus, is afgelei van fisiese bewyse in die vorm van mosaïekwerke, standbeelde en reliëfbeeldhoukuns, sowel as van Christenskrywers wat krities oor die geloof was. Die aanhangers self het niks neergeskryf nie aangesien hulle ingewydes in ’n misteriekultus was – ’n geslote godsdienstige groep wat hulle oortuiginge en rituele geheim gehou het – en nie daarin belanggestel het of toegelaat is om inligting met nie-ingewydes te deel nie.

In kunswerke word Mithras universeel uitgebeeld as ’n jongman wat die hemelse bul vel in ’n daad wat as simbolisering van die dood en hergeboorte vertolk word. Daar word ook uitgebeeld dat hy uit ’n klip gebore is en ’n fakkel vashou soos hy te voorskyn kom (waardeur sy rol as bringer van die lig beklemtoon word), of dat hy ’n pyl in ’n wolk (of klip) in skiet waarna water vrygestel word (vandaar die identifisering met die lewe of vrugbaarheid). Sy aanbidding het in die geheim geskied, in grotte of onderaardse tempels wat gebou is om soos grotte te lyk, en geen vroue is toegelaat om by die kultus aan te sluit nie. Niks van hierdie ikonografie of rituele het enigiets met die Persiese Mithra te doen nie. Nietemin, soos Hinnells (78) uitwys, het mense destyds die Romeinse Mithras met die Persiese god geassosieer:

Mithraïsme het onder tydgenote as die “Persiese misteries” bekend gestaan, en na Mithras self is daar as die “Persiese god” verwys. Sommige mense het die Mithraïtiese lering uitdruklik aan Zoroaster toegeskryf. Die Persiese oorsprong blyk deur van die besonderhede in die misteries bevestig te word; daar word byvoorbeeld herkenbaar Persiese woorde gebruik, en een van die sewe grade van inisiasie is dié van die Persiër.

Daar blyk geen twyfel te wees dat Romeinse Mithraïsme deur die Persiese Mithra geïnspireer is nie maar dit is nie dieselfde as om te sê daar is enige tipe voortsetting vanaf die vroeë Irannese geloof regdeur Zoroastrisme tot en met Romeinse Mithraïsme nie. Gegrond op argeologiese bewyse en vroeë Christelike kritiek van die kultus, was Mithraïsme astrologies van aard, en het dit op waarsêery, die verligting van mense se lewe en hergeboorte ná die dood gefokus. Ingewydes is deur ’n aantal beproewinge geplaas wat, sodra dit geslaag is, die aanhanger deur ’n hiërargie van sewe grade verhef is totdat hy die hoogste graad – dié van vader – bereik het wat as ’n verligte en beskermende priesterfiguur beskou is. Ingewydes het saam geëet, saam aanbid en Sondag as hulle sabbat geheilig. Laasgenoemde het een van die felste punte van kritiek deur Christenskrywers ontketen wat aangevoer het dat Mithraïsme die Christendom naboots.

Mithras en Jesus

In ’n interessante wending sou hierdie aanspraak eeue later omgekeer word toe Franse intellektuele die aanspraak gepopulariseer het dat die Christendom ’n nabootsing van Mithraïsme is, en dat Christus nooit bestaan het nie. Hierdie aanspraak is sedertdien in verskeie vorme herhaal maar die basiese argumente staan dat Mithras die model is waarop die latere skepping van die karakter Jesus Christus geskoei is en dat Mithras, soos die “latere Jesus”, op 25 Desember van ’n maagd gebore is, deur magi besoek is, twaalf dissipels gehad het, ’n laaste avondmaal gevier en aan ’n kruis gesterf het. Maar nie een van hierdie aansprake het hoegenaamd enige verdienste nie.

Die sogenaamde Christusmiteteorie is in die 18de eeu deur twee Franse akademici – Charles Francois Dupuis (1742-1809) en Constantin Francois Chasseboef de Volney (1757-1820) – gepopulariseer. Dupuis was ’n professor in die retoriek aan die College de Lisieux, Parys en De Volney was ’n filosoof en oriëntalis. In die heethoofdigheid van die Franse Revolusie van 1789 het baie oproermakers die Christendom – en veral Katolisisme – as mite veroordeel wat die opkoms van die hoërklasse ten koste van die laerklasse aangemoedig het. Dupuis se Origene de Tous les Cultes van 13 volumes wat in 1794 verskyn het (en in 1872 weer in Engels as The origin of all religious worship uitgegee is), het die aansprake wat hierbo gelys word, sowel as baie ander, tot gewildheid verhef maar dit was alles verdigsels van skrywers wat teen die Christendom gekant was en hulle eie pro-Revolusionêre agenda wou bevorder.

Head of Mithras
Mithra se kop
Carole Raddato (CC BY-SA)

Trouens, daar is geen bewys dat Mithras – óf Jesus – op 25 Desember gebore is nie. Mithras word uitgebeeld dat hy met sy geboorte uit ’n klip te voorskyn kom, en word nooit as ’n baba uitgebeeld nie, en word nooit op enige manier met ’n maagdelike geboorte of ’n besoek deur enige magi geassosieer nie. Mithras word nooit saam met enige dissipels uitgebeeld nie, het geen “laaste avondmaal” gevier nie en het nie aan ’n kruis gesterf nie; trouens, daar is geen uitbeelding van Mithras se afsterwe nie.

Die feit dat die aansprake van Dupuis en De Volney blatante leuens was, het nie voorkom dat dit sedert die 1872-publikasie tot en met die hede herhaal word deur geleerdes en skrywers wat teen die Christendom gekant is nie. Onlangs het hierdie verdigsels in gewildheid toegeneem weens Zeitgeist: The Movie (2007) waarvan deel I gegrond is op die boek The Christ conspiracy: The greatest story ever sold deur Acharya S (skuilnaam van Dorothy Milne Murdock, 1960-2015), sowel as die minagtende dokumentêr Religulous (2008) waarin die komediant Bill Maher hierdie aansprake as voor die hand liggende en goed gevestigde waarhede verkondig.

Ten slotte

Soos vroeër gemeld, het verering van die Persiese Mithra tot in die Sassaniaanse tydperk voortgeduur teen welke tyd die geloofstelsel Zorvanisme (waarna dikwels as ’n kettersekte van Zoroastrisme verwys is) goed gevestig was. Zorvanisme het aangevoer dat Zorvan – Oneindige Tyd – die oppergod was, en dat Ahura Mazda en Angra Mainyu albei geskape wesens was. Dit in ag genome, was al die ander gode ook geskape wesens wat hulle op byna gelyke voet met Ahura Mazda bevind het, en kon hulle dus as godhede in eie reg aanbid word.

Die profeet Mani (216-274), stigter van die geloof Manicheïsme, het as gas aan die hof van die Sassaniaanse koning Shapur I (r. 240-270) vertoef en het – soos wat waarskynlik die geval met die grootste deel van sy geloof was – sy konsep van die Manicheaanse Mithra daar ontwikkel. In Manicheïsme word Mithra as redderfiguur vertolk, die bringer van lig en orde, en sodoende word twee van sy vroeëre bekende essensiële karaktertrekke behou.

Nadat die Sassaniaanse Ryk in 651 deur die Moslemse Arabiere ingeval en oorgeneem is, het die Parse die Zoroastristiese tekste wat nie deur die invallers vernietig is nie, geneem en na Indië gevlug. Daar het hulle hul eie gemeenskap gevestig wat gefloreer het, en tot vandag toe word Mithra in hulle geloofsrituele vereer. Wanneer ’n Zoroastristiese priester ingewy word, ontvang hy Mithra se knots wat sy verantwoordelikheid simboliseer om teen die magte van die bose en die duisternis te veg.

Die fees van Mithrakana (ook bekend as Mithragan) word jaarliks met die herfsnagewening ter ere van Mithra gehou, en die gepaste benaming vir ’n hedendaagse Zoroastristiese tempel is dar-I Mihr, die “poort van Mithra”. Net soos wat in die verlede die geval was, bly Mithra tot vandag toe ’n simbool van lig en orde wat van hom een van die oudste gode in die wêreld maak wat 4 000 jaar lank ononderbroke in basies dieselfde rol vereer is.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2020, February 11). Mithra [Mithra]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-10029/mithra/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Mithra." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig February 11, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-10029/mithra/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Mithra." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 11 Feb 2020. Web. 01 Jul 2022.